Eet reg en blink uit in jou eksamens

Woensdag, November 4th, 2015

Eugene Brink

 

ʼn Gebalanseerde eksamendieet beteken nie ʼn sjokoladestafie in elke hand nie. As jy jou beste prestasie in jou finale eksamen wil lewer, is dit belangrik om te verseker dat jou liggaam en jou verstand gesond is.

Dit is van die allergrootste belang om nie slegs die korrekte dieet te volg en te weet wat om te eet nie, maar ook wanneer om te eet. Hier volg ʼn paar riglyne:

 

Wat om te eet

Die Britse dieetkundige Sue Atkinson sê dat ʼn brein wat met gemorskos gevoer word, nie optimaal sal funksioneer nie. Dit is nie die beste manier om vir eksamens voor te berei, stres te beveg en jou konsentrasie en geheue op te skerp nie.

Sy sê dat bewese breinvoedsel oor die algemeen kossoorte hoog in proteïen insluit, soos vleis, vis (veral olierige vissoorte), eiers, kaas, boontjies, lensies, neute, sade (bv. pampoen- en sonneblomsaad), en ook gedroogde vrugte soos vye en pruimedante.

Daarby, sê Roxanne Fisher, gesondheidsredakteur by bbcgoodfood.com, moet jy jou suikerinname beperk. ʼn Hoë suikerinname sal noodwendig lei tot ʼn situasie waar bloedsuikervlakke drasties daal, wat weer ʼn gevoel van uitputting tot gevolg sal hê.

Sy beveel aan dat gesonde peuselhappies wat bestaan uit volgraanprodukte, spanspek en semels geëet word. Jy kan ook bloubessies, swartbessies en ander bessies eet wat vitamien C bevat om jou verstand te verskerp.

Atkinson stem saam dat peuselhappies wat ʼn hoë vetinhoud het, vermy moet word en dat grondboontjiebotter, ryskoekies, roosterbrood met Marmite, springmielies, joghurt en rou groente soos wortels ook geskikte peuselhappies is.

Die blogskrywer oor gesondheid, Jessica Howard, sê yster en die B-groep vitamiene is veral belangrik om jou lewenskragtigheid en konsentrasie te bevorder wanneer jy studeer. Ysterbevattende voedselsoorte sluit in rooivleis, graanprodukte en spinasie. Voedsel wat vitamiene B bevat, sluit in volgraanprodukte, koringkiem, eiers en neute.

“Deur voedsel te eet wat ryk is aan yster en sink, byvoorbeeld maer rooivleis en volgraanprodukte, kan jy jou geheue en konsentrasie verbeter,” sê die voedingskundige Catherine Saxelby.

Volgens Howard is vrugte een van die beste voedselsoorte wat ʼn mens vir jou brein kan eet en dit is ook ʼn uitstekende peuselhappie omdat dit suiwer energie verskaf wat ʼn gevoel van uitputting voorkom. Bloubessies bevat ook kragtige anti-oksidante en ander voedingstowwe.

Volgens Atkinson is die beste bron van omega 3 olierige vissoorte soos makriel, sardiens, salm, forel en haring.

 

Wanneer om wat te eet

Ontbyt: Saxelby se advies is dat ʼn mens soggens ontbytgraan met melk, of roosterbrood met smeer moet eet. Voeg daarby ook vrugte (ingemaak of vars) en proteïen soos joghurt, eiers of gebakte bone. Atkinson sê ʼn mens moet probeer om eerder volgraan koolhidrate as voedsel of drankies met ’n hoë suikerinhoud by elke maaltyd in te sluit, want dit sal jou help om jou bloedsuikervlak deur die loop van die dat op ʼn konstante vlak te hou. Dit beteken hawermoutpap vir ontbyt.

Middagete: Saxelby beveel verder aan dat ʼn mens ʼn ligte middagete met proteïen moet eet om jou op-en-wakker te hou. Probeer ’n porsie bief-en-groentesop met ʼn broodrolletjie, of ʼn toebroodjie met geroosterde bief en slaai.

Aandete: Probeer om 3 – 4 keer per week maaltye te eet wat baie noodsaaklike voedingstowwe bevat, insluitende rooivleis.

 

Fischer sê terwyl daar nog nie uitsluitsel is oor of ʼn mens drie groot maaltye, of eerder verskeie kleiner maaltye per dag moet eet nie, moet hongerpyne liefs vermy word deur gereeld te eet en jou bloedsuikervlakke konstant te hou. Die bogenoemde inligting oor peuselhappies kan ʼn handige gids wees om vir jouself peuselhappies saam te stel.

Atkinson stel voor dat jy net voor ʼn eksamen ʼn ligte maaltyd moet geniet. Vir ontbyt word pap, droë of vars vrugte, eiers met volgraanroosterbrood, en joghurt met sade en neute aanbeveel. Wat middagete betref, sal hawermoutkoekies, kaas, vrugte, ingemaakte of gerookte sardientjies op volgraanroosterbrood, gebakte aartappel, of ʼn omelet met kaas of ham geskik wees.

 

Bronne:

 

Catherine Saxelby, n.d., “Brain food! What to eat before exams”, Lifestyle You, http://www.lifestyle.com.au/health/brain-food-what-to-eat-before-exams.aspx.

 

Jessica Howard, n.d., “10 tips for health eating during exams”, http://startcooking.com/10-tips-for-healthy-eating-during-exams.

 

Roxanne Fisher, 3 April 2015, “Eating for exams”, BBC Goodfood, http://www.bbcgoodfood.com/howto/guide/eating-exams.

 

Sue Atkinson, n.d., “Healthy eating during exams”, St. Andrews University, http://www.st-andrews.ac.uk/media/capod/students/studentdevelopment/images/Healthy%20Eating%20during%20Exams.pdf.

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51