Foto: mentatdgt | Pexels



9 Wenke deur professionele personeelwerwers in die tyd van Covid-19

Woensdag | 02 September | 2020

Deur Essie Bester

Voor die koms van die koronavirus en die gepaardgaande afsonderingstydperk het byna een uit elke drie Suid-Afrikaners nie ʼn werk gehad nie. Daar word nou gereken dat die werkloosheidskoers kan toeneem van 29,1% tot 50%.

Gegewe die skrikwekkend hoë werkloosheidsyfer, is dit belangrik om soveel moontlik oor die arbeidsmark te leer en maniere te ondersoek om jouself in ʼn stampvol veld te laat uitstaan.

Professionele personeelwerwers soos Ed Han (ʼn talentwerwer by ʼn top- finansiëlediensteorganisasie) en nog ʼn paar ander, bied slim insigte en waardevolle raad wat daarop fokus om mense in hierdie tyd te help in hul soektog na werk.

Hul raad aan diegene wat nuut werkloos is of besorg is oor die veiligheid van hul huidige werk, is die volgende:

“Daar is tans ʼn groot hoeveelheid mededinging as gevolg van rasse-uitsluiting. Die kompetisie is taaier as ooit,” sê Han. Vind uit hoe ander met dieselfde postitel as jy oor hulself praat. Gaan na Indeed.com, doen ʼn soektog na jou werktitel en industrie, en kyk wat jou opponente met hul CV’s doen. Let op hoe hulle hulself posisioneer en hul talente, vaardighede en ervaring uitbeeld. Besluit dan wat die beste vir jou sal werk.

Video-onderhoude is nou standaard. Han sê dat kandidate navraag moet doen oor die stelsels wat deur ondernemings gebruik word. Installeer die nodige sagteware op jou foon of rekenaar en doen proeflopies om te verseker dat jy alle foute uitskakel. Só is jy gereed en meer selfversekerd wanneer die groot onderhoudsdag aanbreek.

Dawn Graham spesialiseer in loopbaanskuiwe. Sy sê dat jy vooraf jou onderhoudsomgewing moet opstel vir die video-onderhoud. Dit verg ekstra voorbereiding en ʼn kan groot impak op die uitkoms hê. Oorweeg beligting, verbinding, klankgehalte, agtergrondgeraas sowel as die visuele agtergrond en videohoeke. Heel moontlik maak dit deel uit van jou evaluering, aangesien jy waarskynlik in jou nuwe rol gereeld van videotegnologie gebruik sal moet maak om te kommunikeer.

Jou leierskap, kreatiwiteit en aanpasbaarheid tydens ʼn krisis gaan hiervolgens beoordeel word. Beskryf die nuwe vaardighede wat jy ontwikkel het, relevante aanlynkursusse wat jy voltooi het en/of vrywilligerspogings in jou gemeenskap waaraan jy deelgeneem het. Moenie die geleentheid opmors deur nie vooraf aan jou antwoord te dink nie.

Dis van kritieke belang om ʼn sterk netwerk van enersdenkende professionele persone te kweek wat jou kan help om die regte kontakte te vind by die ondernemings waarvoor jy graag wil werk.

LinkedIn kan tot jou voordeel benut word deur eerder die volgopsie as die verbindopsie op LinkedIn te kies, sê Andy Foote, ʼn gerespekteerde LinkedIn-kundige. Op dié wyse neem jy makliker beheer oor met wie jy wil skakel.

Loopbaanafrigter Sarah Johnston raai jou aan om ʼn tydelike posisie te aanvaar indien jy werkloos is, selfs al is dit benede jou vlak van kundigheid en ervaring.

Niemand weet hoe die toekoms gaan lyk nie. Jy kan onmoontlik voorspel wanneer en óf daar volgende week, volgende maand of oor ʼn jaar ʼn gepaste posisie beskikbaar sal wees. Dit is verstandig om ʼn werkaanbod te aanvaar wat as ʼn brug kan dien en moenie as loopbaanselfmoord beskou word nie.

Dit kan jou bui positief beïnvloed, jou uit die huis laat kom en jou ʼn inkomstebron gee wat jou meer tyd gun om die regte werk te vind. ʼn CV-skrywer kan jou help om gapings aan te spreek en ʼn posisioneringstrategie te ontwikkel.

Volgens Kenneth Lang, ʼn LinkedIn-fasiliteerder en sakeontleder, is daar niks erger as om aansoek te doen om ʼn werk wat nie regtig beskikbaar is nie. Daar word na verwys as die bou van ʼn talent-pyplyn.

Die posadvertensie lok werksoekers om aansoek te doen om ʼn pos wat tans nie beskikbaar is nie. Die werwers gebruik die aansoeke om ʼn poel gekwalifiseerde kandidate te skep wat op ʼn latere datum onlangs ontruimde of nuutgeskepte poste kan inneem.

Wees proaktief deur vooraf uit te vind wanneer die werk beskikbaar sal wees en of dit ʼn nuwe of ʼn bestaande geleentheid is.

Dis belangrik om ook aan jou ingesteldheid en houding te werk, waarsku loopbaanafrigter Phyllis Mufson, wat reken die meeste werksoekers voel oorweldig.

“Mense wat hul werk verloor het en nou na werk soek, het te doen met gevoelens van hartseer en trauma terwyl hulle lang periodes van spanning moet hanteer – iets wat energie kan dreineer en die soeke na werk kan bemoeilik.”

In tye soos dié is dit vir werksoekers maklik om hulle oor te gee aan mikroverslawings wat hulle van die werklikheid kan laat vergeet. Dit kan wissel van te veel Netflix kyk terwyl jy gemorskos eet, tot te veel alkohol inneem of selfs die gebruik van dwelms.

Fokus eerder op goeie gewoontes. Verdubbel jou selfversorgingsroetine. Probeer byvoorbeeld twintig minute se joga as jy normaalweg tien minute per dag daaraan afstaan. Dieselfde geld vir enige ander positiewe produktiewe uitlaatklep.

Dis maklik om vertroue te verloor wanneer jy CV’s uitstuur en lang aansoeke invul, net om nooit van die maatskappye te hoor nie. Wanneer negatiewe gevoelens begin insluip, moet jy jou vorige oorwinnings en suksesse onthou. Só flous jy jou brein en help dit jou om weer energiek te voel.

Hou op om jouself af te vra waarom jy ontslaan is of waarom jy nie die pos gekry het nie. Fokus eerder op ʼn oplossingsbenadering deur te vra wat jy volgende keer beter kan doen en maak seker dat jou LinkedIn-profiel en CV jou prestasies weerspieël op ʼn manier wat jou waarde illustreer.

Bronne

https://www.forbes.com/sites/jackkelly/2020/07/14/smart-actionable-advice-from-top-linkedin-career-and-job-search-professionals/#77cd1e9f2a4f

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/werkloosheidsyfer-bly-n-kopseer/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/dlamini-zuma-werkloosheid-kan-tot-50-styg/

https://www.forbes.com/sites/dawngraham/2020/06/09/3-major-changes-to-job-interviews–you-need-to-prepare-for/#21a2fffe2c6c

Besoek webwerf