Hoe om ’n vakleerling te word en die meeste daaruit te kry

Maandag, Oktober 24th, 2016

Joseph Blass

 

Vakleerlingskappe is tans ’n baie gewilde onderwerp en aansporings het ’n groot verskeidenheid geleenthede in verskillende bedrywe geskep. Daar is taai mededinging om permanente betrekkings en dus is dit belangrik om uit te blink.

Wat soek ’n werkgewer in ’n vakleerling? Hoe kan jy jou kans die beste aangryp indien jy wel die werk kry?

 

Aansoek en onderhoud

Meeste vakleerlinge het nie formele opleiding of kwalifikasies nie. Werwers is dus op soek na mense wat passievol is oor die sektor waarin hulle om ’n pos aansoek doen en dus energiek en entoesiasties sal wees.

Ondanks jou tekort aan regstreekse werkondervinding kan jy nogtans jou belangstelling en vaardighede op ander maniere ten toon stel. Dit sluit in om, indien dit van toepassing is, na jou stokperdjies te verwys. Iemand wat, byvoorbeeld, om ’n vakleerlingskap as ’n tegnikus aansoek doen, sal geen probleme in ’n onderhoud hê nie indien hy sy liefde vir inligtingstegnologie kan demonstreer deur te wys hoe hy dit in sy vrye tyd gebruik.

Dit is ook belangrik om van die ander algemene vaardighede wat nodig is in die werkplek, soos goeie kommunikasievaardighede en kreatiwiteit sowel as die vermoë om te vernuwe, te demonstreer. Verstrek voorbeelde van hoe jy al in ’n groep of op jou eie gewerk het. Kortom, wys hoe veelsydig jy is. As daar ’n element van verkoops- of kliëntinteraksie is, praat oor jou ervaring om ’n puik diens in ander fasette van jou lewe te lewer. Wys hoekom dit goed was en wat jy daaruit kon put.

Dit is moeilik om werk en akademiese studies met mekaar te balanseer. Werkgewers is dus op soek na indiwidue met ’n begeerte om meer te leer en wat hard wil werk.

Onthou: dit gaan nie net oor wat jy sê in jou aansoek nie; liggaamstaal is deurslaggewend in ’n onderhoud – iets wat baie groentjies vergeet. Maak oogkontak, sit regop in jou stoel en praat duidelik sonder om te mompel. Onthou ook dat jou voornemende werkgewer oplet na hoe jy waarskynlik met kliënte te werk sal gaan.

 

Wees geduldig

Vakleerlinge kan soms in die strik trap om te hard te probeer of te veel te vinnig te wil doen. Hulle raak dan ongeduldig as die ratte dan nie vinnig genoeg draai nie. Hierdie ongeduld kan dan as verveling vertolk word.

Omdat jy nuut in die bedryf is, is dit nie ongewoon om met die meer basiese take te begin nie. Aanvanklik gaan dit daaroor om jouself in te werk, ’n gevoel vir die rol te kry en vertroud te raak met die bedryf.

 

Weet waarby jy betrokke raak

Maak seker jy het ’n goeie begrip van wat jou werkgewer en bestuurder van jou verwag en vermy sodoende teleurstelling. Vra of jy met ander vakleerlinge kan praat voordat jy begin werk. Dit wys jy neem leiding – iets wat werkgewers op prys stel – en dit sal verseker jy kry goeie insig in die organisasie en jou rol as vakleerling.

 

Erken jou tekortkominge

Dit is noodsaaklik om te kan erken as jy nie geskik is vir iets nie. As jy dus niks van verkope hou nie en nie goed is daarmee nie, sê dan so. Dit is beter om ’n geskikte loopbaan te vind as om te probeer om die verkeerde een op jouself af te dwing. Werkgewers waardeer eerlikheid en selfbewustheid as ’n teken van professionele volwassenheid.

Jy sal jouself in staat stel om na ’n alternatiewe loopbaan te soek deur eerlik te wees pleks daarvan om hard te werk in ’n vakleerlingprogram wat jy nie geniet nie.

 

Luister na jou kollegas

As ’n vakleerling gaan jy waarskynlik in aanraking kom met ’n klomp vaardige indiwidue wat reeds in die bedryf werk. Hulle kan miskien in ’n ander lewensfase as jy wees en ander tydverdrywe beoefen, maar maak seker jy bestee tyd saam met hulle – hul advies en ondervinding kan jou regtig in staat stel om ’n suksesvolle loopbaan te bou.

Moenie die fout maak om hulle weg te stoot nie. Beskou hulle as jou mentors en put uit hul vernuf en ondervinding. Vra hulle vir raad en terugvoer om jou vaardighede te verbeter, beplan jou loopbaan, verhef jou profiel en gee jou selfvertroue ’n hupstoot.

 

Wees selfversekerd en positief

Werkgewers belê baie tyd en geld in vakleerlingskapprogramme en hulle wil sien dat dit ’n positiewe impak maak. Dit is belangrik om te demonstreer dat jy honger is om te leer en belang stel in die bedryf. Moenie bang wees om idees te opper nie.

Die werklikheid is dat menige werkgewer jou aan die einde van jou vakleerlingskap ʼn pos sal aanbied omdat hulle jou leer ken het en nie jou kennis wil verloor nie. Jy moet egter wys jy wil werklik daar wees en dat jy verbind is tot wat jy daar doen. Wees positief, wys jy kan leiding neem, streef daarna om te beïndruk en besin oor wat jy aan die span bied.

As jy gretig is om betrokke te raak en jouself in ’n span te integreer, sal jy sukses behaal. Vakleerlingskappe sal jou met die nodige kwalifikasies toerus om die betrokke veld te betree asook onskatbare praktiese ondervinding bied.

 

Joseph Blass is die uitvoerende hoof van WorkPlaceLive, wat ’n vyfde van sy werkmag as vakleerlinge in diens het. Hierdie artikel het oorspronklik in The Guardian verskyn.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Wil jy graag jou eie baas wees? Vra dan eers jouself die regte vrae
Anja van den Berg   Die meeste mense begryp dat besigheidskennis nodig is om ʼn besigheid te bedryf, maar die meeste suksesvolle besigheidseienaars het ook bykomende vaardighede en eienskappe wat ʼn suksesvolle besigheid aanhelp. Voordat jy besluit om met ʼn besigheid te begin, moet jy nadink oor watter eienskappe jy het, hoe jou kop werk […]
Die kliënt kom altyd eerste
Karen van der Berg   Die noodsaaklikheid om goeie verhoudings met kliënte te bou, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is deur hierdie verhoudings wat jy werklik jou kliënte se behoeftes begin verstaan. Hannes Venter van Global & Local Inc., ’n konsultant wat hulp aan klein ondernemings bied, het vyf goue reëls om goeie […]
Voortdurende veranderings in die werkplek
Anja van den Berg   In die 1960’s het die werkplek gewentel om ʼn nege-tot-vyf-werkdag, mans het hulle vroue en kinders tuis onderhou, en werk het gewoonlik fisiese arbeid behels. Personeel het by die werk gerook – selfs in die kantoor – en daar was geen voorskrifte vir korrekte etiket in die personeelkombuis nie, aangesien […]
1 2 3 53