Marli Naidoo
As ek my eie superheld moes uitdink, sou dit heel moontlik Super Suster of Kragtige Verpleegkundige wees wat ek sou skep. ʼn Held of heldin wat nie slaap nie, bang is vir niks en altyd gereed is om te help. ʼn Bedaarde persoon met bonatuurlike vermoëns om ʼn pasiënt veilig in sy/haar sorg te laat voel. “Red een lewe en jy is ʼn held. Red 100 lewens, dan is jy ʼn verpeegkundige.”
So het ʼn anonieme skrywer hierdie loopbaankeuse mooi opgesom. Een van hierdie wonderlike supermense wat definitief ʼn skouermantel verdien, is suster Christa Bosch van Harrismith in die Vrystaat. Suster Bosch het in 1975 haar Diploma in Algemene Verpleegkunde en Verloskunde aan die Witwatersrandse Kollege vir Verpleegsters asook die Vereeniging Hospitaal verwerf. Sy het Solidariteit Wêreld ʼn bietjie meer vertel oor hierdie beroep.
Wat het jou laat besluit om ’n verpleegster te word?
Ek het aanvanklik verpleging gaan swot omdat ek geen sekerheid gehad het rondom ’n beroepskeuse nie. Toe ek eers begin het, was dit vir my so lekker dat ek nooit weer enigiets anders oorweeg het nie.
Waar het jy al orals gewerk?
Na voltooiing van my opleiding het ek vir ’n tydperk in die hospitaal gewerk, daarna vir 3 jaar kliniekondervinding opgedoen. Ek het baie jare se ondervinding in geriatriese verpleging in ouetehuise.
Jou gunsteling werkplek en hoekom?
Die hospitaal is en bly my gunsteling plek , en in besonder die ongevalle afdeling. Om verpleging te doen is baie vervullend, omdat ’n mens siekes help wat hulleself nie kan help nie. Mense kom siek by die hospitaal aan, word versorg en verpleeg, en gaan met nuwe hoop huistoe. Dis waaroor dit eintlik gaan: om mense te help om ’n beter lewe te hê na die trauma van siekte of operasies.
Watter soort mens maak ’n goeie verpleegster of suster?
Die ideale verpleegster is iemand wat ’n passie het vir mense; ’n praktiese persoon wat op haar voete kan dink. Geduld en simpatie is vereistes. Sy moet intelligent wees, met ’n positiewe uitkyk op die lewe. Sy moet ook onselfsugtig wees en kan luister.
Die uitdagings van verpleging?
Die grootste uitdaging is om altyd te onthou dat jy met mense werk, ongeag hoe besig jy is en hoe groot die werksdruk is. Tegnologie het verpleging baie bevorder en vergemaklik, maar die pasiënt bly die persoon om wie verpleging draai, en sy behoeftes het nie verander nie.
Watter soort mens moet liewers nie verpleging oorweeg nie?
Die persoon wie se lewe om haar- of homself draai. ’n Selfsugtige, selfgesentreerde persoon moet ver wegbly.
Geleenthede in verpleging? Waarin kan ’n mens spesialiseer?
Tans is die geleenthede legio: trauma, intensiewe sorg, geriatrie, pediatrie, maatskaplike gesondheid, beroepsgesondheid, om net ’n paar te noem.
Gemiddelde werksure?
Werksure wissel baie. Verpleegsters werk lang, ongereelde ure, naweke en vakansiedae.
Betaling?
Salarisse is konstant onder bespreking, maar verpleegsters kry nog steeds belaglik klein salarisse. Hoe plaas ‘n mens ’n prys op iemand wat jou lewe in haar hande hou en jou versorg met liefde en toewyding wanneer jy op jou kwesbaarste is?
Indien jy verpleging gekies het as jou studierigting, is dit geweldig belangrik dat jy eers seker maak dat die instansie wat jy vir jou opleiding gekies het, wel deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging goedgekeur is.
Jy sal ook op die SAQA-webtuiste die spesifieke kursusse kan sien wat deur die onderskeie opleidingsinstansies aangebied word.
Bronnelys:
Chamberlain College of Nursing, 2012, “Top 10 quotes for nurses”, http://blog.chamberlain.edu/2012/08/20/top-ten-quotes-for-nurses/
Irene Lubbe, 2009, “Die kundige engele rondom ons!”, Dugeot se Mieliestronk, http://www.mieliestronk.com/beroeps2verpleeg.html