Deur Marli Naidoo
ʼn Handelskool of ambagskool is ʼn opvoedkundige instelling wat studente die geleentheid gee om vaardighede te leer wat verband hou met spesifieke werk. Die fokus is prakties en studente word toegerus om na ʼn kort tydperk deel van die werksmag te kan wees.
Baie handelskole is toegerus om studente met gestremdhede op te lei. Moet dus nie toelaat dat ʼn gestremdheid jou keer om by ʼn handelskool aansoek te doen en die nodige vaardighede vir ʼn suksesvolle loopbaan aan te leer nie. Daar is egter verskeie dinge wat jy sal moet ondersoek voordat jy op ʼn skool besluit, en spesifieke hulpmiddels wat in plek moet wees by die onderskeie handelskole om jou te help om te floreer.
Vind eers uit wat die beste loopbaankeuse vir jou sal wees. Praat met ʼn berader wat jou spesifiek hiermee kan bystaan. Evalueer jou beperkings sodat jy ʼn kortlys van geskikte keuses kan bymekaarsit. Jy kan ook ʼn aanlegtoets doen om jou te help om die regte keuse te maak. Hierdie is baie belangrik aangesien die verkeerde keuse jou tyd by die handelskool soveel meer uitdagend kan maak.
Kontak die handelskole waarin jy belangstel en vind uit wat elke skool se beleid is aangaande onderrig vir mense met gestremdhede. Die beste sal wees om die beleid self deur te lees, in plaas daarvan om telefoniese inligting te ontvang. Indien ʼn skool nie so ʼn beleid het nie, sal dit nie ʼn goeie pasmaat vir jou wees nie.
Het die skool waarin jy belangstel aangepaste akkommodasie vir jou spesifieke gestremdheid? Maak ook seker dat tegnologie vir jou bruikbaar sal wees, en dat die personeel spesiale opleiding ontvang het om jou effektief te kan help om vorentoe te beweeg.
Maak seker dat die handelskool ʼn hoë persentasie van studente toon wat na hulle opleiding onmiddellik werk gekry het. Bied die skool ondersteuning om wel werk te kry?
Wanneer jy eers met jou opleiding begin het, is dit belangrik dat jy georganiseerd bly. Stel vir jouself ʼn skedule op wat alles insluit. Hierdie skedule sal bydra tot stresbestuur.
Beplan vooruit sodat jy take betyds kan voltooi en gereed vir eksamens kan wees. Moenie toelaat dat groot take jou oorweldig nie. Maak ʼn punt daarvan om hulle in kleiner, hanteerbare stappe op te deel.
Moenie skaam wees om jou behoeftes te kommunikeer nie. Sê indien jy hulp nodig het, en vra wanneer jy iets nie verstaan nie.
Bou so vinnig as moontlik ʼn vriendekring op met mense wat jou sal ondersteun en bystaan.
Wees geduldig met jouself, en gee jouself genoeg spasie en tyd om aan te pas. Met die nodige hulp en bystand van ander sal jy aan die ander kant uitkom.
Maak tyd vir pret, en lag gereeld. Dit is die beste medisyne om spanning te verlig.
Bronne:
Vocational Training HQ: https://www.vocationaltraininghq.com/best-vocational-training-programs-disabled/
Connect2Local: https://connect2local.com/l/8959/c/623473/5-tips-for-attending-trade-school-with-a-disability
Prime Weld: https://primeweld.com/blogs/news/disability-guide-to-trade-school
NPR: https://www.npr.org/templates/story/story.php?storyId=94728312
Foto krediet: Jakub Pabis | Unsplash
Oops! We could not locate your form.