Om vlieënier te word: Hoog maar beslis binne bereik

Donderdag, November 12th, 2015

Karen van der Berg

 

Vir die meeste mense is ’n rit in ’n vliegtuig ’n gerieflike en veilige manier om na ’n bestemming te reis. Vir ander is dit ’n beroep, een wat ontsaglike kundigheid en vernuf vereis. Nietemin, om te kan vlieg is baie bevredigend, vertel Annique Oosthuizen (31), ’n lugdiensvlieënier van Durban.

Solidariteit het gaan uitvind wat dit behels om hoog bo in die lug, bokant kontinente, te werk.

“Dit is ’n baie lang en ingewikkelde pad om as  handelsvlieënier te kwalifiseer,” vertel sy. Die opleiding bestaan uit verskillende fases en ’n mens kan dit so stadig of so vinnig doen as wat jy dit kan bekostig en baasraak.  Dit verg dus heelwat selfdissipline.

Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy wil begin vlieg, is om die baie belangrike mediese ondersoek te ondergaan.

“Indien jy nie aan die mediese kriteria voldoen nie, is dit ongelukkig waar die paadjie na handelsvlieënier doodloop.  Dit is baie belangrik om dit eerste te doen voordat jy enige geld uitgee aan opleiding.”

Annique sê die tweede stap is om ’n vliegskool te kies. ’n Skool met ’n goeie reputasie en veiligheidsrekord sal baie beter op jou CV lyk.

Die vliegskool sal jou dan help om aansoek te doen om ’n SP, ’n studentevlieglisensie, sodat jy praktiese opleiding by die vliegskool mag ontvang.

Intussen sal jy begin met die grondskoolfase en teoretiese eksamens vir die privaatvlieënierslisensie (PPL).

“Die praktiese vliegure vir die PPL is 50 uur, maar dit hang af van jou vordering.  Met goeie weer kan dit in minder as twee maande voltooi word.”

Die volgende stap is om ’n naggradering te voltooi sodat jy snags mag vlieg. “In dié stadium doen jy ook ’n aanpassing na ’n effens groter vliegtuig met ’n meer gevorderde enjin.  ’n Aanpassing of gradering moet gedoen word vir elke tipe vliegtuig wat jy wil vlieg.”

Daarna keer die meeste vliegstudente vir sowat vyf weke terug na die klaskamer vir die  handelsvlieglisensie se grondskool.

“Dit is ’n massa werk en bestaan uit agt vakke.  Die slaagsyfer vir alle vliegvakke is 75%.  Die meeste vliegstudente gaan na die grondskool huis toe vir ’n paar maande om te studeer.  Jy kan jou eksamen bespreek wanneer jy gereed is, maar wanneer jy begin skryf moet jy al agt vakke  binne ’n sekere tydperk deurkom.

Daar is ook ‘n beperkte hoeveelheid kere wat jy elke eksamen mag skryf om deur te kom.”

Annique sê sodra jy al agt vakke geslaag het, begin jy met die res van die vliegure om die handelslisensie te bekom.

“Dit bestaan uit verskillende lesse wat al die aspekte van die lisensie toets. Die toets sluit ook gewoonlik die instrumentgradering in, wat beteken dat jy moet kan vlieg sonder om die grond te sien. Die toets word gedoen op 200 uur of meer.”

Sy sê van die aansoek om die studentevlieglisensie totdat jy jou handelslisensie het, neem die meeste studente sowat 18 maande.

“Met die handelslisensie kan jy nou om jou eerste werk as vlieënier aansoek doen. Die goeie nuus is dat jy in hierdie stadum begin geld verdien terwyl meeste van jou universiteitsmaats nog besig is om te studeer.  Die slegte nuus is dat 200 uur ervaring bitter min is en dat dit baie moeilik is om jou eerste werk los te slaan.  Baie vlieëniers bestee nog geld aan aanpassings na groter vliegtuie om hul kanse op werk te verbeter.”

Annique sê na die verwerwing van jou handelslisensie moet jy 1 500 uur ervaring opdoen en nege geskrewe eksamens deurkom, en dan kan jy aansoek doen om jou ATPL-vliegtoets af te lê. Die lisensie stel jou in staat om met passasiers te vlieg.

As kind wou sy aanvanklik eers ’n vlugingenieur word omdat die tegniese kant van vliegtuie haar geïnteresseer het.

“Vrouevlieëniers was nie baie algemeen nie. In die hoërskool het ek besef dat die ingenieurs uitgefaseer word en dat vliegtuie nou ontwerp word om sonder hulle klaar te kom.  Ek het ’n artikel in ’n koerant gelees oor twee van die SAL se vrouevlieëniers en ek het toe besef dat dit binne my bereik is om ‘n vlieënier te word.”

Haar eerste werk as vlieënier was as instrukteur by die vliegskool waar sy haar opleiding gedoen het. “Daarna het ek  vir ’n paar jaar kontrakwerk in Afrika en die Midde-Ooste gedoen.  Die kontrakte is gewoonlik twee maande weg en dan een maand af by die huis.  Dit was regtig ’n fantastiese tyd in my lewe. Ek het plekke gesien wat geen gewone mens ooit sal besoek nie, soos Sierra Leone, Liberië, Guinee, Ivoorkus, Kongo, Bahrein, Kuweit, Oman en Irak.  Ek werk nou by ’n lugdiens in Suid-Afrika en het die voorreg om nog meer te reis.”

Vir haar is die lekkerste deel die praktiese vlieg.

“Daar is min dinge wat so bevredigend is soos ’n goeie landing.  Elke vlug is ’n uitdaging en ek is nooit verveeld nie, selfs nie eers op baie lang vlugte nie.”

Annique sê daar is ook baie uitdagings.

“Jy moet altyd op jou hoede wees. Daar is elke ses maande, tot die dag wat jy aftree, eksamens en vliegsessies. Indien jy wil studeer en klaar studeer is vlieënierwees nie vir jou nie. ‘n Ander uitdaging is om doeltreffend uit ’n tas uit te lewe. Ek besoek baie interessante plekke maar deel dit nie met my geliefdes  nie. Daarom kan dit soms eensaam wees.”

Laastens sê Annique daar is ’n waar sêding in vliegkringe: To make a small fortune in aviation, start with a large one.

Om ’n vlieglisensie te kry, is baie duur en dit is ’n goeie plan om eers oorsee te gaan wek om geld te verdien en daarvoor te spaar.

“Maar wees gewaarsku, as die vlieggogga jou eers gebyt het, los hy nie maklik nie. Dit is ’n fantastiese loopbaan en wanneer jy genoeg vliegervaring het, sal al die gesukkel van die eerste paar jaar oor en oor die moeite werd wees.”

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55