Gaan hoë hakke en veiligheidshelms saam?

Donderdag, Julie 21st, 2016

Anja van den Berg

 

Net een uit elke sewe ingenieurs is ’n vrou, net 27% van alle rekenaarwetenskapposte word deur ’n vrou beklee, en “daar was geen toename in vroulike werknemers in STEM-poste (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) sedert 2000 nie”, volgens Forbes.

“Die hoofrede hoekom vrouens agter geraak het, is omdat ons as ’n gemeenskap nie ons vroulike studente aanmoedig om loopbane in STEM te volg nie,” sê professionele ingenieur Karen Purcell. Sandy Marshall, stigter van Project Scientist, stem heelhartig saam. “Ons weet dat 78% van skoolgaande meisies in STEM-vakke belangstel, maar tog maak vrouens net 25% van die STEM-werkmag uit en êrens langs die pad verloor ons hierdie STEM-meisies.” Project Scientist mik daarna om uit te kom by jong meisies wat in STEM-velde belangstel en om hulle op die spoor te hou na ’n STEM-loopbaan.

 

Is ingenieurswese ’n man se wêreld?

 

Soos die meeste hoërskoolstudente wat oorgaan na tersiêre studies, het Debbie Sterling nie geweet wat sy wil studeer nie. “My beste vak destyds was wiskunde, maar toe my wiskundeonderwyser noem dat ek dalk van ingenieurswese sal hou, het ek haar aangekyk asof sy van haar sinne beroof is. Ek het geglo ’n ingenieur moet ’n bleeksiel-outjie wees wat die heel dag voor ’n rekenaar algoritmes sit en uitwerk! Sekerlik nie ’n rigting vir ’n kreatiewe meisie soos ek nie!”

Desnieteenstaande het Debbie ’n kans gewaag en vir Meganiese Ingenieurswese 101 ingeskryf vir haar eerste semester by Stanford Universiteit. “Ek het minder as een klas nodig gehad om te besef dat my hoërskoolwiskunde-onnie reg was. Ingenieurswese, blyk dit, is ’n merkwaardige uitlaatklep vir kreatiwiteit en innovering. Ek was vasgevang.” Vier jaar later het sy met ’n graad in Meganiese Ingenieurswese gegradueer.

 

Kom ons laat meisies in ingenieurswese belangstel!

 

Slim meisies wat in STEM-vakke belangstel, word oorval met opmerkings en ondervindings dat daardie vakke nie vir hulle bedoel is nie. Dit is ’n groterwordende probleem en vrouens wat in daardie velde werk, probeer dit bekamp deur die volgende idees voor te hou:

 

  1. Ouers gee die pas aan. “Ouers het die grootste invloed op ’n meisie se belangstelling in STEM,” sê Marshall. Wetenskap is oral teenwoordig in die huis. Moedig meisies aan om te help meet, ontleed, voorspel en waarneem in die kombuis, garage, tuin en agterplaas.
  2.  Maak hulle geïnteresseerd in die natuurwetenskappe. “Navorsing toon dat kinders so jonk as 4 reeds belangstel in wetenskap want dit is oral rondom hulle in die natuurlike wêreld,” verduidelik Marshall. As julle gaan stap of sommer net by die venster uitkyk, wys goed uit wat wetenskap relevant maak vir kinders, soos ’n wurm op die sypaadjie na die reën of blare se verskillende vorms.
  3. Wys vroulike rolmodelle uit. Dit is goed vir meisies om te weet dat Marissa Mayer die hoofbestuurder van Yahoo is, maar daar is ook in jou omgewing vrouens met loopbane in STEM. As jy ’n vroulike rekenaarprogrammeerder of dokter ken, wys haar uit vir jou dogter. “Dit laat meisies daaraan dink dat ’n STEM-loopbaan ’n moontlikheid is,” voeg Marshall by.

4. Maak deurdagte speelgoedkeuses. “Die speelgoed en speletjies waarmee jong meisies speel, vorm hul opvoedkundige en loopbaanbelangstellings; dit skep drome van toekomstige loopbane,” sê Andrea Guendelman, medestigter van Developer, ’n beweging wat propaganda maak vir die ontwikkeling van jong meisies in STEM-vakke. “Omvattende navorsing toon dat sekere speelgoed en speletjies jong kinders kan help met die ontwikkeling van die ruimtelike logika en ander analitiese vaardighede wat kritiek is vir wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde … ’n groot deel van die rede waarom vrouens nie hierdie velde betree nie en ’n groot deel van die oplossing begin heel aan die begin.”

 

As vrouens meer volop in STEM-beroepe raak, sal meer en meer jong meisies besef watter bykomende loopbaangeleenthede vir hulle beskikbaar is. Met meer vrouens in die veld sal dit vir jong meisies duideliker word wat hulle die wêreld kan bied.

 

Bronne

 

Debbie Sterling, 2013, “Let’s Get Girls Interested In Engineering!”, Forbes, http://www.forbes.com/sites/womensmedia/2013/10/30/lets-get-girls-interested-in-engineering/#2558a5c6713b

 

Karen Purcell, 2015, “5 Ways to Get Girls into STEM”, Edutopia, http://www.edutopia.org/blog/5-ways-girls-involved-STEM-karen-purcell

 

Melissa Erickson, 2015, “How to encourage girls’ interest in math, science”, Metro West Daily News, http://www.metrowestdailynews.com/article/20150604/NEWS/150607996

 

Phoebe Parke, 2014, “Ask the experts: How do we get girls into STEM?”, CNN, http://edition.cnn.com/2014/10/27/world/europe/how-to-get-girls/

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Werk en studeer saam: Pak dit só aan
Dit is moontlik, maar nie maklik nie. Hier is ses wenke om jou te help: * Selfmotivering Dit is moeilik om gemotiveer te bly as mens te besig is. Bly in aanraking met jou medestudente en bly op die hoogte van alles deur hulle te kontak as iets belangrik voorlê.   * Stel doelwitte en […]
Werk is ʼn aksie, nie ʼn plek
Anja van den Berg   Mense werk deesdae op baie meer verskillende maniere as wat hulle 20 jaar gelede gedoen het. Tele-pendel (“telecommuting”), modulêre werk- en proses-ontwerpe, globale spanne wat 24/7 werk, kweekplekgedrewe organisatoriese modelle en uitgebreide opsies om werk na behoefte aan te pas is vinnig besig om die norm te word. Die dae […]
2017-sukses: Wen klein en hou aan beweeg!
Anja van den Berg   Wil jy vanjaar gewig verloor? Dalk ’n nuwe werk kry? Meer gehaltetyd met jou gesin inruim? As dit vir jou moeiliker is om Nuwejaarsbesluite uit te voer as om dit te neem, is jy nie alleen nie. Kom ons skakel die misluksituasie om in deurlopende vordering en sukses!   Wen klein, wen […]
1 2 3 48