Harde terugvoer kan jou loopbaan aanhelp

Vrydag, Februarie 24th, 2017

William Treseder

Ons almal kan ʼn storie soos hierdie vertel oor ons persoonlike of professionele lewens: Ons oorkom ʼn struikelblok en word sterker en meer selfversekerd as gevolg daarvan. Ons neem negatiewe terugvoer en gebruik dit om uit ʼn negatiewe situasie na ʼn baie beter een te beweeg.

Maar ons het ook ander stories wat ons nie graag vertel nie. Verhale van mislukking. Verhale waar ons dinge nie omdraai nie, en sake net vererger.

Hoe ons aanvanklik op negatiewe terugvoer reageer, kan die verskil beteken tussen sukses en mislukking. En dit blyk dat ʼn verskeidenheid natuurlike neigings teen ons werk wanneer ons gekritiseer word. Ons hou onsself terug sonder om dit te besef. Hoekom?
•Ons verwar gedrag met identiteit. Ek is dadelik op die verdediging wanneer iemand my terugvoer wil gee. Dit voel asof hulle my as ʼn professionele persoon, en soms selfs persoonlik, aanval. Natuurlik bedoel hulle dit nie so nie, maar die gevoel is oorweldigend. Selfs wanneer iemand behendig terugvoer gee wat op my gedrag gemik is, is ek geneig om dit te internaliseer. Dit voel vir my asof my identiteit gekritiseer word.
•Ons glo in die dwaalbegrip van veelsydigheid. Op kollege wou ek ʼn A behaal in elke vak, hetsy geskiedenis of rekenaarwetenskap. Dit is moeilik om hierdie dinkpatroon af te skud, selfs al is dit ooglopend teenproduktief by die werk. Oor ʼn paar pynlike jare het ek geleer om vir kollaborateurs te soek wanneer ek nie met iets nie goed is nie. Die positiewe gevolge is ongelooflik. Wat van my tien ure se swoeg vereis, neem hulle tien minute, is van ʼn hoër gehalte, en hulle geniet dit om dit te doen.
•Ons is perfeksioniste. Wanneer ek besluit om iets te doen wil ek dit reg doen. Die eerste 90% van ʼn projek mag my slegs ʼn paar dae neem, maar dan skop die perfeksionisme in en ek sal nog ʼn week daaraan bestee om die laaste paar details korrek af te handel. Dis goed en wel in die vroeë stadiums van ʼn professionele loopbaan, maar dit word ʼn slaggat wanneer die werk begin ophoop. Nie lank nie of ek is oortoegewyd, gestres, en ver agter met my werk. Net omdat ek nie kan besluit ʼn taak is afgehandel nie.

Met hierdie drie algemene vooroordele in gedagte, oorweeg dit om hierdie eenvoudige proses te volg wanneer jy negatiewe terugvoer ontvang. Jy mag vind dat een van hierdie stappe vir jou meer waardevol is as die ander. Dit staan jou natuurlik vry om te verwerp, verander en aan te pas soos nodig.

Stap 1: Omhels emosies. Dis net natuurlik om ontsteld te raak wanneer iemand jou negatiewe terugvoer gee. Ek sal die eerste persoon wees om dit te erken. So laat jouself toe om ontsteld te wees. Moenie probeer om daardie gevoel van seergemaakte trots, angs of woede te onderdruk nie. Reik uit na iemand buite die werk en blaas stoom af. Laat jou emosies toe om te bedaar alvorens jy aanbeweeg.

Stap 2: Moenie negatiwiteit toelaat om oor te neem nie. Alles vloei uit hierdie besluit. Dit verg dissipline om iemand anders nie as ʼn ploert (of erger) te etiketteer omdat hy jou negatiewe terugvoer gegee het nie. Dink daaraan as ʼn baie lomp manier om in jou te investeer. Onthou, die persoon neem bloot die tyd om terugvoer aan te bied omdat hy steeds vir jou omgee!

Stap 3: Prioritiseer. Jy sal dalk deur ʼn klomp verskillende stukkies terugvoer moet sif en bepaal wat werklik die moeite werd is om aan aandag te gee. Vra jouself: “Is die kool die sous werd?” Dit wil sê, wat is die een ding wat ek dadelik moet aanspreek? Wat sal die res van my lewe makliker maak? Sal dit op ʼn positiewe manier deursyfer na ander aspekte van my werk?

Stap 4: Draai ʼn vaardigheid om. Neem hierdie een sleutel-area vir selfverbetering en neem ʼn minuut – selfs tien sekondes – om te dink oor hoe jou tans optree. Identifiseer nou ʼn manier waarop jy hierdie gedrag kan verander om jouself te verbeter. Byvoorbeeld: Ek praat te veel tydens vergaderings. Dit is nie realisties om te dink ek sal ooit ophou praat nie, maar ek kan daarop fokus om vrae te vra in plaas daarvan om kommentaar te lewer.

Stap 5: Verbind jouself. Insentiewe is beter as dissipline. Dit sou wonderlik wees as ons altyd die regte ding kon doen. Maar dit is ʼn fantasie. Die beste manier om jouself aan te spoor is om ʼn omgewing van verantwoordbaarheid te skep. Jy sal natuurlik aan maniere dink om te verander. Kontak dus die persoon wat jou die negatiewe terugvoer gegee het, bedank hom daarvoor, en skeduleer ʼn tyd omtrent ʼn maand verderaan om te ontmoet. Vertel hom van jou doelwit om te verander en hoe jy sukses daarmee meet.

Bron: Harvard Business Review

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51