Foto: OkayDeer



Verbeter jou openbare praatvaardighede

Woensdag | 04 November | 2020

Deur Essie Bester

‘n Talentvolle spreker word gesien as ’n individu met selfvertroue en die vermoë om buite die boks te dink – eienskappe waarby elkeen van ons in ’n werksituasie kan baat.

Die oorgrote meerderheid van beroepe behels immers ‘n mate van deelname aan openbare gesprekke. Dink maar aan vergaderings waarin jy moet terugrapporteer of voorleggings wat jy aan kliënte moet doen.

Navorsing toon egter dat miljoene mense regoor die wêreld in ’n mindere of meerdere mate simptome soos naarheid, sweterige handpalms, angs en/of gevoelens van paniek ervaar voordat hulle ‘n belangrike aanbieding voor ’n vertrek vol mense moet lewer.

Kenners reken die vrees om voor mense te praat is merkwaardig algemeen. David Greenberg, ’n gesertifiseerde professionele spreker asook spraak- en aanbiedingsafrigter, stel nege nuttige strategieë voor om jou angs uit te skakel wanneer jy voor ’n groep mense moet praat.

  1. Aanvaar dat senuweeagtigheid nie ‘n slegte ding is nie

Om senuweeagtig te wees, beteken dat dit vir jou belangrik is om ‘n goeie aanbieding te lewer. Jou senuweeagtigheid lei tot die afskeiding van adrenalien, wat jou kan help om vinniger te dink en vlot te praat. Dit verskaf ook die nodige entoesiasme wat jy nodig het om jou boodskap goed oor te dra.

  1. Moenie probeer om perfek te wees nie

Die vrees vir openbare toesprake spruit uit die vrees vir onvolmaaktheid, verduidelik Greenberg. Hy raai ons aan om te aanvaar dat ons dit nooit gaan regkry om volmaak te wees nie. “Streef daarna om jouself te wees in stede daarvan om ’n superspreker te word. Jou gehoor sal dit waardeer.”

  1. Ken jou onderwerp

Greenberg glo ‘n mens moet die reg verdien om oor ‘n spesifieke onderwerp te praat. “Word ‘n outoriteit op die gebied van jou onderwerp en maak seker jy weet meer as die meeste of al die mense in jou gehoor. Hoe meer jy weet, hoe meer selfvertroue sal jy hê.”

  1. Betrek jou gehoor

Die publiek se betrokkenheid is die sleutel tot jou sukses. Stel vrae aan jou gehoor of laat hulle deelneem aan ‘n aktiwiteit om hul aandag te behou. Greenberg sê dat die verandering van jou aanbieding van monoloog na dialoog jou senuweeagtigheid verminder en die gehoor betrek.

  1. Haal reg asem

Plaas een hand bo jou borste en die ander net bokant jou middellyn. Haal normaalweg asem. As jou boonste hand meer beweeg as jy asemhaal, haal jy te vlak asem. As dit die onderste een is, gebruik jy waarskynlik jou diafragma – dis die regte manier en die een wat jou senuweestelsel kalmeer. Greenberg se raad is dat jy voor en selfs tydens jou aanbieding ‘n paar keer diep moet asemhaal. Met die inasemslag moet jy vir jouself sê: “Ek is”. Met die uitasemslag moet jy sê: “Ontspan.”

  1. Visualiseer jou sukses

Maak jou oë toe en sien in jou gedagtes hoe jy jou praatjie met vertroue en entoesiasme lewer. Hoe lyk die vertrek, die mense en jy? Jou suksesvolle aanbieding is iets wat jy jouself in detail moet voorstel. Laat dan jou gedagtes toe om jou te help om daardie beeld in ‘n werklikheid te omskep, sê Greenberg.

  1. Oefen hardop

Dis die beste manier om jou angs te verminder. Oefen jou toespraak totdat jy gemaklik voel. Om alleen te oefen is belangrik maar Greenberg moedig jou ook aan om voor ‘n vriend, kollega of afrigter te oefen wat jou eerlike en konstruktiewe terugvoer sal gee.

  1. Vermy kafeïen en alkohol

Jy wil nie voor jou gehoor die indruk skep dat jy ‘n senuweewrak is nie. Drankies wat kafeïen bevat, kan jou hartklop verhoog en jou bewerig maak. Net so kan jy, deur jou vrese met alkohol te probeer besweer, jou kans verhoog om woorde/paragrawe te vergeet en/of nie korrek uit te spreek nie.

  1. Maak oogkontak

Daag vroeg op, terwyl die sitplekke nog leeg is, en oefen deur voor te gee dat jy mense in die oë kyk. Wanneer jy begin – kies ‘n paar vriendelike gesigte in verskillende dele van die vertrek. Die gehoor sal dit waardeer en jy sal vind dat hulle in jou boodskap belangstel. Voeg ‘n glimlag daarby en jy sal beslis reaksie kry.

Verdere wenke om in gedagte te hou:

Wat om nie te doen nie

Moenie dadelik begin praat nie. Beweeg na die verhoog, haal diep asem, kry jou plek, wag ʼn paar sekondes en begin dan, sê kenners. Dit wys vir die gehoor dat jy vol selfvertroue en in beheer van die situasie is.

Moet jou nie aan negatiwiteit steur nie. Ignoreer mense wat frons, hul arms vou of hul koppe skud. Fokus op dié wat openlik en positief betrokke is.

Moet nooit jou toespraak aflees nie. Praat met selfvertroue sonder om van aantekeninge af te lees.

Vermy te veel statistieke en aanhalings.

Vermy eindelose PowerPoint-skyfies en koeëlpunte (bullets). Indien jy PowerPoint wíl gebruik – maak gebruik van beeldmateriaal wat jou boodskap vinnig oordra.

Oorweeg dit om by ‘n groep soos Toastmasters aan te sluit. Hulle kan jou help om jou openbare praatvaardighede verder te poets deur herhaling en konstruktiewe kritiek van medelede.

As jou vrees beduidend genoeg is om probleme by die werk of in jou sosiale omgewing te veroorsaak, kan jy ‘n terapeut besoek wat jy vertrou en wat jou kan help om jou vrees te verwerk. Kenners reken die sukseskoers van behandeling is uiters hoog.

 

Bronne:

https://www.inc.com/marcel-schwantes/9-simple-tricks-to-overcome-your-fear-of-speaking.html

https://af.chalized.com/12-wenke-om-jou-te-help-om-glossophobia-te-oorkom/

https://af.unitinal.com/7-wenke-om-jou-te-help-om-jou-vrees-vir-openbare-praatjies-te-oorkom/

https://af.reoveme.com/glossofobie-of-die-vrees-van-openbare-praat/

https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Gesond/nuwe-asem-vir-n-nuwe-lewe-20170914

https://www.inc.com/marcel-schwantes/9-simple-tricks-to-overcome-your-fear-of-speaking.html

https://af.chalized.com/12-wenke-om-jou-te-help-om-glossophobia-te-oorkom/

https://af.unitinal.com/7-wenke-om-jou-te-help-om-jou-vrees-vir-openbare-praatjies-te-oorkom/

https://af.reoveme.com/glossofobie-of-die-vrees-van-openbare-praat/

https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Gesond/nuwe-asem-vir-n-nuwe-lewe-20170914

Besoek webwerf