Werke wat jou in die skeihof sal laat beland

Woensdag, Maart 9th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

‘n Obsessie met enige werk kan tot gesins- en huweliksprobleme en uiteindelik egskeiding lei, maar sommige werke sal weens hul veeleisende en stresvolle aard meer waarskynlik as ander tot egskeiding aanleiding gee.

So, voordat jy in 2016 met sterre in jou oë ‘n nuwe werk aanpak, dink daaraan of jy die lang ure en hoë eise van die professie met jou huwelik sal kan en wil balanseer. Dikwels is die prys net eenvoudig te hoog.

Kom ons kyk na enkele van die werke met hoë egskeidingsyfers:

 

Dansers en choreograwe

Die bekroonde skrywer en mediakenner, Barbara Bean-Mellinger, sê die egskeidingsyfer onder dansers en choreograwe, vermaaklikheidskunstenaars en ander kunstenaars is besonder hoog. Dit is omdat hulle kuns by hulle voorrang moet kry ten einde te kan vorder en suksesvol in hul bedrywe te kan wees. Oefening en optredes neem dikwels hierdie kunstenaars vir lang tye van die huis af en verorber waardevolle tyd wat saam met gades deurgebring kon word.

Ander faktore speel ook ‘n rol. Mellinger sê dansers het dikwels ‘n obsessie oor die voorkoms van hul liggame en oor hul gewig en dit kan ‘n diepgaande uitwerking op alle aspekte van hul lewens hê. Kreatiewe, kunstige tipes is in die algemeen ook meer sensitief en kan dikwels meer emosioneel op situasies reageer en ‘n spanningbelaaide atmosfeer skep.

Volgens ‘n studie in 2009, A comparison of law enforcement divorce rates with those of other occupations, wat in die Journal of Police and Criminal Psychology gepubliseer is, kom die hoogste waarskynlikheid van egskeiding onder dansers en choreograwe voor. Die studie het ook gemeld dat atlete ‘n hoë waarskynlikheid van egskeiding het.

Dansers en choreograwe, met ‘n egskeidingsyfer van byna 44%, is boaan ‘n lys van werke en egskeidingsyfers wat deur Business Insider opgestel is.

 

Versorgingsprofessies

Dit is eintlik vanselfsprekend. Sekere mediese professies – hospitaalverpleegsters, psigiaters, tuisverpleegsters en sommige tipes dokters – sal heel moontlik skei. Mellinger sê met so baie energie, tyd en emosie wat aan die versorging van ander mense bestee word, is daar baie min plek vir gades en ander familielede.

Nie net is hulle dikwels liggaamlik uitgeput as gevolg van die lang ure en eise van hul werk nie, maar hul werk eis ook ‘n groot emosionele tol. Dai Williams, ‘n bedryfsielkundige en lid van die British Psychological Society, sê in hierdie professies is stresvlakke hoog en die ruimte vir foute baie klein. Dit verklaar waarom ortopediese chirurge ‘n veel hoër egskeidingsyfer as oogkundiges en tandartse het.

 

Entrepreneurs

Mellinger sê entrepreneurs werk lang ure en hul besighede is hul hoogste prioriteit, veral in die beginjare. Daar is nie ‘n gewaarborgde inkomste nie en dit kan ook groot finansiële spanning op huwelike en gesinne plaas.

 

Gasvryheidswerkers

Die 2009-studie het ook getoon dat werkers in die gasvryheidsbedryf – soos kruiers, kroegmanne, masseerterapeute en portiere – ook waarskynlik van hul gades sal skei. Gasvryheidswerkers werk ongereelde ure en dit maak hulle meer vatbaar vir versoeking by die werk in die vorm van medewerkers en kliënte, sê Frank Lin, ‘n egskeidingsprokureur.

Kroegmanne, met ‘n egskeidingsyfer van 38,43%, is tweede op die Business Insider se lys.

 

 

Bronne:

 

Barbara Bean-Mellinger, “Tops 5 jobs with high chance of divorce”, Houston Chronicle, http://work.chron.com/top-5-jobs-high-chance-divorce-15865.html.

 

Gus Lubin, 28 September 2010, “The 15 jobs where you’re most likely to get divorced”, Business Insider, http://www.businessinsider.com/highest-divorce-rates-by-profession-2010-9.

 

Chris Blank, 21 June 2015, “Top five jobs with high chance of divorce”, Livestrong.com, http://www.livestrong.com/article/263455-top-five-jobs-with-high-chance-of-divorce/.

  •  
  •  
  •  
  •  
  • Hanno

    Solidariteit het die probleem dat hy lippediens betoon aan die Christelike geloof, maar geen konsekwente Bybelse Christus lewens-en-wêreldbeskouing openbaar nie, maar eerder ‘n valse misleidende hoofstroomkerklike humanisties-sielkundige lewensgrondslag.openbaar.

Ander Artikels

Mediese wetenskaplike: Wat behels dié beroep?
Karen van der Berg   Vir prof. Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van ʼn aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou. Prof. Walzl is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Maar wat behels ʼn mediese wetenskaplike se beroep? Vir hom […]
Wat behels ʼn beroep in die onderwys werklik?
Cyril Blackburn   Om ʼn onderwyser te wees, is ʼn edele beroep: Elke onderwyser het gedurende sy of haar loopbaan die geleentheid om ander te help ontwikkel en ʼn daadwerklike impak te maak sodat ʼn diverse groep leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Die onderwys is ongelukkig ook een van die beroepe met die meeste […]
Tegnologie sal baie dokters, prokureurs en ander vakkundiges vervang
Richard Susskind en Daniel Susskind   Teen die agtergrond van die bewering dat kunsmatige intelligensie (KI) en robotte sit en wag om die grootste deel van vandag se werkmag  te vervang, glo die meeste van vandag se hoofstroomvakkundiges ─ dokters, prokureurs, rekenmeesters, ensovoorts ─ dat hulle grootliks ongeskonde anderkant sal uitkom. Tydens ons konsultwerk en […]
1 2 3 55