Moenie daai ‘gap’-jaar neem nie!

Woensdag, November 18th, 2015

Anja van den Berg

 

Oorbruggingsjare, oftewel “gap”-jare soos hulle nou bekend staan, neem toe in gewildheid en word ook baie gedebatteer. Die term “gap”-jaar beteken kortliks om te enige tyd van onderwys weg te breek, maar vind die meeste plaas na hoërskool en net voordat met universiteits- of tersiêre opvoeding begin word.

“Voorstaanders sê dit kan aan studente klaarheid verskaf en hulle ʼn voorsprong gee wanneer hulle na hulle studies terugkeer. Teenstaanders sê dit kan onproduktief wees en dit in werklikheid vir studente moeiliker maak om na die klaskamer terug te keer,” sê Michelle Knoll, spesialisskrywer vir die Rasmussen College webwerf. “Ongeag aan watter kant van die debat jy is, stem albei kante saam dat ʼn ‘gap’-jaar goed deurdag en deeglik beplan moet word met vasgestelde doelwitte.”

 

Geen duidelike doelwitte, geen ware professionele voordele

Wanneer studente daarvan praat om oor die wêreld heen te reis, is dit ʼn plan wat blyk baie moeiliker te wees as oorspronklik beplan sodra hulle die faktore van koste en uitvoerbaarheid in berekening bring, verduidelik ʼn skrywer vir Career Overview. Laura Bridgestock, wat namens top universities.com, skryf, beklemtoon ook dat studente dikwels nie duidelike doelwitte stel oor hoe hulle reise en beoogde ervaring tot hulle voordeel sal strek wanneer hulle na die normale lewe terugkeer nie. “Sommige jong mense gee werklik verskriklike redes waarom hulle ʼn ‘gap’-jaar wil neem,” verduidelik sy. “Dit sluit in frases soos ‘Almal doen dit’, ‘Dis my enigste kans om vry te wees’ en ‘Ek wil net ʼn bietjie losbreek’.”

Akademiese kundiges sê dat sonder ʼn duidelik uitgewerkte plan raak studente wat ʼn “gap”-jaar neem dikwels verder agter hulle tydgenote, wat kan lei tot frustrasie en stres vir die studente sowel as vir hulle gesinne. Hierdie kundiges beklemtoon dat selfs met ʼn duidelik uitgewerkte en behoorlik uitgevoerde plan ʼn “gap”-jaar baie duur kan wees – dit dra by tot studieskuld en maak tersiêre opleiding selfs moeiliker om te bekostig wanneer hulle huis toe kom. Knoll sê dat studente wat in laestres-omgewings werk, byvoorbeeld in somervakansiekampe, daaraan gewoond mag raak om sakgeld beskikbaar te hê vir vermaak en ontspanningsaktiwiteite. “Gevolglik,” verduidelik Knoll, “wil hulle nie geld op studiegeld en onderrig bestee nie. Hierdie studente verloor dikwels die feit uit die oog dat voortgesette  onderwys ʼn belegging is wat hulle vermoë om te verdien in der waarheid verhoog.”

Raak agter – akademies sowel as sielkundig

Knoll onderstreep ook dat teenstaanders van die “gap”-jaar bevrees is dat wanneer studente die opvoedingsmilieu verlaat en proe hoe die “regte wêreld” smaak, hulle dalk nooit na die stres, struktuur en eise van die akademiese lewe sal wil terugkeer nie.

Careeroverview.com beklemtoon die idee dat studente wat ʼn breuk maak heel waarskynlik sal agter raak – akademies sowel as sielkundig. “As jy ʼn jaar afneem, wees bereid om op die sosiale toneel verlore te raak. Studente van jou ouderdom is een jaar verder en het alreeds verhoudings met ander studente gevorm. Hoe langer jy van die klaskamer weg was, kan lei tot geheueverlies van belangrike inligting, wat jou net verder agter die res van die klas stoot wat onlangs gegradueer het.”

