Vreemd, vreemder, vreemdste beroepe

Vrydag, Maart 4th, 2016

Karen van der Berg

 

Het jy gedink jy het al alles gehoor of alles gelees? Dan moet jy gerus verder lees. Die werwingsgroep, Manpower, het onlangs ’n lys van 10 vreemde beroepe opgestel. En vreemde beroepe is daar beslis! Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van Manpower Suid-Afrika, sê wanneer mens na die lysie kyk, besef jy daar is werklik ’n beroep vir elke persoon se smaak.

 

  1. Troeteldierkos-toetser: Die persoon se taak is om kos wat vir troeteldiere vervaardig word, te toets, om die geur en tekstuur te evalueer en seker te maak dit is geskik vir diere.
  2. Meubeltoetser: Volgende keer wanneer jy ’n nuwe meubelstuk gaan koop, hou in gedagte iemand is aangestel om die gemak en funksionaliteit van die meubel te toets. Interessant genoeg, moet so ’n persoon ’n kwalifikasie in inligtings- en kommunikasietegnologie hê.
  3. Slangmelker: ’n Slang se gif kan vir verskillende doeleindes, soos o.a. mediese navorsing, gebruik word. Slange word onder beheerde omstandighede gemelk om seker te maak dit is veilig vir diegene wat hierdie gevaarlike werk doen. Navorsing het al aangedui dat slanggif voordelig vir sommige mediese toestande kan wees. Iemand wat slanggif moet oes, moet ’n kwalifikasie in biologie, chemie of biochemie hê, of die persoon moet ’n kundige in reptiele wees.
  4. Vliegtuigterugnemer: Wanneer dit nodig is, word bates van individue of besighede deur banke teruggeneem sodat die individue of besighede hulle skuld kan afbetaal. Daar is ook mense wat vliegtuie moet terugneem vir die bank. Iemand wat hierdie werk doen, moet ’n vlieglisensie hê want hulle moet die vliegtuie dikwels by ander bestemmings gaan haal.
  5. Sportgelukbringer: Sport is vir baie mense ’n groot passie, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld heen. Die posbeskrywing van ’n sportgelukbringer is om aanhangers byeen te bring en opgewonde te maak. In die VSA kan so ’n gelukbringer ’n baie groot salaris verdien, veral as die sportsoort baie gewild is.
  6. Liggaamsdeelmodel: ’n Model hoef nie noodwendig ’n plat magie en mooi gesig te hê nie. Baie modelle word slegs vir sekere liggaamsdele gebruik, soos hande of voete.
  7. Duiker (van gholfballe): Ja, jy het reg gelees. Daar is mense wat betaal word om gholfballe uit damme of watergate op die gholfbaan uit te duik. Die duikers moet opgelei wees en weet wat die veiligheidsmaatreëls is.
  8. Voëlafskrikkers: Om voëls van sekere gebiede af weg te hou, is ’n ware beroep vir sekere mense. In Indië word mense betaal om die heeldag te staan en vlae waai om voëls uit hotelgebiede te hou.
  9. Dobbelsteeninspekteur: So ’n persoon moet seker maak dat mense wat dobbel in kaartspeletjies en dobbelstene gebruik, nie met die dobbelstene peuter nie. Dit is sodat almal wat deelneem ’n gelyke kans het om te wen.
  10. Bestudering van vlieënde voorwerpe: Gedink die soort beroep bestaan net in rolprente? Daar is werklik mense wie se taak dit is om ongeïdentifiseerde vreemde voorwerpe te bestudeer.

 

Bykomende bron: www.manpower.com

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Wil jy graag jou eie baas wees? Vra dan eers jouself die regte vrae
Anja van den Berg   Die meeste mense begryp dat besigheidskennis nodig is om ʼn besigheid te bedryf, maar die meeste suksesvolle besigheidseienaars het ook bykomende vaardighede en eienskappe wat ʼn suksesvolle besigheid aanhelp. Voordat jy besluit om met ʼn besigheid te begin, moet jy nadink oor watter eienskappe jy het, hoe jou kop werk […]
Die kliënt kom altyd eerste
Karen van der Berg   Die noodsaaklikheid om goeie verhoudings met kliënte te bou, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is deur hierdie verhoudings wat jy werklik jou kliënte se behoeftes begin verstaan. Hannes Venter van Global & Local Inc., ’n konsultant wat hulp aan klein ondernemings bied, het vyf goue reëls om goeie […]
Voortdurende veranderings in die werkplek
Anja van den Berg   In die 1960’s het die werkplek gewentel om ʼn nege-tot-vyf-werkdag, mans het hulle vroue en kinders tuis onderhou, en werk het gewoonlik fisiese arbeid behels. Personeel het by die werk gerook – selfs in die kantoor – en daar was geen voorskrifte vir korrekte etiket in die personeelkombuis nie, aangesien […]
1 2 3 53