Deur Wilma Bedford
Ten spyte van die tegnologiese wêreld waarin ons leef, is dit nog steeds menige jong mens se droom om ʼn veldgids of wildbewaarder te word. Hoe idillies dit mag klink, is dit ʼn nie altyd maanskyn en rose nie want dit verg ʼn baie spesiale persoon met ’n opregte liefde vir die natuur, wat uiteindelik ʼn suksesvolle beroep daarvan sal kan maak.
Vereistes en Opleiding
ʼn Kandidaat moet 18 jaar oud wees met minimum Graad 10 geslaag en registreer dan vir die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika (FGASA) se Vlak 1 opleidingskursus, wat ʼn jaar duur. Die eerste ses maande word grootliks aan teorie gewy wat boeke oor veld-, wild- en voëllewe behels, met ʼn finale eksamen wat ʼn minimum slaagsyfer van 75% vereis. Slegs kandidate wat dit slaag, kan voortgaan met hul praktiese opleiding. Dit verg lang, harde ure in die veld wat baie deursettingsvermoë gaan vereis. Laastens moet jy ʼn finale assessering slaag deur assessors wat jou veldkennis tot die uiterste toets. Slegs dan word jy afgeteken as ʼn suksesvolle FGASA Vlak 1 student.
Tesame hiermee moet kandidate ook in besit wees van die volgende sertifikate:
Gevorderde wapenhantering, Wildernis-noodhulp, Openbarevervoerlisensie, Spooridentifisering.
Vir verdere kwalifikasies en opleiding kan ʼn veldgids later selfs inskryf vir FGASA Vlak 2 (NQF4) asook die voetslaankursus, wat minstens 150 stap-ure as leerling en later as leier saam met ʼn opgeleide gids behels. Die kandidaat moet gedurende hierdie tyd ook verskeie assesserings slaag.
Die meeste opleidingsentrums poog om hulle student na voltooiing van die kursus uit te plaas na ʼn bestaande wildreservaat of lodge as ʼn leerlingveldgids, afhangende van die beskikbaarheid van poste. Nou begin die avontuur, maar om ʼn sukses daarvan te maak is die volgende vereistes en kenmerke van kardinale belang:
Dissipline. ʼn Veldgids se dag begin gewoonlik voor sonop om seker te maak die wildsvoertuig is gereed, koffie en oggendversnaperings is gepak, en jou gaste is wakker gemaak om gereed te maak vir die vroeë oggendrit, waarna jy gewoonlik ongeveer drie ure later by terugkeer ontbyt saam met hulle geniet. As jy dus nie ʼn vroegoggend mens is nie, is hierdie beroep nie vir jou nie.
ʼn Veldgids se werksiklus funksioneer normaalweg op ʼn siklus van ses weke aan diens en daarna twee weke af om jou batterye te herlaai. Indien jou lodge deur die jaar bykans vol bespreek is, kan om 35-40 dae aaneen met gaste te werk baie veeleisend word. Dit verg die hoogste graad van deursettingsvermoë en selfdissipline om jou gaste nie af te skeep nie.
Wees Gasvrou/heer. As veldgids hang jou gaste se avontuur grootliks van jou persoonlikheid, kennis en ervaring af. Hulle word in jou sorg geplaas vir die volle duur van hul besoek. Vanaf hul aankoms is die eerste kennismaking met en bekendstelling van al die fasiliteite jou werk. Ook tydens die wildritte en staproetes moet die veldgids seker maak dat sy gaste vooraf duidelik ingelig is oor al die reëls, asook die gevare wat hulle mag teenkom. Tydens etes en ontspanning om die kampvuur moet jy ook seker maak dat jou gaste gemaklik en rustig is; eers wanneer jy hulle veilig in hul wooneenheid besorg het, kan jy tot ruste kom.
Persoonlikheid. Die belangrikste eienskap hier is ʼn opregte liefde vir die natuur wat liefs reeds van kindsbeen gekweek is deur persoonlike wedervaringe in die veld en die bos. ʼn Veldgids moet ook ʼn spontane en ontspanne mens wees, wat sy gaste ten alle tye gemaklik en gelukkig laat voel. Hulle boservaring is grootliks in jou hande en jou ervaring van die veld word ook hul ervaring. Jy moet geduldig vrae beantwoord, al klink dit ook hoe vergesog. Gaste kan ook moeilik, beterweterig, veeleisend en ongeskik wees en jy moet soms konfrontasies kan ontlont en gaste met grasie kan hanteer.
Storieverteller. Deel jou boservarings en besigtigings met jou gaste, maar slegs op aanvraag; jou gaste het ook ʼn storie om te vertel, luister met aandag en belangstelling daarna, miskien leer jy iets by berese besoekers. Die beste tyd vir ʼn storie is om die kampvuur, tydens en na ete oor ʼn drankie. Tydens wildritte kan jy sekere hoogtepunte met hulle deel en hulle deel van jou ervaring maak.
Vergoeding. Alhoewel ʼn veldgids se salaris redelik laag gradeer is as gevolg van byvoordele soos gratis volle akkommodasie, kan hy sy vergoeding aanvul met fooitjies van sy gaste. ʼn Goeie veldgids verdien tot dubbel sy salaris in fooitjies aangesien die meeste van hulle buitelandse besoekers is wat met ons huidige valutakoers mildelik vergoed vir ʼn onvergeetlike boservaring. Die beste erkenning vir ʼn goeie veldgids is egter wanneer jou naam telkens op een van ons wêreldbekende lodges se reisadviseur verskyn, omdat JY dit vir jou gaste ʼn onvergeetlike ervaring gemaak het.
Bronne:
Field Guide Association of South Africa.
https://www.bushwise.co.za/fgasa-field-guide-course/
Onderhoud met praktiserende veldgids
Foto krediet: Sebastian Canaves | Unsplash
Oops! We could not locate your form.