Ontdek die ‘regte jy’ met psigometriese toetse

Vrydag, Augustus 14th, 2015

Eugene Brink

 

Wil jy ’n loopbaan begin of van loopbaan verander? Voel jy jy pas nie in by jou huidige omgewing of werk nie maar wil ’n ingeligte besluit oor jou toekoms neem?

 
Vir antwoorde op hierdie vrae kan jy jou psigometries laat toets. Maar presies wat is dit?

 

“Psigometriese toetse is omtrent enigiets wat ’n sielkundige kan toets, naamlik ’n persoon se belangstelling, aanleg, persoonlikheid, intelligensie (IK) en emosionele intelligensie (EI),” sê Annette Taljaard, psigometris by Solidariteit Helpende Hand.

 

Byvoorbeeld, op die belangstellingsvlak word ’n kind se geneigdheid tot ’n ambag of ’n meer akademiese rigting bepaal. Almal van ons val in 16 breë beroepsvelde. “Ons toets hier byvoorbeeld baie kinders wat die stap van laer- na hoërskool neem en moet besluit oor vakke. Daar is ook baie voornemende en huidige studente wat ons kom sien. Tweedejaar-studente is veral volop omdat baie nie van hul graadkursusse hou nie en na iets anders wil oorskakel.”

 

Taljaard sê die persoonlikheidstoetse onthul ook 16 persoonlikheidstipes. “Ons sal toets of iemand meer op intuïsie of redenasie ingestel is, op watter skaal die persoon ekstroverte of introverte eienskappe vertoon, en of hy of sy meer dink as voel. Ander aspekte hiervan is hoe mense stres hanteer en hoe ander mense hulle sien.”

 

Verwant hieraan is EI en IK. “Hoewel EI-toetse al ’n hele ruk bestaan, is mense oningelig daaroor. Dit toets byvoorbeeld ook belangrike aspekte soos die vermoë om druk te hanteer, interpersoonlike en intrapersoonlike vaardighede, aanpasbaarheid, faktore ten opsigte van motivering asook hoe gelukkig ’n persoon is al dan nie.

 

“IK-toetse behels die vasstel van ’n persoon se verbale en nieverbale vaardighede. Nieverbale IK sluit aspekte soos wiskunde en wetenskap in terwyl verbale IK ’n wye reeks aspekte insluit, waaronder taalvaardighede.”

 

Volgens Taljaard is die sogenaamde “breinprofiel” een van die gewildste en nuttigste psigometriese instrumente. “Soms kry kinders nie geleer nie en daar word baie keer verkeerdelik gedink dis ’n aanlegprobleem.”

 

“Dis waar die breinprofiel inkom. Dit stel vas hoe ‘fiks’ die brein is in terme daarvan om die kreatiewe en logiese kante saam te gebruik. ’n Kind of persoon leer byvoorbeeld ook beter op sekere maniere. Ouditiewe leerders moet byvoorbeeld meer luister, visuele leerders lees meer en maak van prentjies gebruik, en estetiese leerders maak weer van beweging gebruik en hou van sport.”

 

“Hierdie profiel sal bepaal hoe ’n bepaalde persoon die beste leer en dan kan remediërende stappe gedoen word.”

 

So, hoe akkuraat is hierdie toetse? “Die toetse is dodelik akkuraat en ek het nog nie mense gesien wat oor verkeerde uitslae en profiele gekla het nie. Maar iemand wat byvoorbeeld bevestiging van hul akademiese geskiktheid vir ’n bepaalde beroep kry, kry ook deur middel van die toetse addisionele inligting oor hul persoonlikheid en sal dan in ’n spesifieke  rigting spesialiseer.”

 

Taljaard sê psigometriese toetse word grootliks vir beroepsleiding, personeelontwikkeling en werwing gedoen. “Dit is baie belangrik dat kinders op hoërskool, en veral rondom Grade 9, beroepsleiding ontvang. Andersins neem hulle vakke en studeer in rigtings waarvoor hulle nie aangelê is nie en mors hul tyd en hul ouers se geld.”

 

“Die toetse laat jou ook bepaal wat jou doel in die lewe is en gee veral vir jongmense die versekering dat hulle goed is in iets spesifiek. Dít maak jou uniek.”

 

Volgens Taljaard word ’n standaardevaluering in Suid-Afrika gebruik. “Verreweg die meeste toetse in die land word ook in Engels gedoen, terwyl ons toetse by Helpende Hand in Afrikaans afgelê word. As die persoon vlot tweetalig is, maak dit nie saak dat hy in sy tweede taal getoets word nie, maar andersins kan dit die navorsing skeef trek as dit nie in die moedertaal gedoen word nie.

 

“Die toetse word tradisioneel met pen en papier afgelê, maar daar is tans ’n toenemende skuif na die aanlyn opsie. Dis egter nie moontlik om goed soos IK en aanleg aanlyn te toets nie want die psigometris moet by wees en praktiese toetse met die persoon doen.”

 

“Daar is nog ook heelwat agterdog jeens aanlyn toetse en die meeste mense verkies steeds om hulself of hul kinders persoonlik by ’n psigometris te laat toets.”

 

Indien u meer oor psigometriese toetsing wil uitvind, kontak Annette Taljaard by annette@helpendehand.co.za.

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55