Rekenaars bied opwindende toekoms

Dinsdag, Junie 21st, 2016

Karen van der Berg

 

 

’n Mens kan jou eenvoudig nie jou lewe, beroep of selfs stokperdjies indink sonder ’n rekenaar nie. Om die nut en voordele van ’n rekenaar op te noem, sal lank neem. Dit is eindeloos. Dit is juis daarom moeilik om te dink dat rekenaars en die spesialisveld van rekenaaringenieurswese ’n paar jaar gelede nog nie eens bestaan het nie.

Maar wat presies is ’n rekenaaringenieur? Is daar ’n toekoms vir die beroep? Ons het meer gaan uitvind.

Dr. Charl van Heerden (31) is ’n rekenaaringenieur van Hermanus. Hy vertel meer van dié opwindende beroep.

“Ek is ’n navorser wat spesialiseer in statistiese patroonherkenning, kunsmatige intelligensie en spraakherkenning by die Noordwes-Universiteit. My werk is gelukkig van so aard dat ek nie gebind is aan een dorp nie, en daarom woon ek op die oomblik in een van die mooiste dorpe in Suid-Afrika en werk van hier af. Ek en twee van my kollegas het ook ’n klein maatskappytjie gestig wat van hierdie tegnologie probeer kommersialiseer binne Suid Afrika.”

Charl het vir verskeie grade gestudeer, waaronder B.Ing in rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria, ’n honneurs- en meestersgraad in rekenaaringenieurswese, en daarna ’n doktorsgraad in rekenaaringenieurswese aan die Noordwes-Universiteit.

Charl vertel hy het nooit kon dink dat hy rekenaaringenieurswese sou studeer nie.

“Ek het soveel ander dinge ernstig oorweeg, soos aktuariële wetenskappe, medies, veeartsenykunde en wildbewaring.”

Hy het op rekenaaringenieurswese besluit vanweë die feit dat dit moeilik is en dus meer werkgeleenthede sou oplewer en ook omdat dit ’n jong veld is en hy seker was dat dit sou groei en nie minder relevant word nie.

“Ek is glad nie spyt nie. In die kort tyd wat ek nou my beroep beoefen, het daar al verskeie opwindende geleenthede oor my pad gekom. Direk nadat ek studeer het, het ek by die Wetenskap- en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) begin werk. Ek het as deel van ’n program gewerk sodat hulle my verdere studies kon borg terwyl ek werkervaring opdoen.

“Ons werk en navorsing het daarop gefokus om hulpbronne en tegnieke te ontwikkel om spraaktegnologie vir die Suid Afrikaanse tale ’n werklikheid te maak. Terwyl ek verder studeer het, was ek ook bevoorreg om in 2007, 2008 en 2010 internskappe te doen by Google se New York-kantoor. Tydens die internskappe was ek deel van die span wat gewerk het aan Voice Search (soek deur te praat) vir onderskeidelik Amerikaanse Engels, Suid-Afrikaanse Engels, Afrikaans en Zoeloe.”

Charl sê na sy klompie jare by die WNNR is hy PUK toe om vir ’n doktorsgraad te gaan studeer.

Een van die lekkerste dele van sy werk is die wonderlike kollegas.

“Ek is bevoorreg en werk saam met ’n span fantastiese mense. Om tyd saam met hulle deur te bring en saam te dink oor moeilik oplosbare probleme is heerlik.”

Daar is egter ook uitdagings.“Om op datum te bly met die jongste navorsing is ’n groot uitdaging. Die veld groei baie vinnig en verander gereeld.”

Charl sê daar is beslis ’n toekoms vir die beroep. Oor 20 jaar wil hy graag in ’n omgewing werk waar daar genoeg befondsing is sodat hy saam met uitstaande mense kan werk aan interessante en moeilike probleme waarvan die oplossing ’n beduidende impak op die samelewing kan hê.

Sy raad aan skoolleerlinge wat in dieselfde rigting wil studeer, is die volgende:

  • Werk op skool al hard aan veral wiskunde en wetenskap. Fokus veral daarop om te verstaan wat jy leer, eerder as om toetse deur te kom.
  • Probeer so vroeg moontlik om met vakansiewerk en/of internskappe te begin. Die Amerikaners wat ek ontmoet het, werk almal al sedert na skool en tydens universiteitsvakansies by besighede, met die gevolg dat hulle na universiteit met heelwat meer ervaring as die tradisionele Suid Afrikaner by ’n besigheid instap. Alhoewel jy tydens daardie jare “goedkoop” arbeid is, bou jy aan ’n waardevolle professionele netwerk en as jy goed doen, is jy na universiteit omtrent verseker van ’n werk in ’n bekende omgewing.
  • Indien jy nagraadse studies oorweeg, soek hard vir ’n studieleier wat weet wat hy doen. Kyk na sy publikasies op Google Scholar, en ook waar hy publiseer.

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55