Entrepreneurskap: Hoe om jong boompies te buig

Woensdag, November 23rd, 2016

Karen van der Berg

 

 

Dit maak nie saak hoe ons daarna kyk nie, wanneer dit by werkloosheid in Suid-Afrika kom, is die prentjie wat geskets word pikdonker.

Ons as ouers leer ons kinders om hard te werk op skool om sodoende toelating tot ’n universiteit te kry, ’n goeie graad te verwerf en daarna ook ʼn goeie werk, maar is dit werklik genoeg? Moet ons nie anders begin dink oor die beroepsveld en ons kinders ander vaardighede begin leer nie?

Danie Jacobs van Bloemfontein is die stigter van ’n naskoolse entrepreneursprogram vir kinders, Young Entrepreneurs. Hy kan die belangrikheid om kinders van kleins af entrepreneursvaardighede te leer, nie genoeg beklemtoon nie.

“Ons land roem altyd daarop dat ons ’n land van entrepreneurs is, maar ons huidige skoolstelsel leer kinders nie dié vaardigheid nie. Ons skoolstelsel is eenvoudig swak. Ek was geskok om te verneem die vak ekonomiese bestuurswetenskap (EBW) is grootliks uit die ­laer­skoolleerplan gehaal. Daar is byna geen geleentheid vir kinders om te leer om selfversorgend te wees as hulle nie ’n werk kry wat ’n salaris betaal nie.”

Danie sê miskien moet ouers daaraan begin dink dat hulle vir hulle kinders jok.

“’n Graad beteken nie noodwendig ’n goeie werk nie.”

Daarom sê Danie dit was nog nooit so belangrik soos nou om kinders te leer om entrepreneurs te word nie.

Dit is ook wat gelei het tot Young Entrepreneurs se ontstaan.

“By die sentrum word kinders tussen die ouderdomme van 7 en 15 op ’n praktiese manier geleer oor verskillende entrepre­neuriese vaardighede. Ons fokus ook op finansiële geletterdheid en elke kind word gehelp om sy eie mikroöndernemings op die been te bring,” sê hy.

Skole kan nie hierdie noodsaaklikheid vir kinders leer nie.

“Die gevolg is kinders ken nie die basiese beginsel van hoe geld werk nie. Die finansiële gewoontes wat jy leer wanneer jy ’n kind is, is dié wat jy gaan gebruik as jy ’n volwassene is. Dit is ’n basiese vaardigheid soos lees en spel wat elkeen op ’n vroeë ouderdom moet bemeester.”

Hy sê entrepreneurskap is nie iets waarmee ’n persoon gebore word nie, dit moet geleer, gevorm en ontwikkel word.

“Daar is navorsing wat wys kinders se natuurlike entrepreneuriese ingesteldheid neem dramaties af namate hulle ouer word. Die keerpunt vir ’n kind om daaroor te leer, is nege jaar. As ’n kind nie die blootstelling het nie, sal die vaardighede teen die ouderdom van 18 heeltemal verdwyn. Om dan te verwag ’n kind moet iets van besigheid verstaan, is soos om te verwag ’n motor moet sonder ’n battery kan ry.”

By Young Entrepreneurs word kinders vyf dinge van geldsake geleer. Dit is die vyf dinge wat met geld gebeur. Jy kan geld verdien, geld spaar, jou tiende gee, geld bestee, of geld belê.

Voorts sê Danie ouers leer ook nie hulle kinders reg nie. In die eerste plek is sakgeld ’n onding.

“Wanneer jy vir jou kind sakgeld gee, leer jy hom hy is geregtig daarop. Sakgeld moet met ’n kommissiestelsel gekombineer word.”

Ouers gee ook vir hulle kinders die verkeerde boodskap wanneer hulle in ’n winkel is en toegee wanneer hulle kinders neul om iets te kry.

“Dit versterk daardie gevoel by kinders dat hulle geregtig is op iets.”

Hy sê daar is klompie geleenthede elke dag om kinders van geldsake te leer. Ouers moet gebruik maak daarvan.

 

Sy weet hóé

Een meisie wat reeds van jongs af die waarde van entrepreneurskap geleer het, is Morgan Pelser (13) van Bloemfontein. Sy verdien reeds R2 000 ’n maand.

In sentraal-Suid-Afrika is Morgan welbekend vir haar heerlike pienk, pers en blou spookasem.

Afgesien van haar weeklikse stalletjie by verskillende markte, verkoop sy ook haar produkte aan plaaslike winkels en snoepies en verskaf gereeld spookasem vir kinderpartytjies. Sy moes ook onlangs 100 pakkies spookasem verskaf vir ’n vroueaand wat ’n bekende tydskrif aangebied het.

Die jong sakevrou se wenresep vir haar suksesvolle onderneming is ’n streng plan waarvan sy nie sommer afwyk nie.

Sy maak ook baie opofferings. “Ek kan nie Vrydagaande by my maats oorslaap nie, want Saterdae moet ek reeds teen sesuur by ’n mark wees. Ek kan ook nie TV kyk nie. Ek moet elke dag werk. As ek nie fisies spookasem maak nie, doen ek iets anders met my besigheid.”

Morgan sê egter dit is alles die moeite werd. Op 16 Mei vlieg sy as uitruilstudent na China, en sy betaal self vir die toer. En nooit hoef sy haar ouers in die oë te kyk en vir sakgeld te vra nie.

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Wil jy graag jou eie baas wees? Vra dan eers jouself die regte vrae
Anja van den Berg   Die meeste mense begryp dat besigheidskennis nodig is om ʼn besigheid te bedryf, maar die meeste suksesvolle besigheidseienaars het ook bykomende vaardighede en eienskappe wat ʼn suksesvolle besigheid aanhelp. Voordat jy besluit om met ʼn besigheid te begin, moet jy nadink oor watter eienskappe jy het, hoe jou kop werk […]
Die kliënt kom altyd eerste
Karen van der Berg   Die noodsaaklikheid om goeie verhoudings met kliënte te bou, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is deur hierdie verhoudings wat jy werklik jou kliënte se behoeftes begin verstaan. Hannes Venter van Global & Local Inc., ’n konsultant wat hulp aan klein ondernemings bied, het vyf goue reëls om goeie […]
Voortdurende veranderings in die werkplek
Anja van den Berg   In die 1960’s het die werkplek gewentel om ʼn nege-tot-vyf-werkdag, mans het hulle vroue en kinders tuis onderhou, en werk het gewoonlik fisiese arbeid behels. Personeel het by die werk gerook – selfs in die kantoor – en daar was geen voorskrifte vir korrekte etiket in die personeelkombuis nie, aangesien […]
1 2 3 53