Foto: Andrea Piacquadio | Pexels



Selfdialoog wat jou kan help uitblink in jou loopbaan

Woensdag | 02 September | 2020

Deur Essie Bester

Waaraan dink jy as jy smiddae op pad huis toe is na werk? Herleef jy jou daaglikse suksesse of fokus jy op die struikelblokke wat jy teëgekom het? Verkleineer jy jouself of wens jy dat jy iemand anders se vaardighede gehad het? Pasop! Jou selfspraak kan jou effektiwiteit, tevredenheid en professionele sukses belemmer.

Selfspraak is jou interne dialoog. Dit vorm en bepaal jou selfbeeld. Effektiewe gebruik daarvan kan help om jou selfvertroue te verhoog, jou fokus te verbeter en jou daardie ekstra dryfkrag gee wat jy nodig het om jou droomwerk te kry.

Daarteenoor is negatiewe selfdialoog verlammend en veroorsaak dat jy jouself bevraagteken en in jou vermoëns begin twyfel. Uiteindelik veroorsaak dit ’n bose kringloop, want hoe meer jy in jouself twyfel en jouself korrigeer, hoe meer laat jy andere in jou twyfel en hulle reaksie laat jou nog meer in jouself twyfel.

Wat selfspraak so verraderlik maak, is die feit dat baie daarvan onbewustelik plaasvind, terwyl dit wil voorkom asof die menslike gees geneig is om op die negatiewe te fokus. Ons berispe onsself op maniere wat ons nooit sou duld as dit ’n werkgewer, eggenoot of iemand anders was nie.

Hoe verander ek my selfdialoog?

Fokus daarop om jou naam in plaas van “ek” te gebruik wanneer jy met jouself praat. Dit sal jou in staat stel om jouself sielkundig te distansieer van daardie primitiewe deel van jou brein (en sy inherente egosentrisme) wat net op oorlewing fokus en laat jou toe om met jouself te praat soos jy met ’n vriend sou praat. Dit help jou om ’n interne gebeurtenis te verwerk asof dit met iemand anders gebeur het. Só verlaag jou angs terwyl jou selfbeheersing verbeter. Met tyd kweek jy meer wysheid en word die negatiewe stem wat jou moontlikhede beperk aan bande gelê.

Jou brein (wat op oorlewing ingestel is) is, soos die zoemlens van ‘n kamera, vir tonnelvisie bedraad sodat dit bedreigings kan teiken. Jou hartklop versnel, jou pupille vergroot en jy haal vinniger asem terwyl jy gereed maak vir veg-vlug-vries-aksies. Gedurende dié oomblikke maak jou selfgesprekke lewe-of-dood-uitsprake wat jou vermoë om moontlikhede raak te sien beperk. Met verloop van tyd bou jy blinde kolle van negatiwiteit op sonder dat jy te besef. Kies selfgesprekke wat jou laat terugstaan tydens ‘n uitdaging, na die groter prentjie te kyk, en ‘n wye verskeidenheid moontlikhede, oplossings, geleenthede en keuses bedink.

Terwyl selfdialoog wat minderwaardigheid, swakheid en nutteloosheid kommunikeer tot ’n lewenstyl lei wat hierdie kwaliteite weerspieël, kon sielkundiges deur navorsing bepaal dat positiewe bevestigings ons ‘n groter perspektief gee wat die brein se tonnelvisie teëwerk en ons help om ons eiewaarde te versterk. Wanneer jou selfdialoog deurentyd bevestig dat jy waardig, sterk en goed genoeg is, gaan jou optrede krag en waardigheid reflekteer.

Luister na hoe jy met jouself praat.

Bepaal die geloofwaardigheid van jou selfgesprekke. Oorreageer jy of is jou selfgesprekke irrasioneel? Maak aanpassings.

Korrigeer jou selfgesprekke deurentyd wanneer jy agterkom dat dit negatief is.

Gun jouself nog ’n kans indien jy ’n fout maak. Leer uit jou foute.

Erken dit – sonder om afbrekend te wees en jouself te verkleineer – wanneer jy ’n fout maak.

Wanneer jy bewus word van onaangename gevoelens – soos woede of frustrasie – moet jy die gevoel onpartydig en as iets apart van jouself probeer waarneem. Deur jou gevoelens op dié wyse te erken in plaas daarvan om hulle te ignoreer, skep jy sielkundige afstand wat jou toelaat om te beweeg na ’n toestand waarin jy kalm, meelewend en helder van denke na die situasie kan kyk. Dit help jou om die werklike probleem (die sneller) te bepaal sodat jy weer met selfvertroue meer kompeterend kan presteer.

Daar is ‘n direkte skakel tussen selfdeernis, geluk, welstand en sukses. Gelukkig kan positiewe emosies soos liefdevolle omgee en deernis op dieselfde manier ontwikkel word as die bemeestering van ‘n musiekinstrument, sê navorsers.

Selfdeernis vergroot jou emosionele arsenaal. Dit verhoog empatie en die uitdrukking van empatie kan verreikende gevolge in jou persoonlike en professionele lewe hê. Werkgewers wat empatie betoon, is meer geneig om werknemers te behou, produktiwiteit te verhoog, personeelomset te verminder en ‘n gevoel van behoort in die onderneming te skep.

Net so kan ’n klein bietjie empatie met jouself (liefdevolle omgee en selfvergifnis), in plaas daarvan om so hard op jouself te wees, jou volgende keer help om vinniger terug te bons en sukses te behaal.

Lê jou dus daarop toe om in moeilike situasies deernis en positiewe selfspraak te beoefen en geniet die resultate van beter prestasie en vinniger herstel van terugslae – ongeag hoe haglik die omstandighede.

Bronne:

https://www.forbes.com/sites/bryanrobinson/2020/06/15/5-types-of-self-talk-that-help-you-excel-in-your-career/#7794879f3a83

http://www.psigotydskrif.co.za/2016/10/innerlike-dialoog-of-self-gesprekke-is-bepalend-tov-jou-lewe/

Using self-talk to enhance career satisfaction and performance https://academic.oup.com/ajhp/article-abstract/65/6/514/5128151?redirectedFrom=fulltext

Besoek webwerf