Sport is in sy ink!

Woensdag, Januarie 20th, 2016

Karen van der Berg

 

As daar een ding is waaroor die meeste Suid-Afrikaners mal is, is dit ongetwyfeld sport. Of dit nou rugby, sokker, krieket of atletiek is, mense hier het ’n brandende passie daarvoor. Dit is daarom nie vreemd dat alle koerante groot afdelings aan sport afstaan nie. Maar presies wat behels die werk van ’n persoon wat die bladsye moet vol skryf? Solidariteit het gaan uitvind.

Jóhann Thormählen, ’n rugbyskrywer in Bloemfontein vir Sport24 se koerante (Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport), het ’n paar vrae beantwoord.

 

Vertel ’n bietjie meer van jou werk

 

My werk behels om eerste te wees met nuus uit die streek wat rugby betref. My hooftaak is om daagliks oor die Cheetahs in die Super- en Curriebeker-reekse verslag te doen. Ek skryf dus stories wat handel van beserings, wedstrydverslae, onderhandelings in die raadsale en skuiwe van spelers. Ek lewer ook verslag oor ander rugbyspanne in die streek soos dié in die Vodacombeker-reeks, Vrystaatse junior spanne en die Shimlas. Dan help ek ook video’s maak en berigte skryf vir Netwerk24.

 

Wat en waar het jy studeer?

Ek het BA Internasionale Studies aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna my BPhil in joernalistiek daar gedoen.

 

Het jy altyd daarvan gedroom om ’n sportverslaggewer te word?

Dit was een van die moontlikhede in die joernalistiek wat ek oorweeg het. Sport was van kleins af een van my baie passies en dit is lekker om dit en die liefde vir tale (spesifiek Afrikaans) te kan kombineer.

 

Wat is die lekkerste en slegste deel van jou werk?

Die lekkerste deel is beslis om een van my natuurlike belangstellings as beroep te kan beoefen. Dit is heerlik om oor sport te kan skryf, aangesien ek ook ’n sportliefhebber is. Om direk met spelers en afrigters wat dikwels baie ondersteuners se helde is te kan werk, is ook ’n voorreg.

Die slegste deel is beslis die ure wat ’n sportverslaggewer, spesifiek rugbyskrywer, werk. Sportwedstryde word oor naweke gespeel en dus is dit ook die tyd wat jy moet werk wanneer jou vriende en familie ontspan.

 

Raad aan enige studente wat die beroep wil volg?

Hou aan hard werk, volg jou passie en moenie moed opgee nie as jy eers in ander afdelings van die media (wat nie sport is nie) moet werk. As student is die eerste stap beslis om by ’n kampus- of gemeenskapskoerant betrokke te raak en oor koshuisrugby of universiteitsreekse te skryf.

 

Is daar ‘n toekoms vir sportverslaggewers by koerante?

Ja, daar is beslis ’n toekoms vir sportverslaggewers. Al kry koerante al hoe swaarder, sal sport steeds een van die belangrikste dinge wees waaroor mense wil lees. Sport sal van die laaste onderwerpe wees waarsonder ’n koerant oor die weg kan kom.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51