Deur Essie Bester
Die ontwikkeling van ʼn goeie netwerk is van kardinale belang vir professionele besigheidsleiers. Behalwe die verbetering van jou oordeel deur gereelde toegang tot onafhanklike perspektiewe vanaf persone wat hul mening reguit teenoor jou sal lug, genereer dit loopbaan- en sakegeleenthede.
ʼn Goed ontwikkelde netwerk dien ook as ʼn ondersteuningsmeganisme wat jou kan help om onverwagte mark- of loopbaanonderbrekings en persoonlike uitdagings te bestuur.
Jy moet egter besef dat netwerkvorming veel meer as ʼn getallespel en/of die uitruil van inligting met ander is, en dit gaan beslis ook nie oor die afsmeek van gunste nie.
Netwerkvorming gaan oor die vestiging en versorging van langtermyn-, wedersyds voordelige verhoudings met mense waarmee jy gedeelde konneksies het, soos diegene wat jy ontmoet terwyl jy in die ry staan om jou oggendkoffie te bestel, deelneem aan ʼn binnemuurse sportliga en/of wanneer jy ʼn werkskonferensie of ʼn sakeskool bywoon.
Alhoewel Covid-19 tans ʼn beperking plaas op die manier waarop ons betekenisvolle netwerke buite die werkplek kan vorm, in stand hou en uitbrei, is dit steeds moontlik deur virtueel te netwerk.
Word ʼn doeltreffende virtuele netwerker met die volgende wenke:
Een groot voordeel van virtuele netwerke is dat daar geen geografiese beperkings is nie. The Ivey Academy, ʼn wêreldleier in gevorderde bestuursopleiding en professionele ontwikkeling, lewer byvoorbeeld gereeld gratis interaktiewe lesings en virtuele kletsgesprekke oor onderwerpe wat wissel van veerkragtigheid tot innovasie in krisistye.
Ander aanlyn netwerkgeleenthede kan ook gevind word. Kyk dus rond na gebeure wat jou interesseer en gebruik dit om nuwe verbintenisse oral ter wêreld te vorm.
Nadat jy vir ʼn geleentheid aangemeld het, maak seker dat jy teruggaan na die program en die name van die sprekers neerskryf waarin jy belangstel. Gaan volg hulle op Google, LinkedIn en ander sosiale netwerke om ʼn gemeenskaplike grondslag te vind en/of meer oor hulle werk te leer.
Let op die belangrikste inligting en dink aan hoe jy dit kan gebruik wanneer jy na hulle uitreik. As jy jou huiswerk doen, maak dit die ander persoon gemaklik en ontvanklik om van jou te hoor.
Tesame met die tema van die geleentheid moet jou navorsing lei tot ʼn paar gedagtes oor hoe jy jou sprekers wil betrek. Jy kan maklik iemand se aandag trek deur weldeurdagte vrae voor te berei wat tot nadenke kan lei. Dink aan gesprekspunte en spesifieke terugvoer wat jy kort ná die geleentheid kan deel.
Sorg dat jy ʼn spesifieke doelwit het. Maak seker jy weet wat jy verlang uit die interaksie met die sprekers waarin jy geïnteresseerd is. Sal jy daarvan hou om ʼn vraag te vra of verkies jy ’n persoonlike Zoom-oproep? Hoop jy om in die persoon ʼn potensiële mentor, leidrade vir werk of konneksies binne die bedryf te vind?
Stel vas hoe hy/sy die meeste waarde vir jou kan bied en wees baie duidelik oor jou doel. Maak seker dat jy altyd noem hoe jy ook jou hulpbronne kan gebruik om hom/haar te ondersteun.
As jy na meer as ʼn week nog nie van iemand gehoor het nie, kan jy beleefd opvolg – jou e-pos het dalk die eerste keer verlore geraak. As jy hom/haar suksesvol bereik en die persoon sy/haar tyd op enige manier aanbied, moet jy seker maar jy bedank die persoon en dan moet jy in die toekoms kontak behou.
Dit kan beteken die stuur van gereelde opdaterings van wat jy doen, sowel as vriendelike e-posse om die persoon se mylpale te erken of hulp aan te bied vir komende projekte.
Onthou dat jou profiel die eerste ding is wat iemand sien as daar aanlyn na jou gesoek word. Maak dus seker dat dit akkuraat en volledig asook handelsmerkpositief is.
Skep en publiseer nuttige inhoud wat die potensiaal het om jou konneksies te inspireer om daarvan te hou, kommentaar te lewer en dit te deel. Neem deel deur te reageer op inhoud wat deur ander geplaas is, en gebruik dit om bestaande konneksies te verstewig of nuwes te maak.
Net soos ʼn vriendskap moet ʼn professionele verhouding voortdurend gekoester word. Om virtueel te netwerk sal natuurlik nooit die krag en die impak van die persoonlike verbintenis vervang nie. Terwyl jy aanlyn netwerk, moet jy dus aan maniere dink waarop jy jou verbintenisse kan handhaaf en verdiep wanneer groter fisiese byeenkomste weer moontlik is.
Bronne:
https://www.topresume.com/career-advice/importance-of-networking-for-career-success
https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Werk-Geld/netwerk-na-sukses-20170914
Oops! We could not locate your form.