Wat is die ‘sagte vaardighede’ waarna werkgewers soek?

Woensdag, Februarie 17th, 2016

Ons lees dikwels nuusstories oor hoe werkgewers van mening is dat applikante wat skool, kollege of universiteit verlaat, nie oor die ‘sagte vaardighede’ beskik wat hulle verlang nie. Hieronder kyk ons na ʼn paar van die algemeenste sagte vaardighede, en hoe jy hulle aan werkgewers kan verkoop.

Hierdie vaardighede is oordraagbaar, so hulle kan in baie verskillende tipes werk gebruik word. Dit is persoonlike kwaliteite en houdings wat jou kan help om goed saam met ander te werk en ʼn positiewe bydrae te maak tot die organisasies waarvoor jy werk.

Dit wil egter nie sê tegniese vaardighede en kennis is nie ook belangrik nie, veral rekenaarvaardighede, maar onthou dat tegniese vaardighede makliker aangeleer kan word as sagte vaardighede, wat geneig is om óf persoonlike karaktertrekke of vaardighede te wees óf vaardighede wat oor verloop van tyd geslyp is.

 

Kommunikasie

Dit is miskien die algemeenste bydrae onder persoonlike besonderhede vir vakante poste, en vir goeie rede. Vaardige kommunikeerders kom goed oor die weg met kollegas, luister na en verstaan instruksies, en dra hulle mening oor sonder om aggressief te wees. Hulle kan hulle kommunikasiestyl verander om by die taak op hande te pas – dit kan van onskatbare waarde wees in baie verskillende situasies, van die hantering van konflik tot om ʼn kliënt te oortuig van die voordele daaraan verbonde om jou produk te koop. As jy oor goeie kommunikasievaardighede beskik, behoort jy in staat te wees om konstruktiewe werkverhoudings met kollegas te ontwikkel en uit konstruktiewe kritiek te leer.

 

Besluitneming

Daar is verskillende style van besluitneming, maar die belangrikste ding is, jy het reg geraai, om beslis te wees. Om al die belangrike feite te versamel, advies te soek, na die groot prentjie te kyk, alternatiewe te oorweeg, bewus te wees van reperkussies – dit is alles dinge wat kan bydra tot die neem van ʼn goeie besluit. Dinge om voor versigtig te wees is onbeslistheid en die neem van vinnige besluite.

 

Toon verbintenis

Werkgewers wil persone hê wat betroubaar is en op wie hulle kan staatmaak, wat entoesiasties is en harde werk geniet. Werknemers wat verbind tot hulle werk is, benodig min toesig of motivering en doen hulle bes om die werk gedoen te kry.

 

Buigsaamheid

Ons lewe in vinnig veranderende tye in die werkplek, so as jy aanpasbaar en buigbaar is, sal jy saam met die tye kan verander. Dit is ʼn groot bate as jy uit jou gemaksone kan tree en jou hand waag aan iets wat jy nooit tevore gedoen het nie. Werkgewers hou van mense wat positief, op en wakker is en ʼn ‘kan-dit-doen’ houding het.

 

Tydsbestuur

Wanneer spertye lê en loer, gaan goeie tydbestuur oor prioritisering van die belangrikste take, en dan te besluit watter aksies die maksimum uitset met die minimum moeite sal lewer. Is jy in staat om verskeie balle op een slag in die lug te hou – kan jy gelyktydig aan verskeie verskillende projekte werk?

 

Leierskapvaardighede

Selfs al bestuur jy nog nie personeel nie, waardeer werkgewers leierskapvaardighede. Hulle soek na mense wat lei deur die voorbeeld te stel, wat voortdurend poog om te verbeter, hulleself motiveer, positief is, en wat weet wanneer om instruksies te volg en wanneer om inisiatief te toon.

 

Kreatiwiteit en die vermoë om probleme op te los

Die vermoë om beide logika en kreatiwiteit toe te pas om probleme op te los word hoog deur werkgewers aangeslaan. As jy die tipe persoon is wat probeer om die probleem sowel as die oplossing te sien, sal dit jou goed te pas kom.

