Foto: iStock



Oorgekwalifiseerd vir 'n werk? Só pypkan jy dit

Woensdag | 04 November | 2020

Deur Dr Eugene Brink

Jy probeer desperaat om ʼn nuwe loopbaan te betree of jy is net keelvol vir jou huidige werk en wil die pad vat.

Die meeste van ons sal in ons leeftyd in hierdie posisie wees, maar ʼn probleem duik op wanneer die “oorgekwalifiseerd”-etiket om jou nek gehang word. Om daardie nederige werk te bekom wat jy wil hê of benodig, word dan ʼn moeilike taak.

Daar is baie redes waarom werwers en spesialiste in menslike hulpbronne skeef kyk na jou aansoek om ʼn pos wat nie juis by jou vaardighede pas nie. Hulle mag dink jy sal nie lank vertoef nie, so dit maak geen sin om jou aan te stel nie. Hulle sal dink jy is ook te duur, of jy sal nie in staat wees om in te pas en ʼn spanspeler te wees nie. Sommige mag jou selfs as ʼn dreigement beskou.

Wat ook al die rede, dit hang van jou af om te bewys jy wil die pos hê en dat enige ongegronde aanname tydens die onderhoudproses weerlê word. Hier is wat jy moet doen en nie doen nie:

  1. Wees eerlik

“Sê jy weet jy beskik oor sekere vaardighede, of wat bo en behalwe dié is wat die pos vereis, maar dat jy op die uitkyk is vir ʼn addisionele tipe uitdaging of geleentheid,” sê Alexandra Levit, ʼn sakespreker en skrywer van Blind Spots: The 10 Business Myths You Can’t Afford to Believe.

Sy glo die grootste fout wat jy kan maak, is om nie die olifant in die kamer aan te spreek nie.

  1. Taal en benadering

Bogenoemde is baie belangrik, aangesien een van ʼn bestuurder se grootste bekommernisse wanneer ʼn CV van ʼn oorgekwalifiseerde persoon ontvang word, is of hy of sy sal doen wat van hom of haar verwag word en inpas. Fokus dus op die vaardighede en ervaring genoem in die advertensie.

“Moet nie klem lê op jou titels nie – vermy “Hoof van’, ‘Bestuurder’ of ‘Uitvoerende Beampte’ vroeg in jou CV of dekbrief en fokus daarop om die werkgewer eerder te vertel van jou ondervinding en waarom jy gepas is vir die rol,” sê Kellie Stanborough, MH- en werwingskundige.

Berrin Erdogan, ʼn professor in bestuur aan Portland State University en hoofskrywer van ʼn onlangse  studie oor die onderwerp, sê aanmatiging moet vermy word. “Geen werk-applikante behoort hulself oorgekwalifiseerd te noem nie. As iemand anders dit van jou sê, is dit vleiend. As jy dit sê, sit dit mense af.” As die bestuurder wat die aanstellings doen dit ophaal, wees nederig.

Erdogan beveel aan dat jy sê: “Ek weet ek het meer ondervinding as dit waarna julle soek, maar ek is opgewonde oor die maatskappy en die pos, en ek sien daarna uit om tot die beste van my vermoëns by te dra.”

  1. Dink groot

Claudio Fernández-Aráoz, ʼn senior adviseur by Egon Zehnder International en skrywer van It’s Not the How or the What but the Who, sê versiende leiers doen aanstellings vir die toekoms, nie vir hulle huidige behoeftes nie. Gebruik dit dus tot jou voordeel en beskryf hoe die pos kan uitbrei.

Hy beveel aan dat jy jou idees oor hoe groot die pos kan wees passievol deel. Pas die pos aan by jou belange en vaardighede en beklemtoon jou passie bo-oor ander voordele soos ʼn  korter reis van jou huis af werk toe of fleksietyd. “Wees proaktief met die uitlig van die moontlikhede. Bewys aan die onderhoudvoerder dat hy ʼn groot vis moet huur, nie ʼn sardientjie nie,” sê hy.

  1. Wees buigbaar oor salaris en beklemtoon jou voorneme om lank te bly

“As die maatskappy uitvra aangaande salarisvereistes, maak seker jy noem dat jy buigbaar is indien die salaris wat jy versoek minder is wat jy voorheen verdien het,” sê Joseph Vijay Ingam, hoof loopbaanafrigter by Interview SOS in Los Angeles. “Moet dit nooit laat lyk asof die posisie benede jou is nie.”

Nog ʼn belangrike bekommernis onder werwers is dat jy hierdie pos bloot as ʼn sport in die leer na iets groters wil gebruik. Om hierdie aanname die nek in te slaan, maak seker jy beklemtoon jou lang tydperke in vorige poste en kry ʼn voormalige baas of kollega om jou toewyding en lang rakleeftydperk te staaf.

 

Bronne

Kate Ashford, 2020, “What to do when you’re told you’re overqualified for a job”, https://www.monster.com/career-advice/article/overqualified-for-job-081417.

Rebecca Knight, 26 October 2017, “How to apply for a job you’re overqualified for”, https://hbr.org/2017/10/how-to-apply-for-a-job-youre-overqualified-for.

Seek, 2020, “How to overcome being considered overqualified for a job”, https://www.seek.com.au/career-advice/article/how-to-overcome-being-considered-overqualified-for-a-job.

Besoek webwerf