Deur Nico Strydom
Die Covid-19-pandemie het ‘n groter afhanklikheid van selfone tot gevolg gehad weens inperkingsregulasies wat mense gedwing het om van die huis af te werk en tuis te bly.
Die tegnologiese vooruitgang wat ons in 2022 kan verwag, sal ‘n logiese voortsetting wees van alles wat in 2021 gebeur het en met die impak van die pandemie wat ongetwyfeld sal bly, sê Nick Durrant, uitvoerende hoof van Bluegrass Digital.
Die wêreld is stadig besig om verby die pandemie te beweeg en by die nuwe werklikheid aan te pas. “Wanneer ons ‘n post-koronavirus-samelewing voorstel, moet ons onthou dat mense gewoond geraak het aan ‘n toenemend digitale en virtuele wêreld en as sodanig het ons verwagtinge oor hoe ons werk, inkopies doen, kommunikeer, leer en onsself vermaak vir altyd verander.”
In die verlede het “slim” net gekoppel beteken maar volgens Durrant sal “slim” in 2022 egter toenemend beteken aandrywing deur kunsmatige intelligensie (KI). “In die toekoms sal die meeste nywerhede en werksfunksies getransformeer word deur KI-aangedrewe oplossings wat ons ervarings aanvul en verbeter. McDonald’s gebruik byvoorbeeld groot data en KI om hul deurry-spyskaarte te verpersoonlik op grond van eksterne faktore soos tyd van die dag of die weer.”
Virtuele en toegevoegde werklikheid sal in 2022 verder momentum kry. “Wanneer virtuele en toegevoegde werklikheid in ‘n besigheid geïntegreer word, kan verkopers en diensverskaffers op unieke maniere met hul kliënte kommunikeer. Toegevoegde werklikheid maak dit moontlik om ervarings te skep wat ‘n storie op ‘n ingewikkelder en geslaagde manier vertel en bied kliënte ‘n werklik meesleurende ervaring. Die tegnologie hou ook groot potensiaal binne nywerhede soos vervaardiging in aangesien dit gebruik kan word om werkers baie vinniger op te lei as tradisionele opleidingsmetodes.”
Progressiewe webtoepassings (PWA’s) verskaf ‘n vinniger, meer betroubare en meer innemende weergawe van jou webwerf deur die beste wat ‘n webwerf kan bied en die beste van wat inheemse toepassings kan bied bymekaar te bring. “Met PWA’s is daar minder afhanklikheid van ‘n internetverbinding en laai baie vinniger, wat die naatlose en vinnige ervaring bied wat verbruikers en sakegebruikers in 2022 wil hê.”
Tydens die pandemie wou mense om veiligheidsredes fisieke kontak tot die minimum beperk en het dit kontaklose tegnologie ongelooflik gewild gemaak. “Ons sien reeds dat hommeltuie gebruik word om kruideniersware af te lewer. Hierdie soort mobiele innovasie gaan in 2022 toeneem. Net so is raaklose gebruikerskoppelvlak beslis ‘n toekomstige toep-ontwikkelingstendens om dop te hou. Terwyl ons reeds raaklose beheer in verskillende grade toegepas het, sal stemgedrewe koppelvlakke en gebarekontroles aanhou om aftrek te kry namate gebruikers ‘n meer handvrye ervaring eis.
Volgens Durrant sal 5G ook voortgaan om in 2022 momentum te kry. “Die vraag na hoëspoed-internet het die ontwikkeling van 5G- en selfs 6G-tegnologieë versterk. In 2022 sal ons ‘n toename sien in oplossings wat ontwikkel en ontwerp word met supervinnige en betroubare 5G-verbinding in gedagte. 5G beloof spoed wat tot 1 000 keer vinniger is as 4G en bied dus eindelose moontlikhede vir ontwikkelaars en gebruikers van mobiele toepassings en oplossings, veral programme wat vinniger verbindings benodig om behoorlik te werk, soos virtuele en toegevoegde werklikheid.”
Bron:
Bluegrass Digital: https://www.bluegrassdigital.com/
Oops! We could not locate your form.