Deur Dr Eugene Brink
Ondanks ’n steeds groeiende aantal meesters en doktorale studente, is Suid-Afrika se slaagsyfer van minder as 15% per jaar vir hierdie studente van die laagste ter wêreld.
Daar is baie en uiteenlopende redes hiervoor. Sommige is uniek aan Suid-Afrika (soos die algemene swak toestand van openbare skole en basiese onderwys), maar ander is toenemend universeel (soos die massifiseering van hoër onderwys). Dit beteken dat die hoë doelwitte, soos uiteengesit in polisiedokumente soos die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys, om baie meer doktorale gegradueerdes op te lewer, ’n hersenskim bly.
Een van die redes hiervoor is beslis die verhouding van nagraadse studente tot studieleiers.
Johann Mouton van die Universiteit van Stellenbosch het in ’n akademiese artikel oor hierdie onderwerp daarop gewys dat die aantal studente in die 21ste eeu aansienlik toegeneem het. Die meerderheid van studente (82%) is voorgraadse studente, maar doktorale studente is verantwoordelik vir die hoogste jaarlikse groeikoers oor alle vlakke heen (5,4%).
Die universiteite in Suid-Afrika, soos in vele ander lande byvoorbeeld die VSA en die Verenigde Koninkryk, akkommodeer ’n groot en toenemende aantal buitelandse studente. In Suid-Afrika se geval het die land ’n sentrum vir hoër onderwys vir studente uit ander Afrikalande geword. “’n Belangrike kwessie in enige bespreking van ’n doktorale produksie is die kapasiteit van die hoër onderwysstelsel om meer doktorale studente op te lewer en te lei,” het Mouton gesê.
Baie doktorale studente is steeds nie voorbereid op nagraadse studie nie en neem langer as vaardige studente om hulle studie te voltooi. Daar is ander faktore wat ook ter sprake kom. Chaya Herman van die Universiteit van Pretoria, noem hierdie hindernisse as volg: “’n Gebrek aan selfdoeltreffendheid en selfbeeld, frustrasie, ’n gebrek aan deursettingsvermoë en toewyding, ’n onvermoë om onafhanklik te werk en ’n belangrike navorsingsprojek uit te voer, en ’n gebrek aan vermoëns, veral ’n gebrek aan fokus in die keuse van ’n onderwerp en swak tydbestuur.”
Een van die gevolge hiervan is dat doktorale studieleiers, veral in sekere populêre dissiplines en vakgebiede, ’n toenemende aantal studente het waaroor hulle tegelyk toesig moet hou. Nog ’n belangrike uitdaging is die beskikbaarheid van die regte studieleier. “Aangesien dit ’n vereiste is dat ’n doktorale studieleier ’n doktorsgraad moet hê, word die ‘teoretiese toesighoudingsvermoë’ in die stelsel bepaal deur die aantal akademici wat reeds ’n Ph.D. het.”
Hy stel verder dat slegs ’n derde van alle permanente akademiese personeel ’n doktorsgraad as hulle hoogste akademiese kwalifikasie het. “Dit beteken daar is beperkte doktorale toesighoudingsvermoë in die stelsel.
“Daar moet in gedagte gehou word dat die toesighoudende vermoë in die stelsel oor 23 universiteite versprei is, hoewel dit in die 15 akademiese universiteite (eerder as universiteite vir tegnologie) gekonsentreer is. Hoewel, die 6 mees produktiewe universiteite lewer meer as 63% van die studente op en die 12 mees produktiewe universiteite in die stelsel lewer meer as 93% van alle doktorale studente op, wat impliseer dat die las van toesighouding hoër is by hierdie instellings,” het Mouton gesê.
Liezel Massyn van die Universiteit van die Vrystaat se sakeskool het in ’n artikel geskryf oor die uitdagings verbonde aan doktorale voltooiingsyfers dat die verwagtinge en laste wat studieleiers in die gesig staar, toegeneem het. Studente verwag nou dat studieleiers raadgewers, afrigters, mentors, gidse en gehaltebeheerders moet wees, wat addisionele druk op studieleiers plaas wat tyd en energie betref. Dit het ook al hoe moeiliker geword om akademici van gehalte te bekom en te behou, en baie het besluit om loopbane in die private of openbare sektor te volg (wat die gebrek aan personeel met doktorsgrade verklaar).
“Doktorale studieleiers aan Suid-Afrikaanse universiteite staar baie uitdagings in die gesig. Hulle moet toenemend groter getalle studente aanvat om te lei, en dit geld veral vir studieleiers in die breër velde van Sosiale Wetenskappe en Geesteswetenskappe waar die vraag die grootste is,” het skryf Mouton en sy medeskrywers later in ’n ander akademiese referaat geskryf, gebaseer op ’n kwantitatiewe studie van die onderwerp.
Dit het uiteindelike gevolge vir die kwaliteit van toesig. ’n Studie wat gedoen is oor nagraadse studieleiding by Unisa, het getoon dat meer as helfte van die studente (56%) ontevrede was met die aantal terugvoer wat hulle van hul studieleiers ontvang het. Alhoewel die respondente van mening is dat gereelde kontak en terugvoer met die studieleier noodsaaklik vir hul sukses is, het 52% gesê dat hul tyd vir informele bespreking met hul studieleiers nie voldoende was nie.
Dit alles verklaar op ’n manier waarom soveel studente uiteindelik nie hulle nagraadse grade voltooi nie. Dit is ’n behoefte wat aangespreek moet word deur beleidmakers en bestuur by universiteite as ’n saak van uiterste belang.
Bronne
Chaya Herman, Perspectives in Education, Volume 29(3), September 2011, “Obstacles to success – doctoral student attrition in South Africa”.
Johann Mouton, Perspectives in Education, Volume 29(3), September 2011, “Doctoral production in South Africa: Statistics, challenges and responses”.
Johann Mouton et al., South African Journal of Higher Education, Volume 29, 2015, “A survey of doctoral supervisors in South Africa”.
Liezel Massyn, The International Journal of Management Education 16 (2018), “Enhancing completion rates of mini-dissertations for a professional master’s degree: An integrated approach”.
Nhlanhla Mpofu and Mncedisi Maphalala, 18 February 2019, “Taking stock of postgraduate students in open and distance learning institutions”, https://theconversation.com/taking-stock-of-postgraduate-students-in-open-and-distance-learning-institutions-110805.
Foto krediet: Artem Podrez | Pexels
Oops! We could not locate your form.