Skerp jou geheue só op vir eksamen

Maandag, Oktober 26th, 2015

Eugene Brink

 

Jou geheue is een van die sleutelkomponente om ’n eksamen kaf te draf. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat jy jou geheue optimaal benut om soveel moontlik feite in te prop en ook jou toepassing daarvan te verbeter.

Dr Josh Grohol, hoof uitvoerende beampte van die sielkundewebwerf PsychCentral en ’n sielkundige, sê die meeste van ons dink aan ons geheue as iets wat staties en onveranderlik is. Maar ons kan ons geheue verbeter net soos ons ander vaardighede kan opskerp.

Volgens hom is daar twee soorte geheue: lang- en korttermyn. Korttermyngeheue is die soort wat deur die brein gebruik word om klein brokkies inligting vir onmiddellike gebruik te stoor, soos om iemand se naam te onthou as julle vir die eerste keer ontmoet. Navorsing toon dat korttermyngeheue se kapasiteit jou toelaat om ongeveer sewe brokkies inligting te stoor. Daarna moet iets wegval.

Langtermyngeheue is vir goed wat ons nie dadelik hoef te onthou nie. Langtermyngeheue word gebruik om vir ’n eksamen te leer. Gebeurtenisse met vriende en familie word ook daar gestoor.

 

Hoe kan jy jou geheue opskerp vir die eksamens? Hier is ’n paar wenke:

 

  • Raak georganiseerd 

 

Die inligting sowel as jou werkarea moet eerstens georganiseer word sodat die inligting optimaal ingeneem kan word. Volgens Grohol hou ons breins van die organisering van inligting. Dis hoekom boeke hoofstukke het, en deur jou leermateriaal beter te organiseer, sal jy feite beter met mekaar kan verbind. Grohol sê jy moet die groot hoeveelheid inligting in kleiner, meer verteerbare dele verdeel en daardie gedeeltes as afsonderlike stukke probeer onthou. Jy kan dan later die spreekwoordelike kolletjies verbind en assosiasies vorm.

Volgens die Oxford Royale Academy (ORA) is ’n oorvol leerarea met ongeorganiseerde notas, skryfblokke met deurmekaar notas daarop en ’n rekenaar met swak liassering jou geheue se grootste vyand. Daar word aanbeveel dat jy jou kamer, of enige ander ruimte wat jy vir leer gebruik, opruim. Groepeer ook jou notas netjies in verskillende onderwerpe.

 

  • Fokus en herhaal

 

Grohol sê jy moet bloot fokus op wat jy doen en ophou om van een taak na die ander te spring. Die brein neem baie meer inligting oor ’n onderwerp in as dit vir ’n langerige, onafgebroke tydperk daarop gefokus is. Om van een taak of onderwerp na ’n ander een te spring, onderbreek jou gedagtegang en verswak jou vermoë om assosiasies te vorm en feite te onthou.

Herhaling is natuurlik ook van kardinale belang. Deur iets oor en oor te herhaal, word dit al hoe meer in jou geheue ingeprent. Dit is belangrik om nie inligting die aand voor die eksamen in te prop nie, maar dit oor ’n langer tydperk te herhaal.

 

  • Vat gereeld rustye en kry oefening en slaap

 

Andrea Leyden, blogger oor studeer en eksamens, sê jou brein het gereelde rustye nodig om dit te help om meer inligting te absorbeer en ook om dit skerp te hou. Dit gee jou ook tyd om die inligting ’n bietjie te oordink en jou eie te maak. Sy beveel aan om elke 45-50 minute ’n rustyd te neem omdat jou brein se werking gewoonlik daarna verswak as dit nie ’n blaaskans kry nie.

Volgens die Universiteit van Reading in die Verenigde Koninkryk leer jy die beste as jy die studiemateriaal deurgaan, dan gaan slaap en dit die volgende oggend hersien. Volgens die ORA is dit ook tydens slaap dat die brein feite van die kort- na die langtermyngeheue oorplaas. Dit is veral belangrik dat jy die aand voor die eksamen goed slaap en ook gereeld oefening kry. Dr Chuck Hillman van die Universiteit van Illinois het in sy navorsing bevind 20 minute oefening voor ’n eksamen kan jou geheue en prestasie aansienlik verbeter.

 

  • Betrek (soveel moontlik) sintuie

 

Hoe meer van jou sintuie jy inspan, hoe makliker word dit om iets te onthou. Dit is daarom belangrik om jou werk ten minste te lees sowel as hardop te herhaal of na bandopnames daarvan te luister. Die ORA beveel aan dat jy jou reuksintuig kreatief moet inspan. As jy jou gewrig met ‘n sekere soort naskeermiddel of parfuum tik as jy ‘n sekere onderwerp onder die knie wil kry, en dit weer doen wanneer jy eksamen gaan skryf, sal dit daardie feite waarskynlik klokhelder na vore bring.

 

  • Studeer in ’n groep en span liedjies en rympies in

 

Om in ’n groep te studeer kan jou help om ander mense se reaksies en insigte te onthou. Maak net seker die ander lede is ook so toegewyd om te leer soos jy.

Rympies en stories kan ook help met assosiasies en kan die inligting op ’n pasgemaakte manier vir jou sin laat maak. Geheueleer (oftewel mnemoniek) kan ook met groot vrug ingespan word deur byvoorbeeld die eerste letter van ’n klomp konsepte of stukke inligting in te span om ’n frase saam te stel wat maklik onthou kan word.

 

Bronne

 

Andrea Leyden, 24 Januarie 2014, “20 study hacks to improve your memory”, Examtime, https://www.examtime.com/blog/study-hacks/.

Josh Grohol, 8 Maart 2015, “8 tips for improving memory”, PsychCentral, http://psychcentral.com/blog/archives/2010/09/03/8-tips-for-improving-your-memory/.

Oxford Royale Academy, 3 Junie 2014, “Memory Techniques for Exam Preparation: 10 Astonishing Ways to Harness the Power of Your Brain”, https://www.oxford-royale.co.uk/articles/memory-tricks-exam-success.html.

Universiteit van Reading, g.d., “Revision and memory strategies”, https://www.reading.ac.uk/internal/studyadvice/StudyResources/Exams/sta-revision.aspx.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55