Deur Wilma Bedford
Musiekterapie is die kliniese gebruik van musiek om emosionele en kognitiewe welstand, fisiese gesondheid en sosiale funksionering te bevorder.
Daar word al meer vanuit ʼn mediese oogpunt gekyk na musiekterapie vir verskeie geesteskwale en hoewel musiekterapie nog ʼn redelik seldsame beroep in ons land is, vereis dit strawwe en deeglike akademiese en praktiese studie en opleiding.
Wat doen ʼn musiekterapeut? ʼn Musiekterapeut het nie net ten doel om mense te help om hul pynlike herinneringe of intense emosies te verlig nie, maar ook om fisiese pyn te verlig en beweeglikheid by gestremdes te bevorder. Hulle assesseer emosionele welstand, fisiese gesondheid, sosiale funksionering, kommunikasievermoë en kognitiewe vaardighede deur response tot musiek waar te neem. Hulle ontwerp musiekterapie vir indiwidue of groepe deur die gebruik van musiek-improvisasie, deur kliënte en pasiënte na musiek te laat luister en te reageer deur musiek te skryf of lirieke te verander of eie lirieke te skryf wat die pasiënt se gemoedstoestand uitbeeld.
Vaardighede
Spanspeler. Jy moet met ander rolspelers soos psigiaters, en fisiese, spraak- en arbeidsterapeute kan saamwerk om die beste uitkomste vir jou kliënt te bewerkstellig.
Jy moet kreatief en ʼn probleemoplosser wees wat op sy/ haar voete kan dink en kan improviseer, veral wanneer met kinders gewerk word, om hulle te motiveer om sekere doelwitte te behaal.
Jy moet aanpasbaar wees en kennis dra van die nuutste onderrigtegnieke.
Jy moet geduldig wees en deursettingsvermoë hê, veral as jy met kinders met ʼn leergestremdheid soos outisme werk, om te verstaan hoe hulle die wêreld ervaar.
Jy moet ʼn hoë vlak van musikaliteit besit om te kan improviseer en musiek simbolies te kan gebruik en om emosies mee uit te druk.
Jy moet ʼn hoë vlak van empatie hê om jou kliënte se behoeftes te verstaan en hul na ʼn positiewe uitkoms te lei.
Met wie werk jy? Van kinders tot volwassenes, van breindisfunksies tot fisiese gestremdheid, van persone met akute tot chroniese pyn, persone met leerprobleme, breinskade, dwelmgebruikers, persone oud en jonk met geestesgesondheidskwessies, asook persone met dementia, byvoorbeeld Alzheimer se siekte.
Waar werk jy? Hoofsaaklik in hospitale, rehabilitasiesentra, versorgingseenhede, skole en privaat praktyke.
Jy kan in hospitale in samewerking met narkotiseurs, chirurge en terapeute werk om pasiënte te kalmeer, depressie te verlig, en beweging te bevorder vir rehabilitasie. Met bejaardes in versorgingseenhede word beoog om emosionele funksionering te bevorder en intellektuele stimulering te bied.
In psigiatriese hospitale poog jy om positiewe emosionele uitkomste te bewerkstellig en konflikhantering en probleemoplossing te bevorder.
Hoe kan jy ʼn musiekterapeut word?
In Suid-Afrika is musiekterapie nog ʼn relatiewe nuwe veld, maar as jy oorsee sou wou gaan werk, sal dit raadsaam wees om vooraf uit te vind wat die land van jou keuse se vereistes is waaraan jy moet voldoen om by spesifieke professionele verenigings of rade te registreer om te kan praktiseer.
Tans word ʼn twee-jaar nagraadse MA-kursus deur die Universiteit van Pretoria aangebied. Die toelatingsvereiste is ʼn honneursgraad in musiek of sielkunde of maatskaplike werk. ʼn Aanbeveling is een tot twee jaar se ondervinding in ʼn gesondheids-, onderwys- of maatskaplikewerkberoep. Die MA-studieprogram vereis 1500 uur se werk onder toesig by ʼn psigiatriese staatshospitaal. Na suksesvolle voltooiing van jou graad word jy geregistreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika (HPCSA) en kan jy wettig praktiseer.
Verlig stres so: In ons vinnige samelewing is ons meer geneig om na medikasie te gryp vir stresverligting, terwyl die goedkoopste en mees toeganklike oplossing binne ons bereik is, naamlik musiek.
Hoewel jy nie die dienste van ʼn musiekterapeut gaan inspan nie, kan jy van hul tegnieke gebruik om jouself en jou geliefdes se stres te verlig.
Musiek-improvisasie gee jou die geleentheid om met enige musiekinstrument of enige ander voorwerp,, byvoorbeeld kastroldeksels ʼn klank te maak wat die persoon se gevoel verteenwoordig of naboots. Hierdeur word herinneringe, gevoelens en opgekropte emosies blootgelê.
Met aktiewe luister is die doel om ʼn gemoedstemming te verander. Die persoon luister eers na musiek wat sy bui en gevoelens weerspieël en beweeg dan na meer positiewe en kalmerende musiek. Die doel hiermee is om nie altyd na dieselfde musiek met dieselfde ritme te luister en sodoende in ʼn musiekgroef te verval nie. Dit werk soos ʼn detoks en maak jou oop vir ʼn meer konstruktiewe perspektief oor dit wat pla. Neem kennis van jou huidige gemoedstoestand, aanvaar dit en beweeg dan met behulp van musiek na ʼn veranderde, positiewe en helende gemoedstoestand.
Skryf jou eie lirieke vir ʼn lied. Neem die struktuur, verse, koor van iets wat jy ken en skryf ʼn soortgelyke lied met jou eie gedagtes en emosies. Sodoende kry jy ʼn beeld van jou eie emosionele toestand en deel jy jou gevoelens op ʼn manier wat jou minder kwesbaar maak as om daaroor te praat. Jy kan ook een stap verder gaan en die choreografie vir ʼn bepaalde stuk musiek skryf.
Speel ʼn instrument. Om ʼn instrument te bespeel is soos om met ʼn goeie vriend te praat en kan negatiewe gedagtes en stres hokslaan, selfvertroue bou en ʼn uitdaging bied.
Probeer die dertien-minuutterapie. Navorsing deur die Britse Akademie vir Klankterapie (BAST) het bevind dat daar ʼn bepaalde dosis musiek is waarna ʼn persoon moet luister vir terapie.
Die beste musiek vir ontspanning is om vir dertien minute na musiek met ʼn stadige tempo, eenvoudige melodie en geen lirieke nie te luister, terwyl nege minute se vinnige musiek en positiewe lirieke mense opgewek laat voel en hulle hoër energievlakke ervaar.
Daar is verder bevind dat dertien minute se musiek met ʼn vinnige tempo fokus bevorder en musiek met lirieke waarmee mense kan identifiseer het mense minder oorweldig en hartseer laat voel.
Bronne:
Music as Medicine – The Musical Recommended Daily Allowance
https://www.britishacademyofsoundtherapy.com/musical-daily-allowance/
Music takes 13 minutes to ‘release sadness’ and 9 to make you happy, according to new study14 January 2022. Classic FM. https://www.classicfm.com/music-news/music-to-release-sadness-and-feel-happier-study/
Music’s Impact On Our Mental Health https://blog.meditopia.com/en/healing-power-of-music-how-does-music-affect-our-mental-health/
Oops! We could not locate your form.