Afrikaanssprekendes sê: Ons taal is ’n loopbaanbate!

Vrydag, Mei 27th, 2016

Eugene Brink

 

Een van die grootste foute wat baie Afrikaanse mense maak, is om te dink Afrikaans is ’n las op hulle of hul kinders en dat dit hulle minder bemarkbaar maak vir werk.

Solidariteit Wêreld het daarom met mense in verskeie sektore gepraat om te hoor wat Afrikaans al vir hulle in hul loopbane beteken het. Hul antwoorde en uiteenlopende ervarings dui onteenseglik daarop dat Afrikaans g’n meulsteen om sy sprekers se nek is nie en in der waarheid vir jou nuwe loopbaangeleenthede oopbreek. Trouens, soms sal ’n gebrek aan Afrikaans deure vir jou toemaak en daar hoef geen kompromis tussen Afrikaans en Engels te wees nie.

Nie net sit Afrikaans kos op die tafel nie, maar bied ook ontsaglike werktevredendenheid aan sy sprekers omdat hulle geborge binne hul gemeenskap en werkplek kan voel en hulself kan verwesenlik deur in hul moedertaal te kommunikeer en werk.

Lees dus voort en raak geïnspireer.

 

‘Afrikaans nie bloot ‘n kommunikasiemiddel’ 

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van die Afrikaanse nuusportaal Maroela Media, sê sy is bevoorreg om al by twee maatskappye te gewerk het wat basies Afrikaans is. “Die feit dat ek nie net Afrikaanssprekend is nie, maar ook ʼn passie vir Afrikaans het, het dus in wese daarvoor gesorg dat ek by beide maatskappye ʼn werksgeleentheid kon kry. Die Afrikaanse mediaomgewing en vermaakbedryf is klein en almal ken mekaar, of weet van mekaar. Hierdie netwerk help my om elke dag my werk suksesvol te doen. As die bedryf groter was, sou daar beslis nie so ʼn mate van intimiteit en wedersydse ondersteuning gewees het nie.”

Volgens haar het Afrikaanssprekendes ʼn ander ingesteldheid teenoor hul taal as die sprekers van enige ander taal wat sy al teëgekom het. “Vir Afrikaanssprekendes is hul taal nie bloot ʼn kommunikasiemiddel nie – dis iets wat deel is van hul identiteit en waaroor hulle passievol is. Hierdie toewyding aan hul taal het tot gevolg dat hulle kwels bereid is om te help, gratis te skryf, boeke of ander produkte weg te gee, ondersteuning te gee of fondse by te dra waar dit nodig is, solank dit ter wille van Afrikaans of Afrikaanssprekendes is.”

 

‘Verstaanbare taal’

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof by Afriforum en kultuurliefhebber, het al verskeie werke gehad en in elkeen was Afrikaans onontbeerlik. Haar eerste werk was as kultuurhistoriese navorser en sonder Afrikaans sou sy nie haar werk kon doen nie. “My spesialisveld was die tydperk tussen 1652 en 1806 aan die Kaap. My kennis van Afrikaans het my in staat gestel om argiefdokumente van die vroegste tye af te kon ontsluit – ook agtergrondsbronne in Nederland. Dit sluit dokumente in soos die dagregisters van die Nederlandse goewerneurs aan die Kaap, boedelinventarisse, hofrekords en ander dokumente wat ʼn blik gee op die vestiging en aard van die Kaapse gemeenskap in dié tyd.

“Sonder ʼn baie deeglike en omvattende kennis van Afrikaans, sou die argaïese Nederlands vir my totaal ontoeganklik gewees het.  Vir ʼn historikus is die gebruik van primêre bronne, met ander woorde oorspronklike dokumente, noodsaaklik.  Verder moes ek baie publiseer en referate aanbied – in beide Afrikaans en Engels. Weer het ʼn stewige basis wat in Afrikaans gelê is, my in staat gestel om feite en argumente in verstaanbare taal vir alle gehore – van laerskoolkinders tot internasionale historici – aan te bied.

Haar tweede beroepslewe was as migrasiekundige wat immigrante uit nie-Engelssprekende lande in Suid-Afrika moes help inburger. “Daar het my Engels my ook min gehelp en kon ek juis weens my Afrikaanse agtergrond maklik by mense uit nie-Engelssprekende lande aanklank vind – insluitend Suid-Amerikaners, mense van die Europese vasteland en Asië, asook mense uit nie-Engelssprekende Afrikalande.  Dit was verrassend om te beleef hoe Afrikaanse woorde op onverwagte tye deur Skandinawiërs en selfs mense van Maleisië herken word!”

Sy werk tans met taalregte en meer spesifiek met Afrikaanse taalregte, en uiteraard is ʼn Afrikaanse agtergrond noodsaaklik. “Ook in skakeling met internasionale kontakte in Europa is Afrikaans vir my van veel meer waarde as Engels. In Desember 2015 het ek byvoorbeeld ʼn referaat oor onderwys, taal en kultuur in Suid-Afrika by die Universiteit van Leuven se Antwerpenkampus in Vlaandere  in Afrikaans aangebied en die gehoor het geen probleem gehad om my te verstaan nie. Inteendeel, hulle het die Afrikaanse segswyses verfrissend gevind!”

 

‘Waar ons leef, hoop en glo in Afrikaans’

Esmarie Prinsloo, joernalis en omroeper by Pretoria FM, sê sy is tot vandag toe dankbaar dat sy in Afrikaans kan werk. “Ek was vir ses jaar ‘n televisieverslaggewer vir die Afrikaanse nuusbulletin by die SAUK omdat ek in Afrikaans kan werk, en verslag kan doen in my taal. Afrikaanssprekers is regtig belangrik in die werksplek omdat baie Suid-Afrikaners verkies om in Afrikaans bedien te word.

“Dit was byvoorbeeld vir my voordelig om onderhoude te kry met diegene wat Afrikaans praat omdat hulle eerder met ’n Afrikaanse joernalis hul hart sou deel as met ’n Engelsspreker. As gevolg van alles van die taal en grammatika wat ek by die Afrikaanse lessenaar van die SAUK geleer het, is ek vandag ’n joernalis wat goed is met taal, kan ek taalpraktisynwerk behartig en kan ek uitsaai in suiwer Afrikaans.

“Ek werk nou by Pretoria FM, waar ons leef, hoop en glo in Afrikaans, en dit is die grootste voorreg om as jong Afrikaansspreker in suiwer Afrikaans my bydrae tot ons pragtige taal te kan maak.”

 

‘My loopbaan is afhanklik van Afrikaans’

Solette Swanepoel, uitgewer van kinder- en jeugboeke by Lapa Uitgewers, sê Afrikaans is nie net ‘n iets wat sy in haar loopbaan gebruik nie, dit is baie nou verweef met haar loopbaan. “As ‘n uitgewer van Afrikaanse kinderboeke is my loopbaan afhanklik van Afrikaans. By die werk lees, skryf en kommunikeer ek in Afrikaans – tensy ek met oorsese uitgewers kommunikeer.

“Afrikaans gee my die geleentheid om wyer as my eie taal te lees (in Engels en in Nederlands) en om vertalings te behartig. Ek is redelik seker ek sou nie laasgenoemde vaardigheid gehad het as ek Engelssprekend was nie. Om meer as een taal magtig te wees, verbreed beslis my perspektief. En ek is dankbaar daarvoor.”

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55