Hoe verseker jy ʼn goeie werk?

Dinsdag, Maart 1st, 2016

Michelle Marnewick

 

 

Wat beteken ʼn goeie werk? Jim Clifton, HUB van die peilingsmaatskappy Gallup, definieer dit as ʼn werk waar jy weet wat van jou verwag word en jy die vermoë besit om dit te doen en daarin te presteer. Verder sê hy dit is omstandighede waar jou baas geïnteresseerd is in jou loopbaan se sukses en die ontwikkeling daarvan,waar jou mening tel en jy ook ʼn sê het, en waar jy voel dat jou werk ʼn belangrike doel het en ʼn bydrae lewer.

Jy bestee die grootste deel van jou tyd by die werk en daarom is dit baie belangrik om ʼn werk te kry wat aan jou behoeftes voldoen. Werktevredenheid speel ʼn baie groot rol in die suksesvolle uitvoering van jou pligte en beïnvloed ook jou gesondheid en welstand. Besluit dus wat vir jou ʼn goeie werk sal wees en doen wat jy kan om dit te kan kry. Prediker 9:10 sê vir ons: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.”

Wees leergierig en altyd bereid om jouself te verbeter. Stel vas waar jy steeds moet ontwikkel en kyk wat jy kan doen om dit te laat gebeur. Elke pos verskil en vereis dus verskillende vaardighede en kwalifikasies. Nie almal is egter in ʼn situasie waar hulle addisionele opleiding kan kry en kursusse kan doen nie. Kyk of jy nie ten minste die minimum kan doen wat jou kanse sal verbeter om die ideale werk te kry nie. Iets so eenvoudig soos ʼn Word- of Excel-kursus is somtyds al wat nodig is. Kyk waar jy jouself kan leer en kan ontwikkel, en bevorder jou eie kanse op hierdie manier.

Stel vas wat jy na die tafel kan bring wat iemand anders dalk nie kan nie. Dink buite die boks en indien moontlik, probeer jou eie geleenthede skep, byvoorbeeld deur ʼn klein onderneming te begin of ʼn entrepreneur te word. Op hierdie manier kan jy weer werk skep en ook ander mense help wat op geen ander plek ʼn geleentheid kry nie. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik nie, en indien jy dit nie kan doen nie is dit ook reg so. Soek dan vir werk in ʼn reeds gevestigde besigheid, wat na jou behoeftes omsien en volgens jou ʼn goeie werk is.

Talle mense kan nie werk nie bloot omdat hulle nie ʼn manier het om by die werk uit te kom nie. Dis dus belangrik om seker te maak basiese dinge is in plek, byvoorbeeld die besit van ʼn rybewys. Indien dit nie vir jou moontlik is nie, vind ʼn manier om nie toe te laat dat jou omstandighede jou loopbaan beperk nie.

Stel vir jouself ʼn CV saam. Indien dit nie vir jou moontlik is om dit elektronies te doen nie, skryf dit op ʼn stukkie papier neer. Met elke kursus, kwalifikasie, vaardigheid wat verbeter/voltooi is, kan jy jou CV opdateer. Jou CV is die beste vorm van bemarking van jouself in die professionele wêreld en speel ʼn groot rol in die werk wat jy kry. Maak seker dit is ʼn ware weerspieëling van jouself en jou loopbaan. Dit moet professioneel voorkom en geen spelfoute of iets anders bevat wat jou kan benadeel nie.

Wanneer jy die nodige kwalifikasies gekry het en die tyd reg is om vir werk aansoek te doen, stuur jou CV na verskeie organisasies en maak seker jy is bekend in die mark daar buite.

 

Bronne:

 

Die Bybel, Prediker 9:10.

Clifton, J. 2011. “The coming of jobs war”. New York: GallupPress.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51