Deur Essie Bester
ʼn Groei-ingesteldheid is van kritieke belang in vandag se wêreld van werk. Werkgewers begin al hoe meer besef dat werknemers met ʼn vasgestelde of eng manier van dink die onderneming se risiko om te stagneer – sonder die nodige bestanddele om te innoveer en vorentoe te beweeg – vergroot.
Maniere waarop jy ʼn groei-ingesteldheid aan jou onderhoudvoerder kan demonstreer
Wys dat jy die groei-ingesteldheid het waarna die werkgewer soek deur vooraf jou navorsing oor die betrokke onderneming so volledig moontlik te doen. Beskou dit as ʼn projek op sigself en wees deeglik. Ondersoek die maatskappy, jou onderhoudvoerder, onlangse bedryfsnuus en/of produkbekendstellings volledig. Op dié manier bewys jy aan jou onderhoudvoerder dat jy proaktief en gereed is en dat jy uitdagings (soos om voorbereid by die onderhoud op te daag) met albei hande aangryp.
Persone met ʼn groei-ingesteldheid skram nie weg wanneer hulle deur probleme gekonfronteer word nie, maar doen stappe. Hulle is nie bang om foute te maak nie en laat ook nie toe dat negatiewe gedagtes oorneem en hul selfvertroue of benadering tot die oplossing van ʼn gegewe probleem beïnvloed nie. Hulle glo onwrikbaar in hul vermoë om die probleem op te los, selfs al is dit in ʼn area waarin hulle onkundig is.
Dink voor die onderhoud terug aan ʼn tyd toe jy ʼn probleem wat buite jou gemaksone was, moes oplos. Bespreek tydens die onderhoud hoe jy die probleem aangepak het. Verduidelik hoe jy proaktief alle hindernisse in die proses hanteer het, en wat jy gedurende die proses geleer het. Moenie bekommerd wees as jy dit nie kon oplos nie. Wat in die gedagtes van die onderhoudvoerder sal vassteek, is die feit dat jy ʼn proaktiewe benadering tot probleemoplossing het en dat jy nie bang is om probleme te konfronteer nie.
Diegene met ʼn groei-ingesteldheid hou van leer, nie net op die gebiede waarin hulle gemaklik voel of selfs van nature belangstel nie, maar in ʼn wye verskeidenheid onderwerpe. Hulle fokus op selfverbetering – dus is gewoontes soos lees, om na podsendings te luister, aan kwalifikasies te werk of bedryfsgeleenthede by te woon, alles dinge wat hulle as vanselfsprekend beskou.
Individue met ʼn groei-ingesteldheid verstaan dat hul talente en vermoëns ontwikkel kan word deur inspanning, goeie onderrig en volharding. Tydens jou onderhoud moet jy die aanleer van nuwe vaardighede of die bywoning van opleidingskursusse in jou antwoorde vervleg. Vra ook wat die organisasie se verbintenis tot die ondersteuning van ʼn groei-ingesteldheid en ontwikkeling by hul werknemers is.
Mense met ʼn groei-ingesteldheid verstaan dat mislukking ʼn belangrike aspek van leer en groei is. Hulle beskou dit daarom nie as ’n hindernis nie, maar eerder as ʼn geleentheid om hul vaardighede verder te ontwikkel. Moet dus nie wegskram wanneer jy tydens die onderhoud gevra word om te vertel van ʼn tyd toe jy misluk het nie.
Beplan vooraf watter mislukking jy wil bespreek. Doen dit dan sonder om verskonings te maak of andere te blameer. Verduidelik hoe dit gebeur het, wat jy daaruit geleer het en wat jy in die vervolg anders sal doen.
ʼn Algemene taktiek is om elke projek in hanteerbare en realistiese take of doelwitte op te breek en dan die voltooiing van elkeen as ʼn motiveerder te laat dien. Verduidelik hoe jy op soortgelyke wyse te werk gaan.
Die wêreld van werk verander en ontwikkel teen ʼn dolle tempo en die waarskynlikheid dat ons meer gereeld buite ons gemaksones gaan werk, raak al groter.
Bewys dat jy bereid is om dit buite die grense van jou normale daaglikse roetine te waag en dat jy in staat is om nuwe gebiede met ywer, vertroue en proaktiwiteit te verken deur byvoorbeeld te vertel van ʼn nuwe stuk tegnologie of ʼn instrument wat jy leer gebruik het. Sorg dan dat jy verder kan vertel hoe jy ander lede van jou span opgelei het om dit te gebruik. Só bewys jy aan jou onderhoudvoerder dat jy in jouself glo en in jou vermoë om buite jou gemaksone te werk.
As die onderhoudvoerder jou beskou as ʼn nuuskierige en geïnteresseerde kandidaat sal dit hom of haar ook help om jou te sien as iemand met ʼn ingebore groei-ingesteldheid. Die stel van goed voorbereide vrae oor die werkgewers en die onderneming sal bewys dat jy ander as bronne van leer en groei beskou. Vra uit oor kwessies soos die volgende:
Jou rol
Is daar ruimte vir loopbaanvordering?
Hoe lyk ʼn tipiese dag?
Kan jy my meer oor my span vertel?
Jou span
Wie is die hoof belanghebbendes?
Hoe pas die span in die algehele struktuur van die onderneming in?
Die onderhoudvoerder
Wat is jou agtergrond?
Hoe ervaar jy dit vanuit jou perspektief om hier te werk?
Die besigheid
Wat is die belangrikste uitdagings en geleenthede waarvoor die onderneming te staan kom?
Hoe lank bly werknemers gewoonlik by die onderneming?
Leer en ontwikkeling
Hoe gereeld sal my prestasies beoordeel word?
Watter opleidingsgeleenthede is daar?
Wees proaktief deur op te volg met ʼn e-pos aan die onderhoudvoerder waarin jy hom of haar bedank vir sy of haar tyd. Herhaal jou belangstelling in die rol. Dit sal dien as ʼn voorbeeld van jou neiging om die ekstra myl te stap.
Indien jy die pos aangebied word, moet jy voortgaan om jou groei-ingesteldheid te toon deur die manier waarop jy voorberei vir jou eerste dag, en hoe jy in die eerste paar weke en maande optree.
Bronne
https://social.hays.com/2016/02/05/15-questions-to-ask-your-interviewer/
Foto krediet: You X Ventures | Unsplash
Oops! We could not locate your form.