Jou eerste dag by ’n nuwe werk

Maandag, Desember 12th, 2016

Solette Swanepoel

 

Die eerste dag by ’n nuwe werk kan uitmergelend wees: jou verantwoordelikhede word aan jou gekommunikeer, dis ’n nuwe omgewing en die dinamika is dalk anders as dít waaraan jy gewoond is. En al het jy waarskynlik ’n onderhoud gehad en jou nuwe baas ontmoet, ontmoet jy nou jou kollegas, vir wie jy natuurlik ook wil beïndruk.

Vorige navorsing het getoon dat eerste indrukke binne sewe sekondes gevorm word, maar ’n onlangse studie verskil hiervan. Volgens sielkundiges van die Universiteit van Glasgow word daar binne ’n halwe sekonde nadat iemand se stem gehoor is, ’n oordeel oor die persoon se betroubaarheid gevel. Wat eerste indrukke selfs belangriker maak, is dat mense moeilik hulle eerste indrukke aanpas. ’n Kanadese navorser, Bertram Gawronski, het bevind dat eerste indrukke redelik blywend is en ander indrukke oorskadu, selfs nadat nuwe infligting oor die individu bekend is.

Aangesien die indruk wat jy op jou eerste werkdag maak waarskynlik blywend is, volg hierdie paar wenke om te verseker dat jy die beste indruk moontlik maak.

 

  • Kom vroeg en bly tot laat

Kom ’n bietjie vroeër, veral as jy pendel en onseker oor die verkeersdruk is. Sit in die parkeerarea as jy meer as 10 minute vroeg is. Bly ook ’n bietjie later as wat daar van jou verwag word.

 

  • Trek gepas aan

Hoe jy op jou eerste werkdag aantrek, is baie belangrik. Trek aan soos jy deur ander gesien en beleef wil word. Dra gepaste kleredrag en sorg dat jy deur ’n ring getrek kan word ̶ dit kommunikeer betroubaarheid en laat jou professioneel lyk.

 

  • Berei ’n hysbakgesprek voor

Baie kollegas sal jou ’n paar vrae vra in ’n poging om jou te leer ken. Wees gereed om in 30 sekondes te verduidelik wie jy is, waar jy voorheen gewerk het en wat jou nuwe pos behels.

 

  • Luister en vra vrae

Luister en maak aantekeninge van wat van jou verwag word. Moenie skaam wees om vrae te vra nie ̶  vrae wys dat jy nuuskierig is en gretig is om te leer.

 

  • Leer jou kollegas se name

Niemand verwag dat jy al jou kollegas se name na die eerste dag moet ken nie, maar probeer ten minste die name van jou span onthou.

 

  • Vermy politiek en skinder

Moenie betrokke raak by skinderstories nie, veral nie op jou eerste werkdag nie. Politiek in die werkplek is somtyds onvermydelik, maar probeer so lank moontlik onbetrokke bly.

 

  • Neem inisiatief

As ’n nuweling sal jy klein hoeveelhede werk kry. Wanneer jy ’n taak afgehandel het, neem die inisiatief om vir nog ’n taak te vra. Wees proaktief en wys dat jy gretig is om te leer.

 

  • Sê dankie

Sê aan die einde van jou eerste dag vir dié wat jou gehelp het dankie. Jy kan dit sommer per e-pos doen. Jou waardering sal definitief nie ongesiens verbygaan nie.

 

Bronne

Gianna Sen-Gupta, 2014, Expert Advice: 8 Tips to Succeed on Your First Day of Work, Nerdwallet, http://www.nerdwallet.com/blog/nerdscholar/2014/expert-advice-8-tips-succeed-first-day-work/.

 

Jacquelyn Smith, 2015, 21 things you should do on your first day of work, Business Insider,

http://www.businessinsider.com/things-to-do-on-the-first-day-of-work-2015-6.

 

Phil McAleer, 2014, New research reveals the secret to making a good first impression, University of Glasgow, http://www.gla.ac.uk/news/archiveofnews/2014/march/headline_312691_en.html.

 

Randall S. Hansen, [s.a.], Your First Days Working at a New Job: 20 Tips to Help You Make a Great Impression, Quintessential Careers, http://www.quintcareers.com/first_days_working.html.

Rick Nauert, 2011, Why first impressions are difficult to change, Live Science, http://www.livescience.com/10429-impressions-difficult-change-study.html.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51