Deur Marli Naidoo
Om te dink dat ʼn stewige handdruk nie te lank gelede nie genoeg was om die verkoop van ʼn stukkie grond of huis te beklink. Hierdie proses het mettertyd al hoe ingewikkelder geraak en eiendomsagente is nou noodsaaklik om al die dokumente en prosesse te hanteer. Hulle maak seker dat niks oor die hoof gesien word nie. Na gelang wetgewing verander en aangepas word, moet eiendomsagente sorg dat hulle ingelig en kundig bly.
Dit is belangrik dat jy huidige data bestudeer wanneer jy ʼn loopbaan in die eiendomsmark oorweeg. Daar het heelwat wysigings plaasgevind in die laaste paar jaar.
Om jouself as eiendomsagent te bekwaam in Suid-Afrika is ʼn vyfstap-proses.
- Doen aansoek by die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns. Die Wet op Eiendomspraktisyns het op 1 Februarie 2022 van krag geword en dit het die proses heelwat verander. Alhoewel baie veranderinge in die wet uiteengesit is, moet implementeringsriglyne nog vrygestel word. Maar volgens die wet blyk dit dat die eerste stap in die proses om ʼn eiendomsagent te word, is om aansoek te doen by die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns, wat die Eiendomsagentskapsakeraad vervang.
- Kragtens die nuwe wet sal voornemende agente nie meer verplig wees om die NQF4-eksamen te skryf nie en sal slegs die Professionele Aanwysingseksamen (PDE) moet skryf, wat jy nou kan doen voordat jy by ʼn agentskap aansluit. Hierdie eksamen kan in verskeie tale afgelê word, en kan ook mondeling gedoen word.
- Sluit by ʼn eiendomsagentskap aan. Jy kan dit doen voor of na jou suksesvolle aansoek by die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns, en voor of na jou registrasie en skryf van die PDE.
- Voltooi ses maande praktiese opleiding as ʼn kandidaateiendomsagent. Die praktiese opleidingskursus sal ʼn minimum van ses modules uitmaak, wat oor ʼn maksimum tydperk van ses maande voltooi moet word. Hierna sal jy nog ses maande toesig onder ʼn geregistreerde eiendomspraktisyn nodig hê voordat geen beperkings meer van toepassing sal wees nie.
- Sodra jy as ʼn eiendomsagent gekwalifiseer is, sal jy jaarlikse punte vir voortgesette professionele ontwikkeling moet verdien om aan te hou om jou Getrouheidsfondssertifikaat (FFC) te hernu. Dit gebeur via promosietoere en seminare wat regoor Suid-Afrika aangebied word oor relevante onderwerpe, waaronder nuwe wetgewing, veranderinge, opdaterings en wysigings. Dit help alle agente en prinsipale om op die hoogte te bly van voortdurend veranderende bedryfsregulasies met betrekking tot vaste eiendom en nuwe wette. Dit is ʼn vereiste om voort te gaan om as ʼn geregistreerde eiendomspraktisyn te werk.
Die eiendomsagent speel verskeie rolle in sy dagtaak. Hy moet kan wissel tussen verkoopspersoon, kopersadvokaat, ontleder, sakebestuurder, konsultant, onderhandelaar en bemarker, om maar ʼn paar te noem. Kliënte neem groot besluite, en dit kan soms moeilik en emosioneel wees. Die agent moet empaties en simpatiek wees en die kliënt met geduld en vertroue kan ondersteun. Hy moet dit geniet om met mense te werk, geїnteresseerd wees in argitektuur en huise, eerlik wees, en ʼn selfgemotiveerde entrepreneur wees.
Bronne
Kaplan: https://www.kapre.com/resources/real-estate/top-ten-traits-of-a-real-estate-agent/
REMAX: https://www.remax.co.za/ask-remax/article/5-steps-to-becoming-a-real-estate-agent-in-south-africa/
Private Property: https://www.privateproperty.co.za/advice/news/articles/how-to-become-a-real-estate-agent-in-south-africa/5756