Vra só vir daardie welverdiende verhoging

Woensdag, Maart 16th, 2016

Karen van der Berg

 

Zelda van Vuuren, ’n konsultant wat personeelbestuur vir verskeie ondernemings in Johannesburg doen, sê baie maatskappye maak voorsiening vir jaarlikse verhogings, “tog is daar net so baie maatskappye waar verhogings nie deel van die maatskappy se beleid is nie.”

Sy sê in hierdie gevalle is dit vir werknemers moontlik, en soms baie nodig, om oor verhogings te gesels. Sy stel voor jy maak ’n formele afspraak met jou werkgewer en loop nie bloot in sy/haar kantoor in nie. Beplan eers sorgvuldig wat jy wil sê en hoe jy die saak gaan benader. Sy het die volgende wenke:

 

1. Doen deeglike navorsing. As jy weet wat jou kollegas verdien en waar jy staan, kan dit jou help om te bepaal hoe groot die salarisverhoging kan wees wat jy wil vra. Bestee genoeg tyd daaraan om jou maatskappy se reëls en regulasies oor salarisse en bevordering te begryp. Moenie uitvis nie, maar maak seker van jou feite en sorg dat jou inligting korrek is.
2. Stel jou kant van die saak. Wanneer jy vir ’n verhoging vra, is dit nie die tyd om beskeie te wees nie, maar dit is ook nie die tyd om voorbarig te wees nie. Daarom is dit raadsaam om ’n lysie van jou prestasies saam te neem en dit met deurlopende vordering in verband te bring. Toon aan dat jy steeds tot puik prestasie verbind is. Maak seker jy is eerlik en werk hard deur die jaar om jou punt te bewys.
3. Wees buigsaam in jou gesprek. Iemand wat aanpasbaar is, maak vinniger ’n indruk. Doen daarom voorstelle oor hoe jy dalk jou maandelikse salaris kan aanvul en wees meer as bereid om te onderhandel en al die voordele te oorweeg wat jou werkgewer bied. Dink logies en praktiese oor bykomende rolle wat jy by die werkplek kan vervul.
4. Moenie onredelik wees nie. Elke storie het altyd twee kante en jou werkgewer het ook redes vir besluite. ’n Salarisverhoging is maklik vir jou om te regverdig, maar tensy jy na ’n nuwe pos bevorder word, is ’n verhoging binne die normale skaal van jou posbeskrywing meer waarskynlik.
5. Moet onder geen omstandighede eise stel nie. Salarisverhogings is vir mense bedoel wat beoog om by die maatskappy te bly. Om jou ontevredenheid uit te spreek wanneer jou werkgewer moontlik ook sukkel, dui daarop dat jy ’n bedreiging vir die maatskappy is.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55