Deur Melodie Veldhuizen
Geografiese Inligtingstelsels (GIS) is ʼn rekenaargebaseerde metode vir die insameling, bestuur, analise, modellering en aanbieding van geografiese of ruimtelike data.
Gedurende die afgelope dekade het die wêreld van kartografie betekenisvolle veranderinge ondergaan, grootliks te danke aan die ontwikkelende tegnologie van Geografiese Inligtingstelsels. Dit is ’n ontledingshulpmiddel wat sosio-ekonomiese, demografiese, politieke en omgewingsdata kan kombineer. GIS-sagteware maak dit moontlik om kaarte en datastelle bo-oor mekaar te projekteer en die ruimtelike verwantskap tussen hulle te ontleed. So kan jy byvoorbeeld verskillende lae van kaarte vir riviere, spruitjies, stroompies, vloedkaarte en droëgrondvlakke laai om te bepaal of huis- en besigheidseienaars in die geval van ʼn dreigende storm gewaarsku moet word.
Dit kan vir ʼn wye verskeidenheid van toepassings aangewend word, soos gesondheidsdienste, plaaslike regering, padverkeersbestuur, stadsbeplanning, marknavorsing, vloedbeheerbeplanning, geologie en argeologie, omgewingsbewaring en klimatologie en landboubestuur. Dit word ook gebruik in die bepaling van die beste roete vir nood- en vlootvoertuie. Daarbenewens word dit aangewend om die beste liggings vir nuwe produksie-aanlegte te bepaal asook vir die uitvoering van demografiese, bemakings- en politieke navorsing.
Vereiste vaardighede en verantwoordelikhede
GIS-spesialiste moet oor uitstekende probleemoplossings-, tydsbestuur-, interpersoonlike, leierskaps- en kommunikasie- asook projekbestuursvaardighede beskik, en analities en goed georganiseerd wees.
GIS-spesialiste is goed bedrewe in alle aspekte van GIS. Hulle spesialiseer hoofsaaklik in kartografie, asook data-ontleding en databestuur.
Die instandhouding en skep van geografiese data is ʼn gegewe in GIS. Sonder ruimtelike data kan GIS nie bestaan nie. Deur die navolging en skep van riglyne tree GIS-spesialiste op as die primêre bewaarder van data. Sodoende word akkuraatheid en gehalte in ’n organisasie gehandhaaf.
Kartering is die lewensaar vir visualisering in GIS. ʼn GIS-spesialiste is tot ʼn groot mate verantwoordelik vir die bou van kartografiese uitsette. Deur die beginsels van kartografie toe te pas stel ʼn GIS-spesialis kaarte op papier saam, en ontwerp ook kaarte vir aanlyn gebruik.
Rekenaarvaardigheid is ook noodsaaklik om as databasis-administrateur op te tree, programmering te doen en ander IT-verwante take te verrig. Deur die gebruikmaking van rekenaarkoderingstale (‘scripting languages’) kan werkvloei geoutomatiseer word en produktiwiteit verhoog word. Python, JavaScript en VB word die meeste gebruik.
GIS-spesialiste raadpleeg kliënte om die behoeftes van die spesifieke projek te identifiseer en te bepaal wat die nodige toepassings sal wees. Sodoende kan meer doel-spesifieke inligting verskaf word. Hulle doen navorsing om alle bestaande databasisse te identifiseer wat inligting vir die spesifieke projek kan verskaf. Met behulp van GIS- sagteware versamel en onleed hulle data en bepaal die beste manier om dit visueel voor te stel.
GIS-spesialiste samel data in vanuit ʼn verskeidenheid bronne soos byvoorbeeld lugfoto’s, bestaande kaarte, satelliet-foto’s en veld-ontledings. Hulle wend hul verworwe kennis van driedimensionele eienskappe van voorwerpe aan om toepaslike databasisse te ontwerp. Hulle maak dikwels gebruik van digitiseerders of direkte insette om inligting oor die landskap vas te lê en te koördineer.
Daarbenewens is hulle verantwoordelik vir die instandhouding van die verskillende GIS-toerusting, soos stipinstrumente (‘plotters’), digitiseerder, kleurdrukkers en videokameras. Dis ook soms nodig om veldwerk te doen om data in te samel.
Met die gebruik van gespesialiseerde rekenaarprogramme en sagteware skep hulle geografiese kaarte waarop politieke grense, vervoernetwerke en omgewingshulpbronne aangedui word. Hulle is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling en instandhouding van geografiese, politieke en omgewingsdatabasisse van toepassing op ʼn spesifieke streek. Die spesialis moet GIS-databasisse ontwerp en opdateer deur die gebruikmaking van ’n verskeidenheid wiskundige tegnieke, soos koördinaat-geometrie en intydse ontleding.
Toelatingsvereistes om as GIS- spesialis te kwalifiseer
Verpligte skoolvakke: Wiskunde, Fisiese Wetenskap. Aanbevole vak: Geografie.
Bykomende vereistes: Slaag matriek met universiteitstoelating en voldoen aan die toelatingsvereistes (APS) vir die betrokke kursus.
Om ʼn GIS-spesialis te word, moet jy oor minstens een van die volgende kwalifikasies beskik:
– BSc in Ingenieurswese of B.Ing met van die volgende hoofvakke: bosbou, geografie, fisiese wetenskappe, of verwante studierigting, met spesialisering in rekenaarwetenskap.
– BSc (Geomatika) in Geoïnformatika;
– Geografiese-inligtingstelsel (GIS) gekombineer met enige ander wetenskap- of landboukursus. GIS is ʼn belangrike komponent van baie voor- en nagraadse programme.
Vir persone wat hulself verder wil bekwaam is daar baie geleenthede vir verdere nagraadse studies (byvoorbeeld ʼn honneurs- en meestersgraad in GIS).
Registrasie
ʼn GIS-spesialis moet op hoogte te bly van die jongste tegnologie en praktyke op hierdie gebied en deurlopende kortkursusse word sterk aanbeveel.
Kontak die Suid-Afrikaanse Raad vir Professionele en Tegniese Opmeters (South African Council for Professional and Technical Surveyors (PLATO)) vir verdere inligting betreffende kwalifikasies wat erken word om by die raad te mag registreer. Gegradueerdes wat oor een van bogenoemde kwalifikasies beskik, hoef slegs bewyse van hul kwalifikasies asook bewyse van praktiese ondervinding voor te lê om vir die regseksamen en registrasie aansoek te doen. Persone wat oor ander toepaslike kwalifikasies beskik, moet hul volledige akademiese rekord vir elke spesifieke kursus voorlê wanneer hulle vir registrasie by PLATO aansoek doen.
Opleiding
Vir meer inligting betreffende opleiding, besoek die webtuiste: Geoïnformatika Society of South Africa of kontak die tersiêre instansie van jou keuse.
Werksgeleenthede
Staatsorganisasies; nutsmaatskappye; argitektoniese ingenieursmaatskappye; stadsbeplanners; natuurlikehulpbronbestuursmaatskappye; konsultant wat vir homself werk.
Verwante beroepe
Geograaf; Kartograaf; Tegnikus: Rekenaarondersteunde tekene /ontwerp
Verdere inligting
Geo-Information Society of South Africa (www.gissa.org.za)
South African Geomatics Institute(www.sagi.co.za)
The South African Council for Professional and Technical Surveyors (PLATO) (www.sagc.org.za)
Bronne:
Environmental Science. https://www.environmentalscience.org/career/geographic-information-systems-specialist
GISGeography. https://gisgeography.com/gis-specialist/
Foto krediet: Annie Spratt | Unsplash
Oops! We could not locate your form.