Hoekom en hoe om ʼn onderwyser te word

Dinsdag, April 5th, 2016

Nico Strydom

 

“Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander.”

Hierdie woorde van oudpres. Nelson Mandela beskryf die impak wat ʼn onderwyser of opvoeder kan hê. Die onderwysprofessie word ook meestal beskryf as ʼn beroep wat “ʼn verskil maak”. Volgens die Departement van Onderwys is die onderwys ʼn edele beroep wat “passie, toewyding, verdraagsaamheid, deursettingsvermoë en karakter verg asook die verbintenis om ʼn verskil in die lewens van ʼn diverse groep jong en ouer kinders te maak, afhangende van die fase waarin jy kies om te spesialiseer”.

 

Wie kwalifiseer om ʼn onderwyser te word?

  • Iemand wat vir ʼn vierjaar- Baccalaureusgraad in Opvoedkunde (BA(Ed)) studeer; en
  • Iemand wat ʼn loopbaanverandering wil maak en ʼn onderwyser word en wat reeds ʼn drie- of vierjaar- Baccalaureusgraad verwerf het asook ʼn eenjaar- Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS).

Albei hierdie roetes lei tot die klassifikasie as professioneel gekwalifiseerde onderwyser. Gekwalifiseerde onderwysers moet by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) registreer.

Die ander belangrike deel van onderwysstudies is om die fase (vlak van skoolopleiding) te kies waarin jy wil spesialiseer met inagneming van die ouderdomsgroep waarvoor jy verkies om skool te hou. Die ouderdomsgroepe is soos volg in fases gegroepeer:

  • Grondslagfase (±5 – 9 jaar): Graad R – 3
  • Intermediêre fase (±10 – 12 jaar): Graad 4 – 6
  • Senior fase: (±13 – 15 jaar): graad 7 – 9
  • Verdere Onderwys en Opleidingfase (VOO) (±16 – 18 jaar): Graad 10 – 12

Volgens die Departement van Onderwys maak sommige hoëronderwysinstellings voorsiening vir ʼn kombinasie van fases. In daardie geval kan jy in twee opeenvolgende fases spesialiseer. “Jy sal by ʼn hoëronderwysinstelling soos ʼn universiteit, ʼn universiteit vir tegnologie of ʼn nasionale instituut vir hoër onderwys moet studeer; hulle bied kwalifikasies aan wat erken word vir indiensneming as ʼn onderwyser in Suid-Afrika. Daar is tans 22 openbare hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika wat onderwyserkwalifikasies aanbied.”

Volgens die Departement kan studente wat in die Intermediêre, Senior en VOO-fases spesialiseer, kies in watter vakke hulle wil spesialiseer. Dit sluit tale, wiskunde, die wetenskappe, tegnologie, sakestudies en bestuurswetenskappe in, asook die geesteswetenskappe.

Klik hier vir meer inligting.

Die voordele van die onderwysberoep sluit onder andere die volgende in:

  • om ʼn verskil te kan maak;
  • interpersoonlike interaksie;
  • lewenslange leer;
  • persoonlike groei; en
  • baie vakansies.

Die nadele van die onderwysberoep sluit onder andere die volgende in:

  • baie lang werkdae;
  • in party gevalle ʼn klein salaris;
  • baie stres;
  • moeilike leerlinge; en
  • roetine.

Maryna de Beer* hou al meer as 20 jaar skool. Sy werk tans by ʼn vooraanstaande hoërskool in Pretoria. Volgens De Beer beland mense dikwels in die onderwys as gevolg van ʼn gebrek aan beskikbare geleenthede in hul spesifieke studierigtings. Sy sê mense raak ook dikwels onderwysers omdat hulle op skool ʼn inspirerende onderwyser gehad het.

Volgens De Beer moet ʼn onderwyser voortdurend bly studeer. “ ʼn Gegradueerde student weet baie min van sy/haar vak(ke), die kinders wat in sy/haar klas is en die stelsel waarin hy/sy werk. Tendense in die onderwys, metodologie, kundigheid en die sielkundige aspek van onderwys moet op grondvlak opgevolg word.”

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55