Loopbane: Ken jou persoonlikheid

Woensdag, November 4th, 2015

Luzette Botha

 

  

Wanneer ek groot is, wil ek ʼn musiekkunstenaar word en by T in the Park in Londen optree!

Dít was my grootste droom as kind. Maar soos talle ander dromer-kinders, het ek groot geword, matriek geskryf en gaan studeer sonder om weer aan my passie en persoonlikheid te dink, en nou, op die ouderdom van 28, besef ek hoe belangrik dit is om jouself, jou persoonlikheid en jou vermoëns te ken.

Vir iemand met ʼn persoonlikheid vir mense sal dit emosionele en geestelike selfdood wees om elke dag vir 8 ure in totale stilte voor ʼn rekenaar te sit en statistiek ontleed. Net so sal iemand wat ʼn passie het vir syfers en stiltes nie noodwendig floreer as kunsonderwyser nie.

Volgens Business Insider het Deloitte se Shift Index Survey in 2010 getoon dat sowat 80% mense na bewering ongelukkig is in hul werk. Sommige sal egter die moed bymekaar skraap om ʼn loopbaanskuif te maak, terwyl ander bloot sal vasbyt omdat hulle verseker is van ʼn inkomste.

Maar hoe gemaak as jou loopbaanbesluit as jong volwassene ʼn ‘kop’-besluit was, eerder as ʼn ‘hart’-besluit? Neem jy ʼn geloofsprong en maak ʼn loopbaanskuif, of besluit jy om die beste te maak van die werk wat jy wel het?

Hier is ʼn paar persoonlike wenke wat my al nuttig te pas gekom het:

 

1. Weet ‘wie’ jy is. Wat is vir jou lekker? Wat is vir jou sleg? Wat maak jou kwaad? Wat gee jou ʼn lus vir die lewe en wat dreineer jou?

 

2. Identifiseer jou sterk punte en bestuur dit. Dit is gewoonlik heelwat makliker om op jou sterk punte te fokus en daarop te bou. Gebruik dit ten goede in jou werkomgewing maar waak egter daarteen dat jou sterk punte nie iemand anders se swak punte uitbuit of sy of haar sterk punte onderdruk nie.

 

3. Identifiseer jou swak punte, en konfronteer dit. Dit gebeur dikwels dat mens se swak punte vir jou ʼn blinde kol is, of word. Dit is egter belangrik dat jy hierdie blinde kol identifiseer en konfronteer. Sodoende skep dit vir jou die geleentheid om daaraan te werk, dit te ontwikkel en selfs later om te skakel in ʼn sterk punt.

 

4. Maak self jou geluk. As jy gelukkig is, bou daarop. As jy ongelukkig is, bepaal wat jou ongelukkig maak en of jy dit kan verander. As jy dit nie kan verander nie, besluit of jy kan verander. As jy nie kan of wil verander nie, besluit of jy dit kan aanvaar en daarmee kan saamleef. Oplaas, as jy nie daarmee kan saamleef nie… is dit dalk tyd om ʼn loopbaanskuif te oorweeg.

 

Ongeag of jy gelukkig of ongelukkig is… ken jouself. Wees jouself. En doen waarvan jy hou. Jy is immers minstens 75% van jou dag by die werk.

 

Bronne:

 

Alyson Shontell, Oktober 2010, “80% Hate Their Jobs – But Should You Choose A Passion Or A Paycheck?”, http://www.businessinsider.com/what-do-you-do-when-you-hate-your-job-2010-10

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51