Deur dr. Eugene Brink
Aftrede is waarskynlik een van die grootste gebeurtenisse in ʼn mens se lewe. En tog is soveel mense op talle vlakke heeltemal onvoorbereid daarvoor.
Baie mense neem nie in ag dat jy baie dinge wat altyd vir jou bekend was, ewe skielik moet prysgee nie. Dit kan lei tot erge verveeldheid of selfs depressie namate gevoelens van nutteloosheid en betekenisloosheid posvat.
Dit is daarom nodig dat jy op ʼn emosionele, finansiële en selfs sosiale vlakbaie seker moet wees van wat jy na aftrede wil doen en dan daarvoor beplan en dit uitvoer.
“Die sleutel daartoe om ʼn aktiewe, bevredigende en gelukkige aftrede te geniet, behels meer as om net voldoende spaargeld te hê. Dit behels ook interessante ontspanningsqaktiwiteite, kreatiewe projekte en psigiese en fisieke welstand,” sê Ivory Johnson, stigter van Delancey Wealth Management en finansiële bydraer tot CNBC.
Hy sê daar is gelukkig ʼn aantal lewensvatbare oplossings wat dalk enige geldelike tekort kan aanvul, wat insluit deeltydse werk wat met jou loopbaan verband hou. ʼn Leerkrag kan byvoorbeeld ekstra klasse in ʼn vak aanbied. ʼn Wetenskaplike kan dalk by ʼn skool, kollege of universiteit deeltyds klasse aanbied of help met die opstel en verandering van die kurrikulum.
“Baie van ons het stokperdjies en passies terwyl ons nog werk. Hulle kan sowel aanvullende inkomste as toegang tot ʼn sosiale netwerk van soortgelyke mense bied. Indien jy tuinwerk geniet, neem jou voor om deeltyds by ʼn kwekery te werk ʼn ruk voordat jy jou werk los,” sê Johnson.
Dit verskil vir mans en vroue
Johan en Helena Lourens is ʼn paartjie van die Wes-Rand wat al etlike jare afgetree is en hulle het talle wenke oor hoe om jou in jou goue jare uit te leef.
Johan sê die grootste gedeelte (50–75%) van jou emosionele voorbereiding vir aftrede is afhanklik van suksesvolle finansiële voorbereiding. “Die res is om jou kop ʼn geruime tyd voor aftrede in rat te kry met betrekking tot wat jy ná aftrede gaan doen. Jy moet jou passies en sterkpunte identifiseer en dan daarmee te begin sodat jy ná aftrede soomloos daarmee kan voortgaan. Dus, jy moet verkieslik reeds daarmee besig wees voordat jy aftree.”
Hy verwys na Paul Tournier, ʼn Switserse pastorale sielkundige, se raad in sy boek Learning to grow old. “Die ‘hoogste goed’ wat jy ná aftrede gaan doen, behoort ʼn element van teruggee aan die gemeenskap te bevat, hetsy deur ʼn kerklike of ander sosiale instelling.” Dit gee immers jou eie lewe betekenis en bevrediging deur andere te help en só iets terug te gee.
Johan maak twee praktiese voorstelle: om byvoorbeeld jou houtwerkstokperdjie te gebruik om speelgoed vir minderbevoorregte kinders te maak; of as jy ʼn prokureur is, pro bono-werk vir behoeftige mense te doen of net jonger prokureurs te bemagtig en te mentor.
Volgens Helena is daar ʼn wesenlike verskil tussen die aftrede van ʼn man en dié van ʼn vrou. “In my geval, as ʼn vrou, het ek my plek volgestaan as ma en tuisteskepper afgesien van my daaglikse beroep by ʼn staatsdepartement.
“Wanneer aftrede bereik word, is dit dan nie so ʼn radikale omwenteling nie gesien in die lig van emosionele gereedheid vir aftrede. Jy was dan reeds vir geruime tyd voor die aftreedatum besig om jou daaglikse beroep vaarwel toe te roep en 100% terug te val op jou rol as tuisteskepper, ouma, ensovoorts.”
Sy sê sy kon toe weer aandag gee aan aspekte waarvoor sy tydens haar beroepsjare nie meer tyd gehad het nie, soos naald-, brei- en bakwerk. “Jy het ook baie meer tyd om te lees en om jou uit te leef in tuinwerk. Jou hulp met sekere take by die kerk maak ook ʼn groot verskil.”
Sy is dit eens met Johan dat die belangrikste aspek vir suksesvolle aftrede finansiële gereedheid is. “Dit verg egter voorbereiding vanaf jou eerste salaristjek. Onthou, as jy finansieel gereed is, sal jou emosionele gereedheid ʼn geweldige hupstoot kry.
“As jy ʼn pos beklee waar jy tot ʼn pensioenfonds bydra, is dit ʼn groot pluspunt. Maar glo my, jou finansiële mandjie by aftrede moet veel meer produkte bevat as bloot ʼn pensioenfonds om sodoende dieselfde lewenstyl as voor aftrede te handhaaf.”
Sy noem hierdie “ekstras” dan op: spaarplanne oor ʼn baie lang termyn, aftreeannuïteite, polisse, beleggings in en verhuring van eiendom (bykomend tot jou woonhuis). “By aftreedatum moet alle skuld op jou eiendom, motors, ensovoorts afbetaal wees. Klererekeninge behoort gesluit te wees. ʼn Kredietkaart behoort ook glad nie gebruik te word nie, maar kan by enkele uitsonderings gebruik word tydens buitelandse reise aangesien kredietkaartbetalings wêreldwyd aanvaar word. Geweldige geldelike dissipline moet gehandhaaf word betreffende kredietkaartbesteding indien dit enigsins gedoen moet word.”
Sy sê by aftrede behoort groot bedrae aftreegeld nie bestee te word aan ʼn buitensporig duur voertuig of ʼn “huisie by die see” nie. “As ’n huisie-by-die-see-droom wel bestaan het, moet die huis reeds voor aftrede afbetaal wees. Onthou om steeds te bly spaar ná aftrede vir byvoorbeeld vakansies, geskenke en onvoorsiene uitgawes. So ʼn noodfonds is noodsaaklik.”
Verwag om langer te lewe
Die finansiëledienstemaatskappy Old Mutual wys uit dat, in ag genome die huidige en toekomstige vordering in tegnologie en medisyne, mense kan verwag om al hoe langer te lewe, en dit het uiteraard implikasies vir jou pensioen en leefstyl. Dit beteken jy sal voorsiening moet maak vir nog 20 tot 25 jaar indien jy op 65 aftree.
Enersyds sal jou voertuig en huisverband waarskynlik afbetaal wees, sê Old Mutual, maar andersyds moet jy gereed wees vir gesondheidsuitgawes omdat ouer word gepaard gaan met ongewenste siektes. Jy moet ook nog steeds jou elektrisiteit betaal, asook kruidenierware koop.
Bronne
Ivory Johnson, 18 Maart 2019, “A happy retirement is more than just money”, https://www.cnbc.com/2019/03/18/a-happy-retirement-is-more-than-just-money.html.
Old Mutual, 2019, “Retirement”, https://www.oldmutual.co.za/personal/retirement-planning.
Oops! We could not locate your form.