Geoktrooieerde rekenmeesters – glad nie so ververlig nie!

Donderdag, Februarie 4th, 2016

Karen van der Berg

 

 

Om probleme kreatief te kan oplos, nuut oor bestaande metodes en tegnieke te dink en baie uitdagings is alles deel van die opwindende beroep van ’n geoktrooieerde rekenmeester (GR).

So vertel Lizane Schreuder (28), ’n GR van Bloemfontein.

Om die graad te verwerf en uiteindelik as ’n GR te kwalifiseer, is beslis nie ’n maklike pad nie en een wat bekend is daarvoor dat hy ’n mens laat klippe kou.

Lizane het haar studies aan die Universiteit van die Vrystaat gedoen. Sy het eers ’n Baccalaureus in Rekeningkunde (BRek) voltooi en daarna die nagraadse program vir geoktrooieerde rekenmeesterskap – beter bekend as die Sertifikaat in die Teorie van Rekeningkunde (STR) – voltooi.

Na die voltooing van die STR het Lizane haar verpligte drie jaar klerkskap voltooi. Sy het by KPMG in die Rosestad gewerk.

Steeds was dit nie die einde van haar studies nie. Om as GR te kwalifiseer, is daar na die afhandeling van die STR ook nog twee Raadseksamens wat afgelê moet word. Lizane het die eerste een in haar eerste maand van klerkskap afgelê en die laaste een 18 maande daarna.

Nadat sy die twee eksamens geslaag het en haar drie jaar as klerk voltooi het, het sy uiteindelik, na sewe jaar, as GR kwalifiseer.

“Deur die loop van ’n mens se studies om GR te word, is daar verpligte vereistes om aan te voldoen. Die keuring vir STR is baie streng. Wanneer ’n mens daarvoor gekeur is, het jy net een jaar om al vier jou vakke deur te kom. Jy mag ook net ’n STR twee keer doen, en as jy dit dan nie behaal nie, begin ’n mens weer by die graad.”

So, ‘n maklike pad is dit beslis nie, maar die beloning is groot as jy die kwalifikasies het, sê sy.

Om ’n GR te wees, beteken jy oudit groot maatskappye, jy teken hulle finansiële state af en spreek jou opinie daaroor uit.

“Daar is egter vier verskillende rigtings waarin ’n GR kan werk. Jy kan oudit, of slegs op finansiele rekeningkunde fokus soos in bankwese, jy kan kosterekeningkunde vir groot maatskappye doen, of in belasting spesialisseer.”

Lizane het pas haar eie rekeningkundige praktyk begin.

“Ek doen finansiële state vir individue en belasting. Dit is vir my op die oomblik ’n goeie beroepskeuse, want die werk is buigsaam. Dit is veral ’n lekker keuse vir ’n vrou wat met ’n gesin wil begin.”

Oor die grappies oor rekenmeesters, kan Lizane maar net saam lag.

“Ons is bekend as die mense wat nie uit die boks kan dink nie en van roetine hou, maar ek dink regtig dit verskil van mens tot mens. Ek ervaar my werk as baie kreatief en elke dag lewer iets anders op.”

Lizane sê mense wat die beroep wil volg, moet vasstaan in die besluit en weet dit is harde werk.

“Ek dink dit is ’n goeie beroep en een wat steeds in die toekoms nodig gaan wees. Rekenaars sal nooit die werk kan oorneem nie, want logiese denke is nodig om foute en bedrog raak te sien.”

Sy waarsku ook: ’n Mens is ook nooit heeltemal klaar studeer nie. Die belastingwette en maatskappyreg verander voortdurend. ’n GR moet deurlopend kursusse bywoon en die nuwe wette leer.

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51