Deur Anja van den Berg
Die Covid-19-inperkings het die lewe soos ons dit geken het, gedestabiliseer. Talle herevalueer hul lewens en keuses, insluitend die rigting wat hulle ten opsigte van hul loopbane ingeslaan het.
Hoewel nuwe insigte tot ʼn gesindheidsverandering – en ʼn loopbaanverandering – kan lei, moet ʼn mens nie net halsoorkop uit jou werk bedank en hoop vir die beste nie.
“Dit is beter om voldoende voor te berei voordat jy aanbeweeg eerder as om net te bedank en ʼn kans te waag in hierdie moeilike ekonomiese omgewing,” sê dr. Gillian Mooney, dekaan vir akademiese ontwikkeling en ondersteuning by The Independent Institute of Education.
Haal diep asem en maak seker jy het ʼn strategie in plek. Wat is die volgende stap wat jy moet doen wanneer jy besef dat jou huidige loopbaanrigting nie die regte een vir jou is nie?
Vaardigheidstapeling (“skill stacking”) is die antwoord. Die New York Times beskryf vaardigheidstapeling dat jy daarna strewe om bedrewe te wees in ʼn paar vaardighede wat met mekaar verband hou en wat saamgeweef kan word in ʼn breër stel van vaardighede in plaas daarvan om daarop te konsentreer om uitsonderlik bekwaam te wees in een spesifieke vaardigheid of taak.
Jason Link, wat vir theshortcut.com skryf, definieer die idee van vaardigheidstapeling as die vermoë om die totale pakket van jou vaardighede op ʼn unieke en individuele manier te kombineer. Dit beteken jy stel alles wat jy kan doen, ten toon in ʼn sinergistiese bondel. Daarby bied jy ʼn multidimensionele stel vaardighede wat veel bruikbaarder is as die som van elke afsonderlike vaardigheid.
Dr Mooney verduidelik dat jy nie die vaardighede waaroor jy reeds beskik en die ervaring wat jy reeds opgedoen het, eenkant toe hoef te skuif om ʼn heel nuwe rigting in te slaan nie. In plaas daarvan kan jy bou op die prestasies en suksesse wat jy reeds behaal het.
Hoe meer vaardighede jy het, en hoe meer waarde jy kan toevoeg, hoe meer sal jou dienste werd wees. Maar, sê Sam Brinson, outeur van Connecting the Dots: Learning How to Learn for Modern Day Thinkers, moenie poog om ʼn persoon van twaalf ambagte en dertien ongelukke te wees en net een vaardigheid behoorlik te bemeester nie. Hy sê ʼn mens moet lewer ʼn paar vaardighede behoorlik bemeester.
ʼn Bogemiddelde vermoë op ʼn paar gebiede kan jou die beste persoon ter wêreld maak op daardie punt waar daardie vermoëns oorvleuel.
Brinson voeg by dat dit die moeite werd is om in die moderne wêreld van werk oor veelvuldige vaardighede te beskik, of soos hy dit stel, ʼn meester van ʼn klompie vaardighede te wees. “Deur dieper en breër te dink, verseker ons dat ons waarde in die ope mark het en dit gee ons groter immuniteit teen outomatisering.”
Bronne:
East Coast Radio: https://www.ecr.co.za/lifestyle/family/expert-advice-how-prepare-yourself-career-change-2021/
Kate Richardson: https://www.katerichardson.co/articles/how-to-change-careers-in-2021-pdksk-xjhrm-wsde3in
The Ladders: https://www.theladders.com/career-advice/skill-stacking-instead-of-mastering-one-skill-build-a-skill-set
Sam Brinson: https://www.sambrinson.com/stacking-skills/
Darius Foroux: https://dariusforoux.com/skill-stacking/
The Shortcut: https://medium.com/the-shortcut/skill-stacking-be-awesome-with-average-skills-a52de26026e4
Foto krediet: Karolina Grabowska | Pexels
Oops! We could not locate your form.