As jy nie enige “gap”-jaarplanne het wat jou werklik opgewonde maak nie, moet jy dalk jou breuk uitstel totdat jy ʼn graad agter jou naam het. Jong mense sal waarskynlik meer baat  daarby vind om te reis nadat hulle van studente na gegradueerdes gevorder het, beide in terme van lewenservaring en werkvooruitsigte. ʼn Graad agter jou naam bied beter werksgeleenthede – jou reise mag dalk net lei tot werk oorsee, wat ʼn ware bydrae kan maak tot jou CV in die regte wêreld van werk.

 

Bronne:

Career Overview. 2010. “WHY YOU SHOULD NOT TAKE A GAP YEAR”. http://www.careeroverview.com/blog/2010/why-you-should-not-take-gap-year/

Bridgestock, L. 2012. “Five Terrible Reasons to Take a Gap Year (and Five Pretty Good Ones)”. Topuniversities.com, http://www.topuniversities.com/blog/five-terrible-reasons-take-gap-year-five-pretty-good-ones

Knoll, M. 2012. “A Gap Year: Weighing the Pros and Cons”. Rasmussen College, http://www.rasmussen.edu/student-life/blogs/college-life/a-gap-year-weighing-the-pros-and-cons/

Rubenstone, S. 2013. “Pros and Cons of Gap Year”. College Confidential, http://www.collegeconfidential.com/dean/000308/

  •  
  •  
  •  
  •  
  • Hanno

    Kan julle nie beter doen nie as “gap”-jaar? Of is jul Afrikaans te swak?

  • Maggie

    Ek is 45 jaar oud en het ‘n Honneurs graad. Die dinge waaroor ek nou spyt is gaan nie oor die dinge wat ek gedoen het nie, maar die dinge wat ek NIE gedoen het nie. My raad aan my kinders was – moet nie gaan studeer nie. Toer, werk oorsee, jol kry alles uit jou sisteem en dan kom jy terug en maak ‘n ingeligte besluit wat jy wil doen. Boeta het toe besluit om te gaan studeer en toe hy in sy eerste jaar vakke dop stop ons sy betaling en moet hy die geld wat hy “gemors” het terugbetaal. Hy het vir ‘n jaar in Amerika gaan trekker bestuur, R300 000 gespaar en is nou seker wat hy wil doen. Heeltemal ‘n ander rigting as wat hy aanvanklik gedoen het. Verskil dalk van kind tot kind maar ouers ken hulle kinders en as jou kind enigsins twyfel laat hom toe om ‘n gap-jaar te vat en as hy steeds nie weet nie gun hom ‘n 2de gap-jaar.

Ander Artikels

Wil jy graag jou eie baas wees? Vra dan eers jouself die regte vrae
Anja van den Berg   Die meeste mense begryp dat besigheidskennis nodig is om ʼn besigheid te bedryf, maar die meeste suksesvolle besigheidseienaars het ook bykomende vaardighede en eienskappe wat ʼn suksesvolle besigheid aanhelp. Voordat jy besluit om met ʼn besigheid te begin, moet jy nadink oor watter eienskappe jy het, hoe jou kop werk […]
Die kliënt kom altyd eerste
Karen van der Berg   Die noodsaaklikheid om goeie verhoudings met kliënte te bou, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is deur hierdie verhoudings wat jy werklik jou kliënte se behoeftes begin verstaan. Hannes Venter van Global & Local Inc., ’n konsultant wat hulp aan klein ondernemings bied, het vyf goue reëls om goeie […]
Voortdurende veranderings in die werkplek
Anja van den Berg   In die 1960’s het die werkplek gewentel om ʼn nege-tot-vyf-werkdag, mans het hulle vroue en kinders tuis onderhou, en werk het gewoonlik fisiese arbeid behels. Personeel het by die werk gerook – selfs in die kantoor – en daar was geen voorskrifte vir korrekte etiket in die personeelkombuis nie, aangesien […]
1 2 3 53