Deur Essie Bester
Met goeie kommunikasievaardighede sal jy nie net ’n stewige eerste indruk maak nie, maar ook voortgesette sukses behaal waarmee jy jou werkgewer, spanlede, kollegas en/of kliënte kan beïndruk.
Goeie kommunikeerders is diegene wat oplossings bring, veranderinge dryf en kollegas motiveer en inspireer. Die Beroepsgilde vir Kommunikasiepraktisyns wil die belangrikheid van dié vaardigheid, wat hoog in aanvraag by personeelwerwers en werkgewers is, beklemtoon.
Top wenke vir beter kommunikasie behels die volgende:
Luister en stel opreg belang
Talle mense vergeet dat kommunikasie ‘n tweerigtingproses is. Hulle deel hulle boodskap en luister nie na die antwoord nie. Aktiewe luister beteken begrip van die gesproke of geskrewe inligting asook begrip van hoe die spreker tydens die kommunikasie voel. Dit behels om met aandag te luister na wat die ander persoon sê, te herhaal wat hy/sy sê en om vrae te stel ten einde seker te maak jy begryp wat hy/sy vir jou probeer sê.
Toon empatie
Voordat jy reageer, moet jy seker maak dat jy gehoor en verteer het wat ‘n werkgewer, kollega of werknemer vir jou probeer sê sodat jy met empatie – die vermoë om die gevoelens, gedagtes en oortuigings van ‘n ander persoon te verstaan – kan reageer. Selfs wanneer jy nie saamstem nie, is dit belangrik dat jy ander se standpunt verstaan en respekteer. Jou bereidwilligheid om ‘n dialoog te voer (al stem jy nie saam nie) sal tot meer eerlike, produktiewe gesprekke kan lei.
Wees duidelik en samevattend
Goeie kommunikasie beteken om net genoeg te sê. Of jy nou van aangesig tot aangesig met iemand praat, of per telefoon, per e-pos of WhatsApp, sorg dat dit duidelik en direk is. As jy rondval met jou gesprek, sal jou luisteraar belangstelling verloor of onseker wees oor presies wat jy verlang. Dink aan wat jy wil sê voordat jy dit sê.
Kies die regte medium
‘n Belangrike kommunikasievaardigheid is om eenvoudig te weet watter vorm van kommunikasie om wanneer te gebruik. Moenie skuil agter verskillende vorms van aanlynkommunikasie nie, veral as dit ’n moeilike boodskap is wat oorgedra moet word. As jy iets besonders ingewikkeld het om te bespreek, probeer om dit persoonlik te doen.
Dink ook aan die persoon met wie jy wil praat – as dit iemand is wat baie besig is, kan jy moontlik jou boodskap per e-pos oordra. Deurdagte kommunikasiemetodes sal waardeer word en mense sal meer geneig wees om positief op jou te reageer.
Hou jou lyftaal positief
As ons praat oor dinge wat vir ons saak maak, stuur ons baie nieverbale boodskappe. Nieverbale seine is woordelose kommunikasie soos liggaamsposisie, gesigsuitdrukking, handgebare, oogkontak, houding en toon van jou stem, spierspanning en die manier waarop jy asemhaal.
Jou stem dra 33% van jou boodskap oor. As jy mompel, dink mense jy is ’n suutjiestrap. Praat jy te hard, sag, vinnig of stadig, irriteer jy mense. ’n Te hoë stemtoon laat dit weer klink asof jy angstig is.
‘n Ontspanne, oop houding (nie gevoude arms nie), en ‘n laer, vriendelike stemtoon sal jou meer toeganklik laat voorkom en ander aanmoedig om openlik met jou te praat. Kyk die persoon in die oë om te demonstreer dat jy op hom/haar en die gesprek gefokus is (maar moenie staar nie).
Waarom nieverbale kommunikasievaardighede belangrik is
Navorsing oor interpersoonlike kommunikasie sê 93% van die kommunikasie is nie-verbaal. Die ontwikkeling van die vermoë om ander te verstaan en nieverbale seine te gebruik, sal jou help om met ander in verbinding te tree, uit te druk wat jy dink, uitdagende situasies te konfronteer en beter verhoudings tuis en by die werk te bou.
Wees voorbereid op verskillende antwoorde
Jy kan nie voorspel hoe ander tydens gesprekke sal reageer nie, maar jy kan ‘n gebalanseerde benadering verseker. Jy moet bereid wees om potensiële meningsverskille te verdedig en jou standpunt te beredeneer. Verwag ook negatiewe antwoorde en navrae om die kans op geslaagde gesprekke te verbeter. Maak dit dus vir jou luisteraars moeiliker om jou onvoorbereid te betrap.
Toon respek
Mense sal meer oop wees om met jou te kommunikeer as jy respek vir hulle en hul idees toon – eenvoudige aksies soos die gebruik van ‘n persoon se naam, oogkontak, en aktief te luister wanneer ‘n persoon praat. Dis een van die belangrikste boustene vir goeie kommunikasie. Vermy afleidings op jou foon of skootrekenaar en bly gefokus op die gesprek. Dit sal jou kollegas aanmoedig om in oop en eerlike kommunikasie met jou te tree.
Bou selfvertroue
Dit is belangrik om selfversekerd te wees in jou interaksies met ander. Selfvertroue toon aan jou kollegas dat jy glo in wat jy sê en kan getoon word met iets so maklik soos oogkontak of ‘n ferm maar vriendelike toon. Vermy die maak van stellings wat klink soos vrae. Wees versigtig om nie arrogant of aggressief voor te kom nie en maak seker dat jy altyd na die ander persoon luister en empatiseer.
Terugvoer
Om terugvoer op ‘n gepaste wyse te gee en te ontvang, is ‘n belangrike kommunikasievaardigheid. Bestuurders en toesighouers moet voortdurend na maniere soek om werknemers van konstruktiewe terugvoer te voorsien, hetsy via e-pos, foonoproepe of weeklikse statusopdaterings. Om terugvoer te gee behels ook lofprysing – dit kan motivering aansienlik verhoog.
Net so behoort jy terugvoering van ander te kan aanvaar en selfs aan te moedig. Luister na die terugvoer wat aan jou gegee word, stel vrae as jy onseker is oor die probleem en doen moeite om die nodige veranderinge te implementeer.
Bronne:
https://upraise.io/blog/improve-communication-skills/
https://www.thejobnetwork.com/10-steps-to-improve-your-workplace-communication-skills/
https://blog.smarp.com/top-5-communication-skills-and-how-to-improve-them
https://af.chalized.com/kommunikasievaardighede-vir-werkpleksukses/
https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Verhoudings/hiers-12-wenke-om-regtig-te-gesels-20171024
Foto krediet: krakenimages | Unsplash
Oops! We could not locate your form.