 

Wees ʼn spanspeler

ʼn Goeie spanspeler het ʼn duidelike beeld van die span se doelwitte en werk saam met ander om dit te bereik. Hulle is oop en eerlik, maak konstruktiewe voorstelle en luister na ander.

 

Aanvaar verantwoordelikheid

Werkgewers is op die uitkyk vir mense wat trots is op hulle werk, en wat selfversekerd genoeg is om hulle naam daarop te plaas. Hulle respekteer ook mense wat hulle hand kan opsteek as dinge verkeerd gaan en nie die blaam verskuif nie. Almal maak foute – dis hoe jy reageer en daaruit leer wat saak maak.

 

Die vermoë om onder druk te werk

Of jy nou probeer om ʼn uitdagende spertyd te haal of ʼn dringende stuk werk het nou net in jou skoot beland, werkgewers wil weet jy kan die stres opsy stoot en fokus op die betrokke taak. Kan jy vinnig besluit watter benadering die maksimum resultate sal lewer in die kortste tyd, en dan die taak gedoen kry?

Wanneer jy na die lys hierbo kyk en sien hoe waardevol hierdie vaardighede vir organisasies kan wees, is dit ʼn wonder dat hulle ‘sagte vaardighede’ genoem word, want hulle is baie belangrik en moeilik om te leer!

 

Bring jou sagte vaardighede na vore

As jy oor hierdie vaardighede beskik, behoort jy hulle op jou CV en aansoekvorms uit te lig en oor hulle te praat tydens onderhoude. Om jou bewerings te staaf, dink aan konkrete en interessante voorbeelde van waar jy hierdie vaardighede in jou werk of persoonlike lewe gebruik het. Moenie voorbeelde van situasies buite die werkplek onderskat nie – as jy kinders het, sal jy daaraan gewoond wees om jou tyd te bestuur, onder druk te werk, kreatief te wees en goed te kommunikeer. Met jou werk op skool, kollege of universiteit, sou jy ook baie van hierdie vaardighede gebruik het.

As jy hierdie vaardighede moet verbeter, kan jy ons kursussoektog gebruik om ʼn leergeleentheid te vind wat jou pas.

 

Kursussoektog

As jy werk, kan jy jou werkgewer vra of hulle werkswinkels oor hierdie waardevolle vaardighede sal aanbied. Daar is ook baie boeke oor persoonlike ontwikkeling en aanlyn leergidse oor hierdie temas.

As jy nie werk nie, kan jy jouself vrywillig beskikbaar stel om werkservaring op te doen en hierdie vaardighede te ontwikkel, of vra om iemand se ‘skaduwee’ te wees om eerstehands te sien hoe hierdie vaardighede prestasie kan verbeter.

 

 

Bron: UK National Careers Service

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoe om met ‘n Jekyll-en-Hyde-baas te werk
Anja van den Berg   Jy kan nie jou baas heeltemal kleinkry nie. Soms is hy maats met jou en innemend; ander kere verkleineer hy jou voor die span. Hoe hanteer mens ʼn bestuurder wat soos Doktor Jekyll en Meneer Hyde optree? “Die briljantste entrepreneurs, leiers en base verander van gedagte. Hulle roem daarop dat […]
Sal robotte teen 2025 jou werk oorneem?
Anja van den Berg   Van motors wat hulself bestuur tot sogenaamde ‘carebots’ vir bejaardes, verteenwoordig snelle vooruitgang in tegnologie reeds lankal ʼn potensiële bedreiging  vir baie beroepe wat normaalweg deur die menslike arbeidsmag uitgevoer word. Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees […]
Hoër salaris of korter pendelroete? Daar is ’n duidelike wenner
Amy Morin   Die glans van ’n groter salaristjek kan dit aanloklik maak om ‘n langer pendelroete te aanvaar. Dit is ’n dilemma waarvoor die meeste mense vroeër of later te staan kom. Hoeveel meer moet jy betaal word vir ’n pendelrit van ’n ekstra 30 minute? Hoeveel is jou tyd regtig werd? Jy is […]
1 2 3 51